Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel betaal nie, nou eis vakbonde koppe

Denel kon nie Vrydag ingevolge ’n hofbevel die agterstallige salarisse aan sy werknemers betaal nie en vakbonde gaan nou stappe doen om tronkstraf of groot boetes vir sowel die direksie as Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, te soek.

Denel se Rooivalk-aanvalshelikopter. Die direksie van Denel word deur ’n aanklag van minagting van die hof in die gesig gestaar omdat werkers teen Vrydag steeds nie hul salarisse ontvang het nie. Foto: Wikipedia

Die staat se wapentuigvervaardiger is Dinsdag op ’n aanlyn sitting van die arbeidshof in Johannesburg deur regter André van Niekerk beveel om teen Vrydag honderdmiljoene rand se agterstallige salarisbetalings te doen aan sy werknemers wat lede van die vakbonde Solidariteit en Uasa is.

Die vakbonde, wat die saak in die arbeidshof aanhangig gemaak het nadat werknemers laas in April hul volle salaris betyds ontvang het, is nou keelvol, en het nie net die direksie van Denel in hul visier nie, maar ook die departement van openbare ondernemings – en veral Gordhan.

Solidariteit het Vrydagmiddag bevestig dat hy om 11:07 ’n skrywe van Denel se prokureurs ontvang het waarin hy ingelig is dat geen betaling Vrydag gedoen kan word nie.

Netwerk24 het die skrywe onder oë gehad.

In slegs drie paragrawe dui Denel se prokureurs van ENS Africa, Afrika se grootste regsfirma, aan dat hulle “soos voorheen aangedui is” doodeenvoudig nie kan betaal nie.

Denel pleit hierin vir ’n week se uitstel om teen 14 Augustus op die laatste die betaling te doen.

Dit is om “stappe te kan doen” om die geld in te samel.

Denel se 3 800 werknemers verdien gesamentlik tussen R140 miljoen en R150 miljoen per maand.

In Mei het hulle net 20% van hul salarisse ontvang, in Junie tussen 40% en 60%, en Julie se salarisse is gedeeltelik in twee sarsies betaal. Aftrekkings vir mediese fondse, belasting en betalings aan die Werkloosheidsversekeringsfonds is ook gedoen, maar nie betaal aan die relevante owerhede nie. Hierdie betalings moet ingevolge die hofbevel nou ook gedoen word.

Volgens Denel is hy deurlopend in gesprek met die regering om die probleem te probeer oplos.

“Die aandeelhouer en die Denel-direksie werk deurentyd om die korttermynuitdagings waarmee die maatskappy worstel, op te los,” het Pam Malinda, woordvoerder van Denel, Vrydag gesê.

Helgard Cronjé, sektorkoördineerder vir lugvaart en verdediging van Solidariteit, het aan Netwerk24 gesê daar sal egter geen uitstel toegestaan word nie.

“Die skrywe is te vaag,” sê hy.

Solidariteit sou dit oorweeg het as daar enige aanduiding was oor wat presies met die regering onderhandel word sodat werkers betaal kan word, maar daar is “geen sulke bewyse verskaf nie”.

“Ons het geen ander keuse nie. Ons gaan aansoek doen (dat die betrokke partye) van minagting van die hof aangekla word.”

Volgens Cronjé gaan Solidariteit Gordhan tot die aansoek probeer voeg, aangesien die regering “nog niks gedoen het” om Denel se werkers te ondersteun nie.

As die aandeelhouer is die departement van openbare ondernemings verantwoordelik vir Denel, en Solidariteit meen dit maak Gordhan verantwoordelik vir die gesloer om geld te bekom om derduisende werkers by dié staatsonderneming te help.

Solidariteit is nog nie seker of hy vir tronkstraf of boetes sal vra in sy aansoek nie, maar albei word oorweeg, sê Cronjé.

Sam Mkokeli, woordvoerder van Gordhan, sê egter dit is niks meer as ’n aandagsoekery van Solidariteit nie – daar is geen manier dat Gordhan tot die saak gevoeg kan word nie.

“Hulle soek koerantopskrifte,” sê Mkokeli.

Gordhan was nie gelys as ’n respondent in Dinsdag se hofsaak wat deur Solidariteit en Uasa aanhangig gemaak is nie, slegs Denel en sy direksie.

Johan van Niekerk, afdelingshoof van Uasa, sê dit is net Solidariteit wat tans agter Gordhan aan is.

“Ons by Uasa het ’n baie beter verhouding met minister Gordhan,” sê Van Niekerk.

Uasa ondersteun wel die aansoek vir minagting van die hof teen die direksie van Denel.

“Ons is baie teleurgesteld, maar dis nie dat ons dit nie verwag het nie.”

Volgens Van Niekerk het hul gesprekke met Gordhan wel vrugte gedra.

Dit blyk dat daar reeds geld opsygesit is vir Denel se salarisrekening, asook vir van sy krediteure se eise, sê Van Niekerk, en Gordhan is besig om dit na die tesourie te neem vir goedkeuring.

Gordhan het blykbaar sy erewoord gegee dat geld beskikbaar gemaak sal word vir Denel.

“Maar al is dit die minister se erewoord, kan ons nie wag nie. Ons moet voortgaan met die aansoek van minagting van die hof.

“Ons lede verdien hul geld.”

Meer oor:  Denel  |  Staatsondernemings  |  Hofsaak  |  Salarisse  |  Reddingsboeie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.