Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dié Hamleys-winkels binnekort weer oop
Die Hamleys-speelgoedwinkel in die Bedfordsentrum in Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Ses van die agt Hamleys-winkels in Suid-Afrika sal na verwagting op 1 Desember hul deure heropen.

Die speelgoedwinkel-franchise is die afgelope bykans twee jaar onder geweldige druk. Al die winkels is sedert Maart, toe die staat van inperking van krag geword het, gesluit.

Hamleys is sedert begin 2019 in sakeredding nadat die vorige eienaar van die franchise, Philip Paphitis, die maatskappy glo rot en kaal besteel het.

Paphitis het homself vroeg vanjaar om die lewe gebring toe die polisie hom in Kaapstad in hegtenis wou neem.

Die ses winkels wat na verwagting op 1 Desember heropen, is dié in die Bedford-, Eastgate-, Fourways-, Rosebank- en Sandton City-winkelsentrum in en om Johannesburg, asook die een in die Gateway-winkelsentrum in Umhlanga aan die Noordkus van KwaZulu-Natal.

Dit kom nadat Super-Brands en Toy Kingdom die Suid-Afrikaanse franchise vir Hamleys bekom het.

Die winkel in die V&A Waterfront in Kaapstad sal dalk nie reeds op 1 Desember sy deure heropen nie, maar Cuan Chelin, uitvoerende hoof van Super-Brands, sê die plan is wel om die winkel teen middel Desember te heropen.

Die winkel in die Menlyn-winkelsentrum in die ooste van Pretoria gaan egter nie behou word nie.

Kort nadat Hamleys vroeg in 2019 te koop aangebied is, het Toy Kingdom en Super-Brands hul eerste aanbod daarvoor gemaak. Hulle het toe R16,5 miljoen aangebied.

Die aanbod is egter as te laag beskou en van die hand gewys. Hulle het daarna R23 miljoen aangebied, wat aanvanklik aanvaar is.

Reliance, wat Hamleys in Brittanje besit, het egter besluit om die franchise eerder te verkoop aan Antares, wat deur Rand Outfitters en Osbro besit word.

Hoewel Antares groot planne gehad het vir Hamleys en die nuwe winkel in Fourways in Desember 2019 met groot ophef geopen het, was hy egter weens die inperking genoodsaak om al die winkels einde Maart toe te maak.

Al die winkels is steeds toe. Netwerk24 het onlangs foto’s geneem waarop dit gelyk het asof die winkels in Sandton City en Fourways nie net gesluit is nie, maar ook baie leeg is.

Stefan Steyn, die sakeredder wat by Hamleys aangestel is, sê die winkels is toe omdat ’n voorraadopname voor die heropening gedoen word.

Steyn sê Super-Brands en Toy Kingdom het Antares gedurende die staat van inperking genader en wéér ’n aanbod gedoen. Dit is onmiddellik aanvaar. Chelin wil egter nie sê wat die aanbod behels nie.

Hy het aan Netwerk24 gesê die plan is vir eers net om die winkels weer in bedryf te stel.

“Die winkels sal dieselfde aanbod as voorheen hê, met ’n paar opwindende nuwe produkte. Ons het ook groot planne vir die toekoms.”

Chelin sê sowat 130 van Hamleys se werknemers sal weer in diens geneem word.

In April 2019 het 167 mense by Hamleys gewerk.

Hy sê daar is geen planne om ’n aanlyn winkel vir Hamleys te skep nie.

Meer oor:  Hamleys  |  Speelgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.