Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel ly verlies van R1,7 mjd., maar baas kry bonus

Denel het in die afgelope finan­siële jaar ’n astronomiese verlies van R1,7 miljard gely én moes sy verklaarde winste van vorige jare afwaarts aanpas.

Zwelakhe Ntshepe, voormalige uitvoerende hoof van Denel.

Boonop het die ouditeur-generaal (OG) geweier om ’n ouditmening te gee sonder ’n vrywaring. Dit beteken die OG verskaf geen waarborg dat die state korrek is nie.

Denel het in die 2017- finansiële state, wat afgeteken is deur Daniel Mantshe, destydse raadsvoorsitter en oudpres. Jacob Zuma se huidige prokureur, ’n wins van R333 miljoen verklaar.

Dié is nou aangepas tot ’n wins van R283 miljoen.

Denel het die 30 September-spertyd vir sy finansiële state misgeloop, maar dit die afgelope Donderdag gepubliseer.

Die benarde situasie van Denel het egter nie bonusse verhoed nie. 

Die geskorste finansiële hoof, Odwa Mhlwana, se vergoeding vir die jaar was R7 miljoen, waarvan R3,2 miljoen ’n eenmalige betaling was.

In dié tyd het Denel reeds weens geldelike probleme nie meer van sy verskaffers betaal nie.

Mhlwana het selfs meer as Zwelakhe Ntshepe, voormalige uitvoerende hoof, verdien.

Volgens André Prakke, ’n forensiese ouditeur, is dit duidelik uit die state dat Denel nie naastenby genoeg kontant genereer het nie en slegs met lenings staande bly.

In verlede week se mediumtermynbegrotingsraamwerk het die minister van finansies, Tito Mboweni, Denel se staatswaarborg met R1 miljard verhoog, maar geen kontant belowe nie.

Badger-gevegsvoertuie

Denel se Badger-pantservoertuig. Foto: Deaan Vivier

Een van die grootste plaaslike projekte wat geld moes inbring, is Projek Hoefyster, wat die vervaardiging van nuwe Badger-gevegsvoertuie vir die weermag ter waarde van R9,4 miljard behels.

Luidens Donderdag se finansiële verslae het dié projek weens “tegniese probleme” nou geglip sodat die eerste 88 van die voertuie waarskynlik op die vroegste teen 2022 gelewer kan word.

’n Nuwe herbeplanningsprogram word tans met die departement van verdediging onderhandel. Dié program is reeds sedert 2005 in beplanning en die ontwikkelingsfase reeds in 2010 afgehandel. Teen 2022 sal die nuwe tegnologie wat vir die Badger beoog is, dus reeds bykans 20 jaar oud wees.

Land Mobility Technologies

Denel het luidens die verslag ’n lening van R314 miljoen aan Land Mobility Technologies (LMT) afgeskryf. Denel het die meerderheid aandele in LMT bekom juis omdat dié vervaardiger glo grootliks by die vervaardiging van die Badger betrokke sou wees.

Sedert 2016 is dié werk egter aan die nou omstrede VR Laser oorgegee nadat Gupta-vennote dié maatskappy oorgeneem het.

Die minderheidsaandeelhouers in LMT, waaronder dr. Stefan Nell, uitvoerende hoof en stigter, het in 2016 aansoek gedoen om die maatskappy in sakeredding te plaas omdat Denel glo nie sy beloftes van werk gestand gedoen het nie.

Ons het tóé al op van die onreëlmatighede, wat deur die jongste finansiële state bevestig word, gewys – maar Denel het dit ontken.
Dr. Stefan Nell

“Ons het in daardie tyd buitelandse beleggers gehad wat bereid was om in LMT te belê om ons en Denel uit ons verknorsing te help.

“Denel het ons aansoek teengestaan en die hof het teen ons bevind nadat Denel beweer het hy het genoegsame eie beleggers om die onderneming aan die gang te hou.

“Ons het tóé al op van die onreëlmatighede, wat deur die jongste finansiële state bevestig word, gewys – maar Denel het dit ontken. Die gevolg was dat ek en die ander minderheidsaandeelhouers bedank het. Nou is LMT ’n skaduwee van wat hy was, en VR Laser is in sakeredding.

“Sakeredding sou Denel die lening van R314 miljoen wat nou afgeskryf word, gespaar het,” het Nell dié week gesê.

VR Laser

Rapport het verlede week berig dat die sakeredders van VR Laser Denel gedagvaar het vir uitstaande rekeninge. Denel het teruggeslaan en ’n forensiese verslag by die hof ingedien waarin bevind is die hele toekenning van die kontrak was onreëlmatig. Denel wil daarom ’n teeneis teen VR Laser indien vir al die geld wat reeds aan hulle betaal is, lui die hofstukke.

Die forensiese verslag het dissiplinêre stappe voorgestel teen verskeie Denel-base, insluitende Stephan Burger, wat tot Maart vanjaar uitvoerende hoof van Denel Land Systems was.

Burger het die afgelope week teen Denel se direksie en base uitgevaar omdat hy tot een van die grootste sondebokke verklaar is, berig Dewald van Rensburg. Rapport het ’n afskrif van dié brief gesien.

Daarin verdedig hy die aanstelling van VR Laser as alleenverskaffer in ’n tien-jaar-kontrak.

Burger sê hy word nou vir die wolwe gegooi as deel van ’n politieke spel.

Hy verduidelik dat VR Laser, ’n eens hoogs gerespekteerde maatskappy in die bedryf totdat die Guptas dit oorgeneem het, een van Denel Land Systems se “beste verskaffers” was.

“Die feit is ek en my span (VR Laser), wat ‘Gupta-bande’ gehad het, was 100% produksiegedrewe; nie polities nie,” skryf Burger.

“Ek bly oortuig dat VR Laser die beste kandidaat vir die werk was.”

Hy sê LMT sou nie in staat gewees het om die werk te doen nie.

Politieke agendas

Volgens hom wil verskeie huidige en voormalige Denel-base nou “weens hul eie politieke agendas” voorgee dat hulle krities was oor die VR Laser-kontrak, maar hulle het eers iets gesê lank nadat die kontrak geteken is.

Burger sê ook Denel het al meer as een forensiese ondersoek oor die kontrak laat doen, maar ingemeng in die proses en die vorige forensiese ondersoekers se kontrak beëindig voordat hulle kon klaarmaak.

Burger het in Maart afgetree nadat Denel einde verlede jaar geweier het om vir hom ’n skeidingspakket te gee.

Hy beweer die swartsmeerdery van sy naam het toegeneem toe hy driftiger begin aandring het op ’n skeidingspakket.

Meer oor:  Denel  |  Vr Laser  |  Guptas  |  Wapenvervaardiger  |  Staatskaping  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.