Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel kry tot Desember vir agterstallige lone

Die wapenvervaardiger Denel moet nou teen 3 Desember alle uitstaande salarisse vir Mei, Junie en Julie betaal aan die vakbond Solidariteit se lede wat by Denel werk.

onbemande tuig
Die Seeker II- onbemande observasietuig van Denel wat vir die uitvoermark vervaardig word. Foto: Denel

Dit is ingevolge ’n tussentydse hofbevel wat die arbeidshof Vrydag toegestaan het.

Dit kom nadat Solidariteit ’n dringende aansoek ingedien het ingevolge ’n klag van minagting van die hof, nadat Denel ’n vorige hofbevel van 4 Augustus geïgnoreer het.

Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit, sê die vakbond verwelkom die hof se gunstige bevinding.

“Denel het nie aan die hofbevel van 4 Augustus gehoor gegee nie en het geen betalings ingevolge die hofbevel gedoen nie. Solidariteit het dus geen ander keuse gehad nie as om die hof te nader om die bevel af te dwing.”

Solidariteit sê hy is nou besig om lasbriewe van eksekusie uit te reik.

Denel moes ingevolge die vorige hofbevel teen 7 Augustus al sy uitstaande kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor Solidariteit-lede wat in sy diens is, nakom. Dit het die betaling van alle uitstaande salarisse vir Mei, Junie en Julie ingesluit.

“Dit is belaglik dat lojale werknemers, selfs ná ’n hofbevel in hul guns, steeds vir Denel se misdrywe en wanbestuur van die verlede moet boet. Solidariteit kon dit nie toelaat nie en het die hof genader om die hofbevel te laat afdwing om Denel op dié manier verantwoordelik te hou vir die nakoming van sy verpligtinge,” het Cronjé in ’n verklaring gesê.

Denel het ten tyde van publikasie nog nie op versoeke om reaksie op die hofbeslissing gereageer nie.

Die kredietgraderingsagentskap Fitch Ratings het die afgelope week gewaarsku Denel is baie naby aan bankrotskap. Dit is toe hy Denel se langtermyneffekte tot vlak CC afgegradeer het.

Die afgradering weerspieël Denel se erg gespanne likiditeitsposisie en die afwesigheid van tydige staatsteun, het Fitch gesê.

Denel het in die boekjaar tot Maart ’n verlies van R1,7 miljard gely, volgens ongeouditeerde syfers wat aan die lig gekom het.

Solidariteit het ’n week gelede aangedui hy gaan beslag lê op roerende bates van Denel sodat R22 miljoen in agterstallige salarisbetalings vir sy en die vakbond Uasa se 1 368 lede by Denel bekom word.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Uasa  |  Wapenvervaardiger  |  Vakbonde  |  Staatsondernemings  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.