Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Die hare waai tussen regter en Moyo se regspan
Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, se regspan Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Van links is adv. Dali Mpofu SC, adv. Tembeka Ngcukaitobi, Moyo en Eric Mabuza, sy prokureur.Foto: William Horne

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, was Dinsdag opnuut in die hof, maar die verrigtinge het erg ontspoor tussen die regter en adv. Dali Mpofu SC, vir Moyo.

Volgens Eric Mabuza, Moyo se prokureur, gaan hulle stappe doen teen regter Colin Lamont se “teistering” wat “Mpofu en Moyo ontneem het van billike hofverrigtinge”.

Moyo was in die hof vir ’n dringende interdik om Old Mutual te keer om ’n nuwe uitvoerende hoof aan te stel nadat die versekeraar op 14 Januarie geslaag het in sy appèl teen ’n vroeëre uitspraak dat hy Moyo moet heraanstel.

Lamont het Dinsdag uitspraak voorbehou, maar Moyo het aan Netwerk24 gesê daar was geen geregtigheid in hoe die hof sy regspan se aansoek gehanteer het nie.

Mpofu is telkens gevra om sy saak vinniger te stel, en uiteindelik ná 20 minute gewaarsku dat hy slegs tien minute oor het om sy argument te maak.

Mpofu het teruggekap na die regter, onder meer omdat Lamont glo nie soos Mpofu Latyn verstaan nie.

Mpofu is geneig om sy saak met baie konteks te stel en Lamont het hom gedurig gevra om “tot die punt te kom”, wat oënskynlik vir Mpofu ontspoor het.

Hy het verskeie kere nadat die regter hom onderbreek het, hardop gesug en gemaak asof hy dan maar sal gaan sit aangesien Lamont “duidelik nie (sy) argument wil hoor nie”.

Mpofu het aangevoer dat die interdik toegestaan moet word omdat Moyo se aansoek om teen die uitspraak van 14 Januarie te appelleer, beteken die uitspraak word opgeskort totdat die saak in die appèlhof afgehandel is.

Lamont het egter dadelik aan Mpofu gesê hy stem nie saam nie.

“U edelagbare, jy is nie vry om so iets teen ander hofuitsprake te sê nie!” het ’n duidelik baie gefrustreerde Mpofu gesê.

“Natuurlik is ek vry om dit te sê in my eie hof!” het Lamont geantwoord. ’n Ongemaklike stilte het elke keer nadat die twee vasgesit het, oor die hofsaal gehang.

Peter Moyo en Eric Mabuza,sy prokureur, praat Dinsdag met die media buite die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: William Horne

Ander advokate het op die oog af nie soveel gesukkel met Lamont nie.

Adv. Vincent Maleka SC, het vir Old Mutual opgetree.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, ook vir Moyo, het ietwat beter gevaar voor Lamont, maar is ook voor stok gekry oor ’n fout in hul aansoek.

Lamont het gesê Ngcukaitobi se argumente vir die interdik wil eintlik “onskadelike” gedrag van Old Mutual keer. Toe Ngcukaitobi sê dat die aanstelling van ’n nuwe hoof geensins “onskadelik” is vir Moyo se voortslepende regstappe nie, het Lamont gesê dat Moyo se regspan versuim het om die woord “aanstelling” in die hofaansoek te sit. Lamont het die hofaansoek hardop gelees en dit het net verwys na “onderhoude en werwingsoptrede”. Daar was geen verwysing daarin dat die interdik in werklikheid teen die aanstelling van ’n nuwe hoof is nie.

Mpofu het Moyo se aansoek in repliek afgesluit, maar is opnuut aangejaag deur Lamont wat hom gewaarsku het dat hy net een minuut oor het om sy repliek af te sluit.

Mpofu het summier sy hande in die lug gegooi en hard op die bank langs sy kollega gaan sit.

Toe Lamont die hofsaal verlaat, het Mpofu gesê hy is bly daar was kameras van verskeie mediahuise in die hof.

“Ons is diep bekommerd oor die manier waarop die regter ons vandag geteister het,” het Mabuza gesê.

“Ons is baie teleurgesteld.”

’n Baie meer ontspanne Tabby Tsengiwe, kommunikasiehoof van Old Mutual, het ná die hofverrigtinge aan Netwerk24 gesê die versekeraar is nie deur die hofaansoek ontmoedig in sy soektog na ’n nuwe permanente uitvoerende hoof nie.

“Ons soektog is aan die gang en sal voortgesit word.”

moyo tydlyn

Meer oor:  Old Mutual  |  Peter Moyo  |  Dali Mpofu  |  Hofaansoek  |  Maatskappye  |  Interdik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.