Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel se dae nou getel
’n Rooivalk-aanvalshelikopter van Denel. Foto: Denel

Die staat se wapentuigvervaardiger het ’n verlies van R1,7 miljard gely in sy pas afgelope boekjaar, het die departement van openbare ondernemings Woensdag gehoor.

Sam Mkokeli, woordvoerder vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het aan Netwerk24 bevestig dat die verwagte verlies aan die ministerie bekend gemaak is. Denel se resultate vir die boekjaar tot einde Maart word nog geoudit vir verwagte publikasie teen Oktober.

Danie du Toit, die voormalige uitvoerende hoof wat verlede week die maatskappy verlaat het, het verlede maand aan Reuters gesê Denel gaan moontlik nie die volgende paar maande oorleef nie, tensy die regering hom toelaat om ’n paar beloofde reddingsboeie te gebruik om ’n inkomste te verdien eerder as om skuld terug te betaal.

Maar die tesourie sê hy kan nie die voorwaardes vir die reddingsboeie aan Denel voor die mediumtermynbegrotingsraamwerk van Oktober verander nie.

As so ’n wysiging aangebring word, kan die geld op die vroegste eers volgende jaar betaal word.

Denel se direksie word reeds in die gesig gestaar deur ’n moontlike hofaansoek deur die vakbond Solidariteit dat hy hom weens die wanbetaling van werknemers se salarisse sedert Mei aan minagting van die hof skuldig maak.

Regter André van Niekerk het bevind dat Denel sy fidusiêre pligte versuim het deur net gedeeltelike betalings te maak aan sy 3 700 werknemers, wat steeds volstoom aanhou werk en net gedeeltes van hul salarisse, en dikwels laat, ontvang.

Van Niekerk het in ’n aanlyn sitting van die arbeidshof in Johannesburg beveel dat Denel teen 7 Augustus alle agterstallige salarisbetalings en -aftrekkings vir Werkloosheidsversekering, belasting, pensioene en mediese skemas aan Solidariteit en Uasa se lede betaal.

Pam Malinda, woordvoerder vir Denel, het Woensdag bevestig dat geen sulke betalings nog plaasgevind het nie.

Solidariteit het verlede week aan Netwerk24 gesê dat hy vasbeslote is om Denel se direkteure in hul persoonlike hoedanigheid vir minagting van die hof vas te vat.

Die hofstukke word nog voorberei terwyl Solidariteit en sy mede-aansoeker, die vakbond Uasa, bereken presies hoeveel miljoene rande aan hul lede verskuldig is.

Malinda sê Denel is “daagliks, soms uurliks” in gesprekke met die departement van openbare ondernemings vir moontlike finansiering om sy kontantvloeikrisis op te klaar, maar die staatsonderneming se inkomste het opgedroog.

Denel blameer die staat van inperking en die Covid-19-pandemie vir sy huidige finansiële probleme, maar die vakbonde reken dis die nalatenskap van jare se korrupsie en staatskaping wat die maatskappy nou onderkry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.