Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel: Werkers trek steeds noustrop

Miljoene rande se bates van Denel kan opgeveil word om agterstallige salarisse ingevolge ’n lasbrief van eksekusie te betaal, maar werkers sit steeds sonder salarisse.

Denel het oor die afgelope drie jaar ’n lopende verlies van R5 miljard gehad. Foto: Denel

Denel kon in Junie weer nie die meeste van sy werknemers betaal nie. Byna ’n maand ná betaaldag wag baie van die mense nog op hul salaris.

Daar is ook aanduidings dat salarisse vir Julie weer laat sal wees vir talle afdelings.

Denel het verlede jaar sy finansies gedesentraliseer en elke afdeling onafhanklik gemaak van die sentrale maatskappy se finansies.

Dit beteken elke afdeling is nou verantwoordelik vir sy eie finansies en salarisbetalings.

Baie afdelings het finansiële probleme en dan word daardie afdelings se salarisse bloot nie betaal nie.

Dit volg op meer as ’n jaar wat Denel nou al sukkel om salarisse aan sy meer as 3 000 werknemers te betaal.

Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die vakbond Solidariteit, wat talle werknemers by die staat se wapentuigvervaardiger verteenwoordig, sê egter daar is uiteindelik bewyse van vordering.

“Die druk op die maatskappy is besig om te werk,” bevestig Cronjé.

Denel is verlede jaar hof toe gesleep deur Solidariteit om agterstallige salarisse vir die maande Mei tot Julie 2020 te betaal.

Toe dit in Augustus nie gebeur nie, het Solidariteit die direkteurs regstreeks probeer aanspreeklik hou met ’n klagte van minagting van die hof.

Die hooggeregshof in Pretoria het toe besluit om eerder die onderneming onder geregtelike hersiening te plaas, en Denel sal nou Vrydag moet kom verslag doen oor sy vordering om agterstallige salarisse te betaal.

Maar Solidariteit het ook verlede jaar ’n lasbrief van eksekusie bekom van die einste hof wat die balju gemagtig het om te begin beslag lê op Denel se roerende bates.

Cronjé mag nie sê watter bates opgeveil gaan word nie, maar bevestig dat Solidariteit nou noodgedwonge voortgaan met die proses nadat die balju reeds vanjaar die bates wat geoormerk is vir opveiling, opgeskryf het.

“Die veiling dreig nou,” sê Cronjé.

Dit plaas druk op die wapentuigvervaardiger, wat wel nog kontrakte het met kliënte wat moet voltooi word.

Gloria Serobe, voorsitter van Denel, en een van die laaste oorblywende direkteure, het blykbaar uiteindelik ná maande kontak gemaak met Cronjé weens die dreigende veiling.

Cronjé sê hy is bemoedig deur die feit dat die druk op Denel besig is om vrugte af te werp.

Hy is vol vertroue dat die onderneming eersdaags genoeg kapitaal sal begin invorder om agterstallige salarisse te kan begin betaal.

“Daar is planne in wording by Denel,” sê Cronjé oor sy gesprek met Serobe.

Maar Denel is verskeie kontrakte met van sy kliënte in die Midde-Ooste en Noord-Afrika kwyt nadat hy versuim het om vinnig genoeg vordering te maak op verskeie projekte.

Daar is egter nog heelwat werk vir die maatskappy, sê Cronjé, en daar is dus nog geleenthede om geld te maak.

Denel het oor die afgelope drie jaar ’n lopende verlies van sowat R5 miljard gemaak.

Meer oor:  Solidariteit  |  Maatskappye  |  Beroepe  |  Denel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.