Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Die 5 grotes in Motsepe se ARC
Patrice Motsepe

Die dataverskaffer Rain maak steeds die grootste deel van die swartbemagtigingsmaatskappy African Rainbow Capital Investments se portefeulje van bates uit.

Die bekende sakeman Patrice Motsepe is ’n groot belegger in die maatskappy wat vandeesweek sy eerste voljaarresultate sedert sy notering uitgereik het.

ARC is verlede jaar September genoteer en sedertdien het die waarde van sy bates amper verdubbel van R4,4 miljard tot R8,1 miljard.

Motsepe sê hulle is tevrede met die vertoning, al is dit nog ’n betreklik jong onderneming wat in 2015 begin is. ARC se visie is om uiteindelik een van die voorste swartbemagtigingsmaatskappye in die land te wees. “Suid-Afrika bied baie uitdagings en geleenthede om welvaart vir meer mense te skep en te versprei. ARC se aktiwiteite laat hom toe om die voordele vir aandeelhouers en belangegroepe te skep.”

Sedert 2015 is belange in meer as 40 maatskappye bekom.

Hier is die topvyf-beleggings in sy portefeulje:

1. Rain: Die belegging beloop 26,3% van ARC se portefeulje. Die waarde van die belegging in Rain het einde Junie R2,1 miljard beloop. ARC hou 20% van die maatskappy. Die onderneming fokus net op die verskaffing van data.

“Ons glo die omvang van datagebruik gaan ontplof. Die vraag na data is amper onversadigbaar en omdat ons so ’n groot spektrum en vermoë het, sal ons dit goedkoper kan bied as ander,” sê Johan van der Merwe, mede- uitvoerende hoof.

Rain is besig om sy netwerk uit te bou en het reeds 2 000 terreine. Rain Mobile is in Junie bekend gestel en het 4 860 simkaarte verkoop.

Van der Merwe sê hulle glo nie die 26%-belang is te groot in hierdie stadium nie, omdat die maatskappy nog so jonk is. Die mikpunt is dat nie enige belegging meer as 20% van die portefeulje beloop nie.

2. Alexander Forbes: Die belegging in hierdie finansiëledienstemaatskappy maak 8,4% van die portefeulje uit. Die belang van 16,9% se waarde beloop R692 miljoen.

3. Afrimat: Die belegging in die oopgroefmynmaatskappy beloop 7,9% van die portefeulje. Die waarde van die belang van 19% is R641 miljoen.

4. BlueSpec: Hierdie onderneming is in die motorherstelbedryf betrokke, insluitende werk wat vir versekeraars gedoen word. Die belegging maak 7,2% van die portefeulje uit en die waarde van die 25%-belang beloop R509 miljoen.

5. Elandsfontein: Dié onderneming het ’n fosfaatmyn aan die Weskus. Die neerslag van fosfaat daar is sover bekend die tweede grootste in Suid-Afrika. Fosfaat word in kunsmis gebruik en die vraag daarna hou verband met bevolkingsgroei.

Die belegging is 6% van die portefeulje en die waarde van die belang van 26,3% beloop R454 miljoen.

Volgens Van der Merwe word bates teen die gepaste afslag gekoop omdat die maatskappy swart bemagtiging na ’n transaksie bring. “Weens ons betreklik aantreklike eienskappe as ’n bemagtigingsvennoot wil baie ondernemings ons as aandeelhouer hê en ons het ’n gesonde pyplyn van toekomstige beleggingsgeleenthede.”

Met die notering verlede jaar is byna R4,3 miljard ingesamel en daarvan is reeds sowat R2,7 miljard gebruik tot einde Junie.

Die onderneming het nog sowat R1,5 miljard wat belê kan word. “Ons wil nie hê die kontant moet ’n gat in ons sak brand nie. Dit is ’n rem op prestasie, want ons het ’n opbrengs in die visier wat meer as kontant (in die bank) verdien.”

Volgens hom is ARC redelik ver gevorderd met sekere onderhandelinge. “Die meeste van die beleggings in die afsienbare tyd gaan aan die finansiële kant wees. Ons gaan in die volgende ses tot 12 maande nog beleggings in hierdie bedryf maak.”

Volgens hom sal dit in versekering en batebestuur wees omdat hulle ’n meer holistiese finansiëledienstemaatskappy wil bou. “Die baie belangrike boublokke wat ons nog kort is batebestuur, versekering en bankwese, wat ons besig is om te bou.”

ARC besit 10% van TymeDigital wat ’n banklisensie het.

In landbou-eiendom en telekommunikasie word vennote gekry.

Van der Merwe sê netto batewaarde is die belangrikste maatstaf wat beleggers moet gebruik om sy groei te meet.

Hy sê omdat ARC Investments ’n beleggingsmaatskappy is, is hulle nie van plan om ’n dividend te betaal nie. “Beleggers wat in ons belê verstaan dit is ’n kapitaalgroei-belegging en verwag nie regtig ’n dividend nie.”

Johan van Zyl, mede- uitvoerende hoof, meen die bydrae van die maatskappy as ’n bemagtigingsvennoot dra by tot die sukses van elke maatskappy waarin hy belê is. “Mettertyd sal ARC se vertoning volgehou word deur die groei en beter prestasie van ons individuele beleggings.”

“Ons het groot ambisies vir groei en glo dit sal opwindend en lonend wees vir gewone Suid-Afrikaners om as aandeelhouer deel te wees van hierdie pad.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.