Denel Aerostructures se deure sluit nou amptelik en gaan sy kontrakte skuif na ander vervaardigers.
Denel sê Donderdag in ’n verklaring dat werksverliese “so ver as moontlik” beperk is. Denel wou by navraag nie sê hoeveel mense wel afgelê is nie.

’n Atlas Oryx-helikopter, wat deur Denel vervaardig word. Foto: Denel
Die beleërde staatsonderneming is al ’n geruime tyd besig met grootskaalse herstrukturering en gedeeltelike privatisering om weer winsgewend te kan word.
Denel Aerostructures is ’n aparte afdeling van Denel Aeronautics, wat steeds voortbestaan. Die wapentuigvervaardiger verduidelik die besluit om sy Aerostructures-onderneming te sluit is in oorleg met sy kliënte gemaak en onderdele sal nou deur ander verskaffers vervaardig word.
“Die onderneming was net nie meer volhoubaar vir Denel nie,” sê die maatskappy.
Afleggings is ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge gedoen, sê Mike Kgobe, uitvoerende hoof van Denel Aeronautics. Vakbonde en ander werknemers is onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie geraadpleeg.
“Ons het regtig hard gewerk om werksverliese so ver as moontlik te beperk,” sê Denel.
Sommige werknemers word geskuif na ander afdelings binne die Denel-groep.
Denel Aeronautics in Kempton Park is onder meer verantwoordelik vir instandhouding van aanvalshelikopters en -vliegtuie vir die Suid-Afrikaanse Lugmag en ander kliënte.