Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel: ‘Geen waarborg’ vir salarisse in Julie
’n Uitstalling van Denel-tegnologie in Indië in April 2016. Foto: Rapport

Denel se 3 700 werknemers, wat Dinsdag slegs 85% van hul salaris ontvang het, is toe Vrydag volledig vergoed. Geen waarborg is egter gegee oor wat volgende maand sal gebeur nie.

Dit gaan glo afhang daarvan of daar nuwe kontrakte inkom in die volgende paar weke. 

Hannes Botes, ’n tegniese ambagsman wat al 36 jaar by Denel werk, het Vrydag aan Netwerk24 bevestig die oorblywende deel van sy salaris is Vrydagoggend “eerste ding” inbetaal, soos belowe is.

Maar volgens Botes het Danie du Toit, uitvoerende hoof van Denel, aan werknemers gesê daar is tans nie geld vir volgende maand se salarisse nie.

Denel het Dinsdag, op betaaldag, uit die bloute sy werknemers ingelig daar is nie genoeg geld beskikbaar om hul salarisse volledig te betaal nie.

Dit was die eerste keer dat Denel versuim het om salarisse ten volle en/of betyds te betaal.

Werknemers met wie Netwerk24 gepraat het, was veral geskok omdat hulle nie vooraf gewaarsku is nie. Botes was een van diegene wat as gevolg hiervan nie genoeg geld in sy rekening gehad het om sy aftrekorders te dek nie.

Lees ook: Denel: Werknemers praat oor skok oor salarisse

Teen Dinsdagaand het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede aangekondig dat ’n lener na vore gekom het om Denel te help om die salarisse betaal.

Botes sê hy is bly die geld is toe soos beloof betaal, maar hy bly bekommerd.

Hy sê Du Toit het op ’n vergadering aan werknemers gesê daar is hoegenaamd geen waarborg dat salarisse volgende maand ten volle betaal sal kan word nie.

Botes het Du Toit geprys vir sy eerlikheid en integriteit om nie leë beloftes te maak nie.

“As die kontrakte inkom, is daar volgende maand salarisse,” het Du Toit volgens Botes gesê.

Botes en ander werknemers met wie Netwerk24 gepraat het, is vol lof vir Du Toit en sê die nuwe uitvoerende hoof, wat op 14 Januarie ingeval het, doen uitstekende werk om die jare lange wanadministrasie en gevolge van staatskaping reg te stel.

“Maar mnr. Du Toit het ’n glas wyn met gif in gekry,” sê Botes.

Denel is tans die enigste staatsonderneming wat op groot skaal afdelings sluit, privatiseer en werkers aflê.

Du Toit het aan Netwerk24 gesê sowat 260 werkers het reeds vanjaar skeidingspakkette aanvaar.

Hy sê Denel se herstruktureringsplan is op koers en dat die maatskappy reggeruk sál word. Maar vir minstens die volgende twee tot drie maande sal daar nog beduidend gesukkel word.

Ons hoop nou net mnr. Gordhan en mnr. Ramaphosa gee ons die ondersteuning wat ons nodig het.

Denel sit met ’n mediumtermynbestelboek ter waarde van sowat R40 miljard te danke aan sy pogings om slegs op doeltreffende kontrakte en afdelings te fokus.

Intussen kort die wapentuigvervaardiger ’n minimum van R2,8 miljard van die staat af om behoorlik voor die einde van die jaar te kan herkapitaliseer.

“Ons hoop nou net mnr. Gordhan en mnr. Ramaphosa gee ons die ondersteuning wat ons nodig het,” sê Botes.

“Mnr. Du Toit doen sy bes, en die maatskappy is goed. Hulle moet ons help.”

Hoewel Botes probeer om nie moedeloos te word nie, is hy toenemend bang vir die toekoms.

“Toe ek nou die dag deur Pretoria ry en die haweloses sien, en dink aan hoe hulle tans so vermoor word, het ek myself probeer herinner dat ons gelukkig is om darem nog ’n werk te hê.

“Maar die waarheid is, ons (ambagslui by Denel) is eintlik altyd slegs die wanbetaling van twee salarisse weg van dié lot.

“Met die eerste een verloor jy jou kar. Met die tweede een jou huis.

“Met die Here se genade kom ons dalk nog hier deur.”

Meer oor:  Denel  |  Staatsinstellings  |  Maatskappye  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.