Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel kry ’n nuwe direksie
Monhla Hlahla

Monhla Hlahla, voorheen uitvoerende hoof van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), is as nuwe tussentydse voorsitter van Denel aangestel, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Maandagmiddag aangekondig.

Gordhan het Maandag op ’n mediakonferensie by Denel se kantore in Irene gesê die staatsbeheerde wapenmaatskappy het in die verlede ’n goeie reputasie gehad, maar hy het dit verloor.

Die eerste taak van die nuwe direksie is om onder meer gesonde korporatiewe bestuur by Denel te herstel, die doeltreffendheid van die bestuurspan te hersien asook om groot kontrakte te hersien, het Gordhan gesê.

Hy sê in die komende weke gaan hy ook die direksies en bestuurspanne van ander staatsondernemings onder sy toesig bekyk om te verseker hulle slaan ’n nuwe rigting in.

’n Aankondiging oor ’n nuwe direksie by Denel was te wagte nadat Daniel Mantsha in Maart as voorsitter van Denel bedank het.

Malusi Gigaba, vorige minister van finansies, het in Februarie reeds aangedui Denel is die volgende staatsonderneming wie se direksie hersien moet word.

Denel lewer van die rompkomponente vir Airbus se A400M militêre vragvliegtuig. Denel lewer skaars 1% van die wêreld se wapentuig. Foto: DENEL

Zwelakhe Ntshepe, uitvoerende hoof van Denel, het in Januarie aan die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê die maatskappy is in ’n likiditeitskrisis en het nog nooit “ernstige geld” gemaak nie.

Odwa Mhlwana, finansiële hoof van Denel, het in Februarie voor dieselfde komitee gesê Denel het ’n kontantvloeikrisis terwyl van sy bedrywighede soos die PMP-ammunisiefabriek dringende opknappings benodig.

Terwyl Denel in ’n hoëtegnologiebedryf is waar voortdurend geïnvesteer moet word in navorsing en ontwikkeling om aan die voorpunt van die mark te bly, het hy gewoon nie die geld daarvoor nie. Sy totale kapitaalinvestering van R158 miljoen in 2016 tot R63 miljoen in 2017 gekrimp.

Die ander lede van die tussentydse direksie:

Zoli Kunene: Hy het voorheen ook al in die Denel-direksie gedien en was van 1980 tot 1984 voorsitter van Saab Grintek. Hy is tans hoof van Kunene Bros. Holdings.

Prof. Tshilidzi Marwala: Hy is vise-kanselier van die Universiteit van Johannesburg en was direkteur van EOH Holdings. Hy is tans ook ’n direkteur by Statistieke Suid-Afrika en die Staatsinligtingstegnologie-agentskap.

Genl. T.T. Matanzima: Hy is ’n beroepsoldaat en het in verskeie rolle in die Weermag gedien.

Gloria Serobe: Sy is ’n stigterslid van die vrouebemagtigingsgroep Wiphold en is uitvoerende hoof van Wipcapital. Sy is voorsitter van Adcorp.

Talib Sadiq: Hy is finansiële hoof van Basil Read en het ook voorheen al in Denel se direksie gedien. Hy is ’n geoktrooieerde rekenmeester.

Sue Rabkin: Sy is ’n voormalige spesiale adviseur vir die minister van verdediging.

Dr. Sibusiso Sibisi: Hy is hoof van die Wits-sakeskool en was hoof van die WNNR.

Cheryl Carolus: Sy is tans voorsitter van Peotona Holdings en was voorheen voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, was ’n vorige hoof van SA Toerisme en Suid-Afrika se hoëkommissaris in Londen.

Nonzukiso Siyotula: Sy is ’n direkteur van Growthpoint en was voorheen hoof van Thebe Capital.

Thami Magazi: Hy is ’n topbestuurder by Business Connexion en het ’n B.Sc in sake-administrasie en ’n MBA.

Martin Mnisi: Hy is ’n prokureur en direkteur van die regsfirma Mncedise Ndlovu & Sedumedi. Hy was voorheen ’n dosent in sake- en handelsreg by die Universiteit van Johannesburg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.