Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel kort reuse-reddingsboei, meen regering

Denel kan nie voortbestaan of sy verantwoordelikhede teenoor Armscor nakom sonder ’n reuse-reddingsboei van die staat nie, meen Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane.

Denel se kantoor in Pretoria. Foto: Reuters

“Dit is duidelik dat sonder ’n beduidende reddingsboei Denel nie kan voortbestaan in sy huidige vorm nie en sal hy nie meer in ’n posisie wees om sy kontraktuele verpligtinge teenoor Armscor na te kom nie,” sê Mapisa-Nqakula.

Suid-Afrika se verdediging is dus ook nou ter sprake.

Dit kom kort op die hakke van Talib Sadik, waarnemende uitvoerende hoof van Denel, se uitlating dat Denel nie meer reddingsboeie sal aanvra nie.

Volgens Sadik sou dit ’n morele dobbelspel wees om nog reddingsboeie aan te vra sonder dat Denel homself probeer regruk.

Maar Denel kon al sedert Mei nog net gedeeltelik salarisse aan sy meer as 3 000 werknemers betaal, en baie kontrakte is agter of gekanselleer.

Die DA meen dat Denel se enigste uitweg nou sakeredding is.

Die staat se wapentuigvervaardiger het in 2019 R1,8 miljard van die staat ontvang as reddingsboei, en nog R576 miljoen is vir 2020 beloof wat in sarsies betaal sal word.

Ghaleb Cachalia, DA-LP, sê Maandag in ’n verklaring dat Denel R3,4 miljard se skuld het wat vandeesmaand betaalbaar word met geen aanduiding dat hy dit kan bekostig nie.

Hierdie skuld is ook deur die staat gewaarborg.

Mapisa-Nqakula sê dat Armscor sowel as die departement van verdediging “alternatiewe opsies” ontwikkel het met betrekking tot die toekoms van Denel, wat “besluitnemers in die regering” nog moet oorweeg.

“Byna elke versoek van die DA om ’n bespreking van omkeerplanne of alternatiewe opsies met die waarnemende uitvoerende hoof in die parlement te voer, is egter skynbaar deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, geblokkeer.

“Sodoende word Suid-Afrikaners in die duister gelaat oor hierdie mislukte staatsonderneming,” sê Cachalia.

“Die lys van mislukkings is lank en die skrif is ooglopend aan die muur: nog ’n SOE in ’n doodspiraal, die gevolg van staatsinmenging, wanbestuur, plundering, staatskaping en histories onverdedigbare kaderontplooiing op bestuursvlak.

“Die impak op nasionale verdediging en die fiskus van die vernietiging van ’n maatskappy wat eens ’n wêreldwye tegnologieleier was en een van die topverdedigingsondernemings in die Suidelike Halfrond, moet aan die regering se voete gelê word.”

Meer oor:  Denel  |  Staatsondernemings  |  Sakeredding  |  Reddingsboeie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.