Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Desperate sjebiens smeek Ramaphosa vir R20 000 elk

Sjebiens smeek in ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa vir R20 000 elk om die impak van die voortdurende drankverbod op hulle te versag.

Polisielede deursoek ’n sjebien in Galeshewe vir onwettige drank.

Die huidige drankverbod duur onbepaald en desperate stemme klink al hoe meer uit drankbedryf op om dit dringend op te hef.

Die sjebiens is deel van ’n koalisie van drankhandelaars wat Saterdag ’n brief aan Ramaphosa gerig het om ’n vergadering te versoek.

Die koalisie bestaan uit die National Liquor Traders Council (NLTC) en die Liquor Traders Association of South Africa (LTASA), en hulle sê hulle verteenwoordig ’n groot aantal tavernes en sjebiens in townships, asook drankwinkels wat nie deur die groot supermarkgroepe besit word nie.

Volgens die groep word 282 000 mense werk gegee in die bedryf – waarvan 250 000 by tavernes.

“Ons lede sukkel om te oorleef, en as hulle sluit, gaan die werkverliese katastrofies wees.

Hierdie hulp word gevra

  • Hulle sê die afsetplekke kan maklik en veilig drankverkope hervat vir wegneem en nie om op die perseel te drink nie. Die regering word gevra om dit dadelik te oorweeg om dié verkope toe te laat.
  • Die groep doen ook ’n beroep op die regering om die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike hulpverleningskema vir werkgewers en werknemers (Ters) weer te hervat omdat die ondernemings nie hul werkers tydens die verbod kan betaal nie.
  • Dat die regering dit in regulasies verbied dat verhuurders staatmaak op klousules in huurooreenkomste tydens enige tydperk waarin handel verbied word.
  • Vergoeding vir voorraad wat verval. “As die totale verbod op verkope nie binnekort opgehef word nie, gaan voorraad verval en die finansiële impak daarvan gaan verwoestend wees. As ons lede nie hul voorraad kan verkoop om kontant te kry om weer voorraad aan te koop nie, gaan die meeste van hulle nie die middele hê om nuwe voorraad te koop en weer aan die gang te kom nie.”
  • Hulpverlening vir tavernes en sjebien-permithouers van R20 000 elk.

“Hoewel ons die regering se doel om lewens te red verwelkom, is ons baie bekommerd dat die kwessie van mense se lewensbestaan nie in ag geneem word nie,” sê Lucky Ntimane, sameroeper van die NLTC, en Sean Robinson, president van LTASA.

Ntimane en Robinson skryf om enige kans op oorlewing te hê tydens dié moeilike tyd, word drankwinkels gedwing om werkers af te lê en in ander gevalle geen salarisse te betaal nie aan dié wat aanbly.

“Dit het ’n onmiddellike en drastiese, ernstige impak op werkloosheid en werksekerheid in die land.”

Hulle is ook besorg oor verhuurders wat aandring op die volle huurgeld en die realiteit van die drankverbod ignoreer.

“Baie huurkontrakte het klousules wat huurders verhinder om staat te maak op die gemenereg oor die impak van die rampbestuursregulasies op hul prestasie. Dit plaas verdere druk op die lewensvatbaarheid van die drankwinkels. As hierdie ondernemings misluk, soos reeds met van hulle gebeur het, gaan grootskaalse afleggings en werkverliese onvermydelik wees.”

Hulle sê baie van hul lede verkoop nie net drank nie, maar ook houtskool, versnaperings, koeldrank, ensovoorts. “Die volstrekte verbod op drank beteken dat hulle niks kan verkoop nie en geen inkomste van hul ondernemings kan verdien nie, omdat dit toe is. Dit het ons lede baie hard getref omdat ’n klomp ook op die nie-drankverkope staatmaak om hul inkomste aan te vul en hulle in staat te stel om te oorleef.”

Bydrae tot die ekonomie

Die groep sê die volgende oor die ondernemings wat hul verteenwoordig.

  • Hulle is hoofsaaklik in swart besit en maak ’n belangrike bydrae tot werkskepping en die ekonomie van townships.
  • Die eienaars is wetsgehoorsame drankhandelaars, wat gelisensieer is om drankprodukte wat gereguleer word te verkoop, en nie drank wat onwettige en gevaarlike middele daarin bevat soos dié wat deur misdadigers verkoop word nie.
  • Hulle lewer ’n belangrike bydrae tot die land se belastinginkomste, insluitende maatskappybelasting, BTW, persoonlike inkomstebelasting, werkloosheidsversekering en aksynsbelasting.

Meer oor:  Lucky Ntimane  |  Townships  |  Drankverbod  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.