Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel-lening was wettig, sê Gordhan

Die R290 miljoen wat die Johannesburgse munisipaliteit aan Denel geleen het, was wettig, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings in ’n geskrewe antwoord op parlementêre vrae geskryf, berig Fin24.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Die lening, wat die vorige ANC-beheerde administrasie uitgereik het, was ’n doring in die vlees van Herman Mashaba, wat in 2016 die DA-burgemeester van die stad geword het.

Die ongesekureerde lening moes in Junie terugbetaal gewees het. Denel het die metro egter ingelig dat hy dit nie kan doen nie.

Rapport het onlangs berig dat Denel so diep in die knyp is dat werknemers gevra is om hul eie toiletpapier werk toe te bring.

Mashaba wou Denel laat likwideer ten einde die geld te probeer invorder, maar Gordhan het hom glo versoek om dit nie te doen nie.

Gordhan het in antwoord op ’n vraag deur Willie Madisha, Cope-LP, gesê die tesourie en departement van openbare werke het in 2007-’08 goedkeuring vir die uitreiking van mediumtermynskuldnotas ter waarde van R2,2 miljard gegee. Dit het gesekureerde en ongesekureerde elemente bevat.

Die betrokke lening is op 4 September 2012 deur Denel se direksie goedgekeur. Dis by die JSE geregistreer.

Die lening is beding deur Regiments Capital, ’n beleggingsfirma wat bande met die omstrede Gupta-familie het.

Gordhan het in ’n brief aan Mashaba gesê die regering oorweeg ’n hulppakket aan Denel, maar die besonderhede daarvan sal eers in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) bekend gemaak word, het City Press berig.

Tito Mboweni, nuwe minister van finansies, dien Woensdag die MTBR by die parlement in. Ander staatsondernemings wat kontantvloeiprobleme het, is die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Eskom.

Denel se werknemers is op hete kole omdat die maatskappy waarskynlik nie salarisse sal kan betaal nie. Verskeie senior werknemers is nie in September betaal nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het in April ’n nuwe direksie by Denel aangestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.