Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel: Werknemers praat oor skok oor salarisse

Denel-werknemers, wat eers Dinsdag gehoor het hulle kry op dié betaaldag net 85% van hul salaris, gaan waarskynlik tot Vrydag aan ’n lyntjie gehou word oor wanneer die res van hul salaris betaal word.

Danie du Toit, uitvoerende groephoof van Denel. Foto: LinkedIn

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Dinsdagaand in die parlement tydens die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede aangekondig ’n lener het intussen na vore gekom en personeel se volle salaris sál betaal word. Hy het egter nie gesê wanneer nie.

“Daar is geen duideliker voorbeeld van die vernietigende uitwerking van staatskaping as die finansiële spanning en onsekerheid wat Denel-werknemers en hul gesinne dalk elke maand sal moet verduur as die maatskappy se kontantvloeiprobleme voortduur nie,” het Gordhan gesê.

’n Gupta-firma, VR Laser, was een van die oorsake van Denel se probleme.

Gordhan se opmerkings kom ná heftige kritiek daarop dat Ramaphosa nie na Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens of die Suid-Afrikaans Uitsaaikorporasie verwys het in sy staatsrede nie.

LEES OOK: Cyril se swye oor SAL, SAUK en Denel is ‘bisar’

Danie du Toit, uitvoerende hoof van die staat se wapentuigvervaardiger, het vroeër Dinsdag gesê die maatskappy doen alles in sy vermoë om die oorblywende 15% van elkeen van die staatsonderneming se sowat 3 700 werknemers so gou moontlik te betaal.

“Ons hoop om dit teen Vrydag te betaal,” het hy aan Netwerk24 gesê. “Ons kan dit egter ongelukkig nie waarborg nie.”

Maar vir talle werknemers is die skade reeds gedoen.

Jafta Allies, ’n passer-en-draaier wat al 28 jaar by Denel werk, sê sy kredietstatus is nou in die gedrang.

Ons almal het huisskuld, karskuld, oortrokke rekeninge en wat nog. Ons kon nie betyds enige voorsiening maak nie.
Hannes Botes, Denel-werknemer

“My aftrekorders het doodeenvoudig nie deurgegaan nie,” sê Allies. “Daar is nie ander geld om my rekeninge mee te betaal nie.

“Ek het ’n dogter op varsity. Sy is 21 jaar oud. Wat gaan ek nou vir haar sê?”

Hy sê hy en talle ander werknemers leef van die hand na die mond.

“ ’n Klomp mense kon dit vanoggend nie eens bekostig om petrol in te gooi om by die werk te kom nie. ’n Klomp van hulle. Dis mos nie hulle skuld nie? Maar dit gaan lyk asof dit is.”

Hannes Botes, ’n tegniese ambagsman wat al 36 jaar by Denel werk, verduidelik die grootste probleem is dat hulle glad nie in kennis gestel is dat daar ’n probleem sou wees met hul salarisbetalings nie.

“Met aftrekorders kon ons dalk nog met die bank reëlings getref het as ons geweet het ons sal nie ons volle salaris ontvang nie, maar ons het nie tyd gehad nie.”

Werknemers is eers Dinsdag – op betaaldag – ingelig ’n verminderde salaris sal in hul bankrekenings inbetaal word. Vir verskeie werknemers wat nie FNB-kliënte is nie, is betalings ook met minstens 12 uur vertraag.

“Dit was soos ’n koue glas water in jou gesig in die middel van die nag,” sê Botes.

“Ons almal het huisskuld, karskuld, oortrokke rekeninge en wat nog. Ons kon nie betyds enige voorsiening maak nie.”

Dit kom nadat Denel in Desember belowe het om teen die 15de van elke maand reeds te bevestig of salarisse betaal kan word of nie. Volgens Du Toit is dit “nie prakties moontlik” nie.

Die beleërde maatskappy, wat midde-in ’n herstrukturerings- en omkeerplan is, is die eerste staatsbeheerde maatskappy wat op groot skaal afdelings sluit, privatiseer en werkers aflê.

Dinsdag was die eerste keer dat Denel nie sy werknemers volledig kon betaal nie.

Du Toit, wat op 14 Januarie aangestel is, sê die maatskappy se regrukplan is op koers. Hy het R40 miljard op sy bestelboek vir die volgende 24 maande.

Denel wag egter steeds op ’n herkapitaliseringspakket van die staat af en Du Toit sê die probleme gaan nog ’n ruk voortduur.

Wat salarisse betref, sê Du Toit enige verdere risiko sal binne twee tot drie maande verdwyn.

Die maatskappy is tans net kwesbaar vir probleme van veral wanbetaling van kliënte. ’n Wanbetaling was die belangrikste rede vir die huidige salariskrisis.

Denel se salarisrekening beloop sowat R150 miljoen per maand.

Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê hy verstaan Du Toit se punt dat dit nie altyd vroegtydig duidelik sal wees of salarisse in die gedrang is nie, maar dit kan nie die volle verskoning wees nie.

Dit kan nie altyd die werknemers wees wat die gevolge van sulke probleme moet dra nie.
Johan Botha van Solidariteit

“Die salarisrekening wissel nie só daadwerklik van maand tot maand dat wanbetaling van kliënte in so ’n skielike krisis kan ontaard nie,” sê Botha.

“Dit kan nie altyd die werknemers wees wat die gevolge van sulke probleme moet dra nie.”

Du Toit het ook bevestig dat sowat 260 werknemers skeidingspakkette aanvaar het as deel van die maatskappy se pogings om sy arbeidsmag te verklein. Dié projek duur voort.

Volgens die vakbondfederasie Cosatu is die feit dat werkers nou betaal vir wat uiteindelik deel vorm van die groter agteruitgang van staatsondernemings weens veral staatskaping, heeltemal onaanvaarbaar.

“Werkers word geviktimiseer en gedwing om te betaal met hul bestaansmiddele vir die sondes van skelms met politieke bande,” sê Cosatu in ’n verklaring.

Met verwysing na die uitwerking van staatskaping en korrupsie, is ook Allies moedeloos. “Ons het mos nie die geld gesteel nie? Ons, die werkers, het mos nie die maatskappy in sy huidige posisie gesit nie? Hoekom betaal ons terwyl die werklike misdadigers geen gevolge het nie?”

Botes sê Denel is ’n “baie goeie maatskappy” en dat hy die bestuurslui, en veral Du Toit, bystaan. Hy meen almal moet nou saamstaan.

“Ons wil almal help om die maatskappy weer op koers te kry, maar hulle moet ons betrek. Hulle kan ons nie weer so in die donker laat nie.”

Volgens Du Toit sal die kabinet in Julie stem oor Denel se aansoek vir R2,8 miljard se herkapitalisering wat die maatskappy bepaal het die minimum is om sy kontantvloei weer in orde te kry.

Hy sê die ministers van finansies, Tito Mboweni, en openbare ondernemings, Pravin Gordhan, bied tot dusver goeie ondersteuning.

Indien die kontantinspuiting goedgekeur word, sal dit teen September of Oktober beskikbaar word.

“Dis dalk net een deel van die herstruktureringsplan, maar dit sal ’n wesenlike verskil maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.