Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel se bates, direksie nou in vakbonde se visier
’n Rooivalk van Denel. Daar kan eersdaags beslag gelê word op die maatskappy se bates om agterstallige salarisbetalings te bekom. Foto: Denel

Solidariteit en Uasa gaan nie net Denel se direkteure in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik probeer maak vir minagting van die hof nie, die vakbond het nou ook ’n beslagleggingsbevel aangevra om sy lede se salarisse te kry.

Solidariteit bevestig Vrydag dat hy nou gaan beslag lê op Denel se roerende bates om sowat R22 miljoen in agterstallige salarisbetalings vir sy en Uasa se 1 368 lede by Denel te bekom.

Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit, sê die beslagleggingsbevel word bygevoeg omdat hul lede geld nodig het. Denel het in April laas volle salarisse aan sy 3 700 werknemers betaal.

Solidariteit en Uasa, wat onderskeidelik 931 en 437 werknemers by Denel verteenwoordig, het in Augustus geslaag om ’n hofbevel te kry dat Denel hul lede ten volle vergoed.

Regter André van Niekerk van die arbeidshof in Johannesburg het Denel op 4 Augustus drie dae gegee om die agterstallige salarisbetalings te maak, asook om aftrekkings vir versekering, mediese skemas, belasting en pensioene wat nie aan die relevante owerhede betaal is nie, oor te betaal.

Denel het versuim om die betalings te maak.

Die direksie van Denel word in ’n skrywe wat Netwerk24 onder oë gehad het Vrydag in kennis gestel al is hulle nie as individuele respondente gelys in die aanvanklike hofsaak nie, is dit uitgemaakte reg dat hulle as direkteure verantwoordelik is vir die betaling van salarisse en dus in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word.

Die direkteure word nou deur tronkstraf in die gesig gestaar.

Solidariteit het bereken presies hoeveel geld werknemers verskuldig is ná meer as drie maande wat hulle nie ten volle betaal is nie.

Só lyk die berekening per afdeling van Denel:

  • Denel Dynamics: R6 832 595,23
  • Denel Korporatief: R59 226,81
  • Denel Industriële Eiendomme: R167 961,66
  • Denel Land Systems: R3 219 147,30
  • Denel Overberg Test Range: R686 356,95
  • Denel Aeronautics: R4 903 031,00
  • Denel Vehicle Systems: R3 403 494,31
  • Denel Pretoria Metal Pressing: R2 741 663,29
  • Totaal: R22 013 476,55

Dié bedrae sluit nie gelde in wat verskuldig is aan die pensioenfondse, mediese skemas, Jan Taks en die Werkloosheidsversekeringsfonds nie.

Cronjé verduidelik dat die gelde aan die owerhede betaal moet word en nie regstreeks aan werkers nie.

Vir die doeleindes van beslaglegging sluit die berekeninge net basiese salarisse in.

Denel skuld dus baie meer as net R22 miljoen aan Solidariteit en Uasa se lede.

Enorme verlies

Die departement van openbare ondernemings het vandeesweek gehoor dat Denel vir die 2019-’20-boekjaar ’n verlies van R1,7 miljard aangeteken het.

Die staat se wapentuigvervaardiger se amptelike resultate word nog geoudit en sal na verwagting in Oktober afgehandel wees.

Danie du Toit, die voormalige uitvoerende hoof wat verlede week die maatskappy verlaat het, het verlede maand aan Reuters gesê Denel gaan moontlik nie die volgende paar maande oorleef nie, tensy die regering hom toelaat om ’n paar beloofde reddingsboeie te gebruik om ’n inkomste te verdien eerder as om skuld terug te betaal.

Maar die tesourie sê hy kan nie die voorwaardes vir die reddingsboeie aan Denel voor die mediumtermynbegrotingsraamwerk van Oktober verander nie.

As so ’n wysiging aangebring word, kan die geld op die vroegste eers volgende jaar betaal word.

Intussen sê Denel dat sy inkomste opgedroog het weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Wapenvervaardiger  |  Staatsondernemings  |  Skuld  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.