Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Denel: Zuma-man het Guptas ingetrek

Daniel Mantsha, voormalige voorsitter van Denel en op verskeie geleenthede oudpres. Jacob Zuma en sy bondgenoot Dudu Myeni se prokureur, was sentraal tot die “ineenstorting” van die staat se wapentuigvervaardiger, het die parlement Woensdag gehoor.

Daniel Mantsha, voormalige voorsitter van Denel.

Volgens die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) bevind dat Mantsha die beginpunt was van ’n reeks besluite en gebeure wat gelei het tot die “skokkende” plundery van Denel en sy uiteindelike finansiële krisis.

“Daar is staatskaping en dan is daar staats-ineenstorting,” het Mkhuleko Hlengwa, IFP-LP en voorsitter van Skoor, gesê nadat die SOE verslag gedoen het oor sy ondersoeke by Denel.

LP’s was heeltemal stomgeslaan deur die omvang van bedrog, staatskaping, plundery en wanbestuur by Denel tussen 2015 en 2018.

Hlengwa was só geskok hy het uit en uit gesê hy het nie woorde nie. Hy het toe sy spreekbeurt uiteindelik ná ’n lang stilte afgeskop met ’n aanhaling uit William Shakespeare se Hamlet: “Daar is iets vrot in die staat van Denemarke, maar in dié geval is dit eerder Denel.”

Die SOE draai nie doekies om nie: Volgens adv. J.L. Mothibi, eenheidshoof, is Denel op die punt van ineenstorting en al jare lank insolvent, als te danke aan die plundery van die staatsonderneming deur veral die Guptas en hul vennote.

Zodwa Xesibe, leier van die ondersoek na Denel, sê die SOE het R10 miljoen begroot om die ondersoek na Denel af te handel, maar dit word bemoeilik deur die feit dat die oortreders al lank gelede die maatskappy verlaat het, en dikwels oorsee gaan woon het met die miljoene wat hulle gesteel het.

Daar bly vandag nie een amptenaar by Denel oor wat geïmpliseer word in die SOE se ondersoeke nie.

Die lys oortredings by Denel is lank en ingewikkeld. Dit sluit in:

  • Die totale versuim om verkrygingsmaatreëls te volg in verskeie tenders wat onder meer die Guptas verryk het;
  • Beurse wat onbeperk uitbetaal is aan enigiemand wat dit wou hê; en
  • Die uitlek van intellektuele eiendom soos die bloudrukke vir geheime missiele aan Arabiese mededingers.

Maar dit het als begin met die onreëlmatige aanstelling van die direksie in 2015.

Op 24 Julie 2015 het Lynne Brown, omstrede voormalige minister van openbare ondernemings, ’n nuwe direksie vir Denel aangestel. Aan die stuur was Daniel Mantsha as voorsitter.

Die SOE sê die aanstelling van die direksie was ongetwyfeld onreëlmatig.

Daaropvolgende aanstellings was net so onreëlmatig.

Oudpres. Jacob Zuma vantevore met Daniel Mantsha, toe sy prokureur. Foto: Argief
Netwerk24 Foto: Doctor Ngcobo/ Pool

Die SOE het ten minstens twee voormalige uitvoerende hoofde van Denel tussen 2015 en 2018 verwys vir strafregtelike vervolging, tesame met talle ander senior amptenare.

Geen name behalwe Manthsa s’n is genoem in die voorlegging aan Skoor nie, aangesien die ondersoek nog aan die gang is.

Maar Bheki Hadebe, ANC-LP, het die spyker op die kop geslaan vir baie op die komitee.

Hy het gesê dat al die ander onreëlmatige aanstellings ná 2015 spruit uit die aanstelling van Mantsha as voorsitter.

Xesibe het bevestig dat Mantsha persoonlik elke aanstelling daarna moes goedkeur.

Dis dié aanstellings wat gelei het tot die totale ineenstorting van Denel se verkryging, bedrywighede en uiteindelik sy inkomste.

Die SOE sê dis dalk nie deel van sy ondersoek nie, maar die finansiële ineenstorting van die maatskappy kan nie geïgnoreer word nie.

Hy het uitgewys hoe Denel se inkomste sedert 2015 getuimel het toe die Guptas deur veral VR Laser die wapentuigvervaardiger begin plunder het.

Teen 2017 was Denel amptelik insolvent, met laste wat bates heeltemal oorskry het.

In slegs twee jaar het die bestuur van Denel die maatskappy ten gronde laat gaan.

LP’s het uitgewys hoe die bestuur en die Guptas jare lank Denel “as hul persoonlike bankrekening gebruik het” sonder dat daar ingegryp is om die maatskappy te red.

Vir Hlengwa is dit hartverskeurend.

Hy sê Denel was ’n vlagskip onderneming en om dit nou “in flarde” te sien, laat hom sonder woorde.

Die SOE mik om miljoene rande wat onreëlmatig bestee is, weer terug te kry en sê hy maak goeie vordering.

Skikkingsooreenkomste met verskaffers word klaar aangegaan, maar die ware oortreders, die voormalige bestuur en die Guptas, bly nog buite bereik.

Die SOE is besig om uitleweringsbevele te probeer bekom om verdagtes van oorsee na Suid-Afrika te repatrieer om in die hof te verskyn, maar vordering is stadig.

Volgens Nokuzola Tolashe, ANC-LP, is die SOE die land se laaste hoop.

“Ons toekoms hang nou van jul werk af,” sê sy.

Die SOE sê hy is bereid om bykomende hulpbronne te ontplooi om die ondersoek so gou as moontlik af te handel en het ingestem om tussentydse verslae te publiseer soos die ondersoek vorder sodat meer geld gouer teruggekry kan word en die verdagtes vinniger in die howe kan verskyn.

Volgens Mothibi is daar min by Denel self oor om te red. Hulle sal egter hul “bes doen” om alle geld wat verlore en geplunder is, terug te kry en oortreders “swaar” te straf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.