Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel kan wéér nie volle salarisse betaal

Nadat hy amper aan minagting van die hof skuldig bevind is oor agterstallige salarisbetalings, kan die staat se wapentuigvervaardiger opnuut nie werknemers se volle salarisse betaal nie.

’n Rooivalk-aanvalshelikopter wat deur Denel vervaardig word. Foto: Denel

In interne kommunikasie aan alle werknemers van Denel Dynamics wat Netwerk24 gesien het, sê Sello Ntshihlehle, uitvoerende hoof van Denel Dynamics, dat hy waarskynlik nie April se salarisse betyds gaan betaal nie.

Die staatsonderneming sê sy likiditeitskrisis duur voort.

Volgens Pam Malinda, woordvoerder van Denel, is veral Denel Dynamics se kontantposisie ’n probleem.

Elke afsonderlike afdeling van Denel is destyds finansieel onafhanklik gemaak van die moedermaatskappy Denel self.

Dit beteken elke afdeling moet sy kontantvloei self behartig.

Denel Dynamics, wat hoofsaaklik missiele, onbemande vliegtuie en ruimtetegnologie vervaardig, is een van die staatsonderneming se grootste afdelings.

Ntshihlehle sê in sy brief aan werknemers dat Maart se salarisbetalings reeds agterstallig is, en dat dit onseker is wanneer dit betaal sal word.

Maar Denel Dynamics doen steeds ’n beroep op werknemers om skouer aan die wiel te sit aangesien daar enorme kontrakte aan buitelandse kliënte is wat voltooi moet word om inkomste vir die maatskappy te genereer.

Ntshihlehle verduidelik dat hulle verwikkel is in gesprekke met kliënte vir die betaling van ’n kontrak wat byna klaar is.

Lewering van die bestelling sal verseker dat salarisse betaal kan word.

Denel betaal al sedert April 2020 net gedeeltelike salarisse en was dikwels laat daarmee.

Malinda sê selfs Denel se hoofkantoor betaal tans net gedeeltelike salarisse.

Die SAUK berig salarisse word as volg betaal:

  • Werknemers met salarisse van bo R1 miljoen per jaar kry 40%;
  • Diegene wat tussen R250 000 en R1 miljoen verdien, kry 50%; en
  • Dié met salarisse van minder as R250 000 per jaar ontvang wel 100% van hul salarisse.

Die vakbond Solidariteit het onlangs daarin geslaag om Denel onder geregtelike hersiening te plaas.

Dit het gevolg op talle hofsake om die staatsonderneming te dwing om agterstallige salarisse te betaal.

Ingevolge ’n hofbevel het die vakbond reeds daarin geslaag om agterstallige salarisse ter waarde van R12,7 miljoen te begin invorder vir sy en die vakbond Uasa se lede vir die periode van Mei tot Julie 2020.

Die balju is tans besig om bates op te skryf vir ’n veiling.

Solidariteit het vroeër aan Netwerk24 gesê dat hy reeds voorberei vir sy volgende regstryd met die beleërde wapentuigvervaardiger om agterstallige salarisse vir die periode van Augustus 2020 tot nou te begin invorder.

Tot dusver het die vakbond sy lede aangemoedig om aan te hou werk.

Denel moet ingevolge ’n uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria teen Julie kom verslag doen aan die hof oor hoe hy sy omkeerplan bewerkstellig sodat agterstallige salarisse ingehaal kan word.

Malinda sê tans is daar doodeenvoudig “geen geld nie”.

Die bestuur van Denel was Woensdag in gesprekke met die regering vir ’n hulppakket, maar die staat het al vantevore aangedui dat geen verdere reddingsboeie op pad is nie.

Solidariteit reken die omkeerplan is haalbaar.

Die vakbond dink met die regte bestuur en sy noue samewerking kan Denel nog gered word en werknemers se vergoeding verseker word.

Vir hoe lank werknemers egter nog kan vasbyt, bly onduidelik.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel Dynamics  |  Denel  |  Verdediging  |  Salarisse  |  Reddingsboeie  |  Vakbonde  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.