Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel vermy D-dag: Salarisse sál betaal word

Denel het op die nippertjie bevestig dat volle salarisse Donderdag aan sy 3 700 werknemers betaal sal word.

’n Denel-vliegtuigloods by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Die vakbond Solidariteit het bevestig dat hulle Dinsdag laat ingelig is dat Denel wel salarisse sal kan betaal.

Pam Malinda, woordvoerder van Denel, het Woensdag aan Netwerk24 bevestig dat oorbruggingsfinansiering nou verkry is.

“Denel het die oorbruggingsfinansiering by ’n handelsbank in Suid-Afrika verkry,” sê sy.

Verdere besonderhede oor die transaksie word weerhou weens die vertroulike aard van sulke lenings, verduidelik Malinda.

In ’n brief wat Dinsdagaand aan Denel-werknemers uitgestuur is en wat Netwerk24 gesien het, bevestig Danie du Toit, uitvoerende hoof, dat werknemers nie meer oor Donderdag bekommerd hoef te wees nie.

“Ons het onvermoeid gewerk om dié finansiering te verseker,” sê Du Toit.

Volgens Malinda is die finansiering nie slegs vir salarisbetalings aangegaan nie, en sal dit ook vir algehele bedryfsdoeleindes benut word. Sy wou nie bevestig of daar enigsins genoeg geld sou oorbly om ’n wesentlike verskil te maak aan Augustus se behoeftes nie.

Die salarisrekening van R150 miljoen was vir die tweede maand in ’n ry in gedrang. Du Toit het Maandag in ’n brief aan werknemers gesê broodnodige oorbruggingsfinansiering kon toe nog nie verseker word nie.

Julie sou die tweede maand gewees het wat werknemers nie op betaaldag hul volle salaris sou ontvang het nie.

Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê dié verwikkeling is geensins ’n aanduiding dat salarisse oor die volgende drie maande sonder probleme betaal gaan word nie.

“Die volgende twee tot drie maande gaan steeds baie moeilik wees by Denel.”

Du Toit het ook gesê swaar tye kan voorlê totdat ’n reddingsboei van die staat verseker kan word, wat na verwagting in September sal wees.

Denel het amptelik vir R2,8 miljard se herkapitalisering van die staat gevra. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Dinsdag in die parlement gesê ’n reddingsboei sal uit die staat se gebeurlikheidsfonds uitbetaal word, maar hy het nie gesê hoeveel Denel sal ontvang nie.

Du Toit het by werknemers gepleit om net vas te byt totdat dié betaling deurkom, want dan sal Denel weer op koers wees en met sy mediumtermyn-bestelboek ter waarde van R30 miljard op sy eie voete kan staan.

Botha is skepties oor die reddingsboei.

“Niemand weet vir seker of dit in September sal deurkom of nié.”

Aftrekkings

Helgard Cronjé, Solidariteit se sektorkoördineerder vir verdediging en lugvaart, het ook aan Netwerk24 bevestig dat Denel ’n betalingsbewys verskaf het om te bewys dat agterstallige pensioen- en mediesefondsbetalings nou wel aan die betrokke fondse gemaak is.

In Junie se salariskrisis het dit aan die lig gekom al is dié aftrekkings van werknemers se salarisse gedoen, het die geld nooit betyds by die fondse uitgekom nie. Denel het nie genoeg geld gehad om dit te betaal tot later nie.

Cronjé het verlede week aangevoer al het Denel gesê die gelde oorbetaal is, is daar nog nie bewyse van betaling verskaf nie.

Die regstappe wat Solidariteit wou doen oor dié wanbetaling duur voort, sê Cronjé.

Al is mediesefonds- en pensioenaftrekkings nou betaal, bly ander steeds uitstaande.

“Werknemers se inkomstebelasting, bydrae tot die Werkloosheidsversekeringsfonds en vaardigheidsheffing is afgetrek van hul salarisse, maar steeds nie oorbetaal nie,” sê Cronjé. 

“Dit is uitstaande vir April, Mei en Junie 2019. Denel beweer hulle het ’n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, maar ons het nog geen skriftelike bewyse van so ’n ooreenkoms gesien nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.