Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel systap minagting nadat hof uitstel gee

Die arbeidshof in Johannesburg het ’n uitstel toegeken aan Denel, wat beteken die staat se wapentuigvervaardiger het nou tot Januarie om sy kant van die saak te stel oor sy beweerde minagting van die hof.

Denel
’n 155 mm-G5-kanon van Denel. Foto: Denel

Denel moes ingevolge ’n vorige hofbevel teen 7 Augustus reeds sy uitstaande kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor Solidariteit-lede wat in sy diens is, nakom. Dit het die betaling van alle uitstaande salarisse vir Mei, Junie en Julie ingesluit.

Die bedrag hiervan is voorheen bereken op sowat R22 miljoen, maar Solidariteit sê dit moes nou herbereken word en sal waarskynlik meer wees.

In die tweede hofsaak teen Denel het Solidariteit die staatsonderneming se direksie regstreeks aanspreeklik probeer hou vir minagting van die hof deurdat die salarisse nié op 7 Augustus betaal is soos die hof beveel het nie.

Solidariteit het aangevoer dat selfs tronkstraf vir die direksie as geheel oorweeg moet word.

Dié saak was veronderstel om Donderdag aangehoor te word. Uitstel is egter tot 27 Januarie toegeken sodat Denel tyd het om Solidariteit se eedsverklaring te bestudeer en te beantwoord.

“Ons is teleurgesteld, maar eerbiedig die regter se beslissing,” sê Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit.

“Ons hou steeds vol dat dit Denel se eerste prioriteit moet wees om die hofbevel van 4 Augustus na te kom. Omdat Denel nie daaraan gehoor gee nie, voer ons die saak van minagting van die hof."

Ons voel jammer vir ons lede, die onskuldige werkers by Denel, wat steeds minder as die helfte van hul salarisse kry en die werklike slagoffers van hierdie toedrag van sake is.
Helgard Cronje, sektorkoördineerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit

“Ons sal op 27 Januarie terug wees in die hof om verder vir ons lede en dit wat hulle toekom, te baklei. Ons voel jammer vir ons lede, die onskuldige werkers by Denel, wat steeds minder as die helfte van hul salarisse kry en die werklike slagoffers van hierdie toedrag van sake is.”

Tans word werkers in verskeie afdelings steeds net ’n deel van hul salaris betaal en daar is nog geen sprake van die betaling van agterstallige salarisse nie.

Van April tot Oktober skuld Denel al R109 miljoen aan die 1 368 lede van Solidariteit en Uasa wat by hom werk, en die meeste het net ’n deel van hul salaris ontvang.

Denel Aeronautics is nou die enigste afdeling wat weer sy werknemers hul volle salaris betaal. Denel PNP betaal tans net 70%, Denel Land Systems 40% tot 90%, afhangende van betaalvlak, Denel Vehicle Systems 60% en Denel Dynamics net 9% van salarisse.

Denel Land Systems skuld etlike miljoene aan Denel Dynamics, wat maak dat dié afdeling net 9% van salarisse kan betaal.

Solidariteit het vroeër vandeesweek aan Netwerk24 gesê dat hy voortgaan met ’n hofaansoek vir ’n beslagleggingsbevel om die agterstallige gelde van Denel te verhaal. Hierdie aansoek sal glo ook eers in 2021 aangehoor word.

Meer oor:  Solidariteit  |  Denel  |  Uasa  |  Wapenvervaardiger  |  Arbeidshof  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.