Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel is kniediep in die knyp

As jy gedink het jy het ’n slegte week by die werk gehad, hou ’n bietjie simpatie vir die werkers van Denel oor: Nie net is van hulle nie hul volle salarisse betaal nie, die maatskappy is só kniediep in die knyp dat hulle nie meer toiletpapier kan aankoop nie.

Jy kan vergeet om jou eie middagete in te pak, maar moet asseblief nie die toiletpapier vergeet nie - nie as jy by Denel werk nie. Foto: iStock

Denel het Woensdag in ’n memorandum aan bestuurders, getiteld “Delikate tekort: Toiletpapier”, gesê die geldelike situasie is nou so beroerd dat selfs enkellaagtoiletpapier buite die kwessie is.

“Ons sal die besluit heroorweeg wanneer die situasie verbeter,” lui die memorandum.

Bestuurders word versoek om “reëlings” te tref vir hul werkers se basiese behoeftes.

Denel het Dinsdag geraap en skraap om salarisse te betaal. Bestuurders en spesialiste moes met 15% minder tevrede wees en uitvoerende bestuur met 20% minder sodat die salaristjeks nie hop nie.

Die rantsoenering moes plaasvind sodat die werkers wat die minste verdien, 100% van hul salarisse kon ontvang.

Solidariteit het reeds aan Denel kennis gegee dat hy die arbeidshof gaan nader om dié besluit uit te daag.

Willie Venter, Solidariteit se sektor-koördineerder in die wapenbedryf, sê die hofsaak sal eers op 14 Oktober voor ’n regter kan dien.

“Tot op hede was daar nog nie eens ’n boodskap van die uitvoerende bestuur aan die personeel oor wat aangaan nie – ook nie of daar selfs ’n soortgelyke of groter probleem met die salarisse vir Oktober en vorentoe gaan wees nie.

“Sonder jaarverslae, finansiële state of enige uitslae van die forensiese ondersoeke by Denel is die kanse skraal dat daar veel hoop op finansiële redding kan wees. Dit is onafwendbaar dat iemand ’n drastiese besluit moet neem en gou ook.”

Ons herhaal dat ons bestelboek stewig is en dat daar verskeie sakemoontlikhede in die toekoms wink.
Vuyelwa Qinga, woordvoerder van Denel

Venter sê die vergoeding en boetes waarvoor hulle die hof vra, kan nog ’n verdere las op Denel plaas terwyl hulle dit kon vermy deur net met hul lede te konsulteer.

Vuyelwa Qinga, woordvoerder van Denel, sê die kennisgewings oor die verminderde salarisse was so laat omdat Denel gewag het vir betalings van kliënte om te weet hoeveel geld in die rekening is vir salarisse.

Sy sê die arbeidshofaansoek “geniet aandag”. “Denel werk saam met die departement van openbare ondernemings en die tesourie om binnekort ’n toepaslike oplossing te vind. Ons herhaal dat ons bestelboek stewig is en dat daar verskeie sakemoontlikhede in die toekoms wink.”

Rapport het verlede week berig dat Denel met konsultasies begin het oor personeelvermindering, vrywillige skeidingspakkette en verminderde werksure.

Luidens ’n memorandum van Solidariteit aan sy lede is dít nodig omdat die tesourie weier om ’n verdere reddingsboei van R1 miljard aan die wapenvervaardiger te gee. Die tesourie dring daarop aan dat Denel bates verkoop en ’n private vennoot kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.