Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel ‘stort ineen’, sakeredding gevra

Denel moet dringend in sakeredding geplaas word om te keer dat dié wapenvervaardiger heeltemal ineenstort.

“Hy is nou te na aan ineenstorting om dit verder te ignoreer.”

’n Rooivalk-aanvalshelikopter met ’n geskuttoring deur Denel Mechatronics. Foto: Denel

Die beroep van die DA het Vrydag gekom nadat Denel, wat al jare insolvent is, in interne kommunikasie aangedui het dat hy nie die werknemers van Denel Dynamics se salarisse vir April sal kan betaal nie.

Dit is nou ’n volle jaar dat die meeste van Denel se afdelings nie volle salarisse kon betaal nie of werknemers se salarisse laat betaal het.

“Die enigste rasionele pad vorentoe is om die staatsonderneming in sakeredding te plaas, omdat reddingsboeie en regeringswaarborge nie sal help om die wapenvervaardiger te red nie,” sê Michele Clarke, DA-LP, Vrydag in ’n verklaring.

Die kredietgradeerder Fitch het Denel reeds in Augustus net 12 maande gegee voordat hy ineenstort.

Fitch het Denel se gradering vir langtermyneffekte in Augustus tot vlak CC afgegradeer en sy korttermyneffekte nog ’n vlak laer op C, albei van vlak B af.

Daar is slegs twee vlakke onder ’n gradering van CC.

Vir korttermyneffekte, waarop Denel tans oorleef sedert sy inkomste bykans heeltemal opgedroog het, is Denel se gradering van C nou die tweede laagste wat Fitch kan gee.

Eskom word twee vlakke hoër gegradeer.

Buiten vir die aankondiging van Denel Dynamics, een van die onderneming se grootste afdelings, oor salarisse, is sy kernbesigheid van voertuigvervaardiging ook in totale wanorde gedompel.

“Dié afdeling van Denel het heeltemal tot stilstand gekom en hulle het ook nie die kapitaal om tenders en kontrakte wat in die vooruitsig is, te finansier of om hulself te onderhou nie,” sê Clarke.

“As daar nie ’n dringende ingryping is nie, sal die hele entiteit in duie stort. Dit is belangrik dat sakeredders die bestuur van die wapenvervaardiger oorneem en dat hulle ’n geloofwaardige plan opstel om sake by die entiteit in orde te kry.

“Anders as die skyn van ’n sakereddingsplan wat ons by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sien afspeel, wil ons hê die proses moet onafhanklik wees sonder enige onbehoorlike invloed van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, of sy departement.

“Dit moet ’n proses wees wat die letter van die wet volg, en dit moet nie beheer word deur die ANC se faksionaliteit of ideologiese oortuigings nie, maar ingevolge die reëls wat sakereddingsprosesse beheer.”

Bronne na aan die saak by Denel het reeds in Desember aan Netwerk24 gesê sakeredding is op die horison en dat regstappe dalk sal moet volg om die proses af te dwing.

Denel is deur Armscor tans die hoofbron van verdedigingstegnologie vir die departement van verdediging.

Kenners het al gewaarsku as Denel sou ineenstort, sal die verdedigingsbedryf in Suid-Afrika daarmee saam tot niet gaan. Dit sal ’n groot invloed hê op die Suid-Afrikaanse weermag.

Meer oor:  Denel  |  Wapenvervaardiger  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.