Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel: Is die einde in sig?

Denel se oorlewing hang aan ’n draadjie en hy is die eerste domino in ’n lang ry wat, as hy val, ’n hele bedryf en talle staatsondernemings met hom kan saamvat.

’n Rooivalk-aanvalshelikopter van Denel. Foto: Military-Today

Sy voorsitter sê die regering moet pa staan, maar dis onduidelik of dit wel gaan gebeur.

Gloria Serobe, waarnemende voorsitter van Denel nadat die vorige voorsitter saam met talle direkteure bedank het, het Woensdag gesê Denel gaan sonder twyfel nog ’n reddingsboei moet kry.

“Ons kan nie deur middel van handel dryf uit hierdie finansiële posisie kom nie,” het Serobe herhaaldelik aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê.

Die komitee het gehoor dat Denel onder meer insolvent is, versuip in skuld van sowat R3,2 miljard, dat sy inkomste voortdurend krimp en dat hy in die 2019-’20-boekjaar ’n verlies van R1,962 miljard gely het.

Ons wil nie die pad loop wat ons met die SAL geloop het nie... Dudu Myeni is vandag ’n misdadige direkteur. Ek is seker jy wil nie ook verklaar word tot ’n misdadige direkteur nie.
Alf Lees van die DA aan Gloria Serobe

Dit bring die kumulatiewe verlies van die maatskappy oor die afgelope drie jaar op R4,4 miljard te staan.

Denel het vir ’n derde opeenvolgende jaar ’n afwysende ouditmening ontvang terwyl hy nog die geplunder van 2015 tot 2018 in sy state probeer kwantifiseer.

Net ’n reddingsboei kan Denel red

Carmen la Grange, finansiële hoof, sê Denel oorskry sy bates al jare lank en skuld is nou al manier hoe hy homself aan die gang hou.

Maar skuld raak al hoe moeiliker om aan te gaan.

Gloria Serobe, voorsitter van die Solidariteitsfonds en waarnemende voorsitter van Denel.

Serobe het minstens vier keer aan Skoor gesê die enigste manier waarop Denel sal oorleef, is as hy nog reddingsboeie van die staat kry.

Alf Lees, DA-LP, het daarop gewys dat die nasionale begroting klaar ter tafel gelê is en dat geensins vir reddingsboeie vir Denel begroot is nie.

Die enigste manier dat Denel ’n reddingsboei kan kry, is as Tito Mboweni, minister van finansies, dit in sy mediumtermynbegrotingsrede in Oktober sou aankondig.

“Die voorsitter (Serobe) het herhaaldelik beklemtoon dat Denel nog reddingsboeie kort om te oorleef, maar hierdie reddingsboeie is nie op pad nie.

“Selfs al kom dit in Oktober, sal dit eers teen 2022 uitbetaal kan word,” het Lees gesê.

Sy vraag was dus hoe die direksie Skoor kan gerusstel dat Denel nog ’n lopende saak is wat nog minstens 12 maande in bedryf kan bly sonder om gelikwideer te word.

Serobe se antwoord was nie vir Lees of die komitee bevredigend nie.

“In die 2019-’20-boekjaar was ons nog ’n lopende saak,” het sy gesê.

Sy het verduidelik dat Denel teen einde Julie 2021, wanneer sy finansiële resultate vir die 2020-’21-boekjaar afgehandel is, die saak sal heroorweeg.

Dryf Denel roekeloos handel?

“As dit nie nou, op dié oomblik, ’n lopende saak is nie, dan is julle mos besig om roekeloos handel te dryf,” het Lees geantwoord.

“Om die saak tot Julie uit te stel, is nie in pas met die Maatskappywet nie.”

Alf Lees, DA-LP, maan dat Denel die pad van die SAL kan stap.

Die direksie moet te alle tye weet of die onderneming nog ’n lopende saak is, volgens Lees.

“Ons wil nie die pad loop wat ons met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) geloop het nie. Dit het geëindig met die onderneming wat nié ’n lopende saak was nie terwyl die voorsitter, Dudu Myeni, volgehou het dit was. Sy is vandag ’n misdadige direkteur.

“Ek is seker jy wil nie ook verklaar word tot ’n misdadige direkteur nie,” het Lees aan Serobe gesê.

Serobe, ’n suksesvolle sakevrou, is onder meer voorsitter van die Solidariteitsfonds en sy sal haar ganse loopbaan verloor as sy tot misdadige direkteur verklaar sou word.

Toe Bheki Hadebe, ANC-LP, reguit vra of Denel nie roekeloos handel dryf nie, het Serobe op die gevaar van so ’n vraag gewys.

“Dit is ’n gevaarlike vraag hierdie. Dit kan paniek veroorsaak.”

Volgens haar kan so ’n vraag daartoe lei dat Denel se krediteure hul skuld oproep en dat Denel dan wanbetaal op sy aansienlike skuldlas. Maar dit sou dan heel waarskynlik ook daartoe lei dat ander staatsondernemings se krediteure ook hul skuld oproep, wat dan ’n domino-uitwerking van wanbetaling deur talle ander staatsondernemings sal hê.

Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van Skoor, was uiters ontsteld oor Serobe se antwoord en haar “implikasie” dat sy nie hou van die vrae wat Skoor vra nie.

“Hierdie entiteit het ineengestort.” Hy het haar gewaarsku om nie doekies om te draai nie.

Denel is gebroke, ons almal weet dit. Maar eers toe ons opdaag by Denel, het ons gesien hoe ernstig gebroke dit eintlik is.
Gloria Serobe

“Ons vraag is legitiem. Die direksie behoort nie verdedigend op te tree nie!”

Serobe het hierop gesê op die oomblik beskou die direksie Denel nog as ’n lopende saak en dit sal weer in Julie daaroor besin. Sy kon egter nie sê op grond waarvan die direksie dink Denel is nog ’n lopende saak nie.

Denel ‘is belangrik vir SA’

Serobe het by Skoor gepleit om begrip. Die huidige direksie probeer al sedert hul aanstelling in 2018 ’n omkeerplan bewerkstellig wat Denel weer volhoubaar sou kon maak.

Maar die gat waarin hy nou is, is reeds voor hul aankoms gegrou.

“Ons is nog net drie jaar aan die stuur, waarvan meer as ’n jaar in die middel van ’n pandemie was,” het sy gesê.

Die geplunder van Denel onder die vorige direksie is amper heeltemal gestaak. Sedert die aankoms van die nuwe direksie in April 2018 het verkwistende besteding met 80% gedaal.

Maar die likiditeitskrisis waarin Denel tans is, is net te ernstig dat die onderneming bloot met ’n omkeerplan reggeruk kan word.

“Ons kan alles verkoop wat ons het, en ons sou steeds staatsondersteuning nodig hê.

“Denel is gebroke, ons almal weet dit. Maar eers toe ons opdaag by Denel, het ons gesien hoe ernstig gebroke dit eintlik is.”

Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings, het beklemtoon dat indien Denel vou, sal dit nie net hy wees wat ondergaan nie.

Benewens die risiko dat wanbetaling na ander staatsondernemings uitbrei, vorm Denel die kern van Suid-Afrika se verdedigingsvermoë.

“Die strategiese belangrikheid van Denel kan nie oorbeklemtoon word nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Denel  |  Alf Lees  |  Wapenvervaardiger  |  Staatskaping  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.