Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Die koeël is so goed as deur die kerk vir toerisme

As die toerismebedryf nie kan heropen teen einde Julie nie, sal 50% van die ganse bedryf permanent sluit, en dit raak net al hoe erger hoe langer ons wag.

Die toerismebedryf gaan nie oorleef nie, reken kenners. En honderd duisende gaan werkloos sit teen die tyd wat die inperking verby is. Foto: Getty Images

“As dit nie heropen teen einde September nie, sal ons 75% van die toerismebedryf verloor,” het Dinesh Naidoo, ’n entrepreneur in toerisme, Woensdag op ’n aanlyn paneelbespreking deur die Universiteit van KwaZulu-Natal gesê.

Die bedryf verwag nou dat hy eers teen Februarie of Maart 2021 op die vroegste sal mag heropen vir internasionale reisigers.

John Aritho, algemene bestuurder van die Beverly Hills Hotel van Tsogo Sun in Durban en voorsitter van die Durbanse sakekamer, sê die vooruitsig vir die bedryf lyk droewig.

“Die kleiner ondernemings sluit al klaar. Hulle kan nie oorleef nie,” sê Aritho.

Naidoo verduidelik daar is niks meer wat die ondernemings kan doen om te oorleef nie.

“Eenvoudige sakekennis sal jou in staat stel om te sien ons kan nie oorleef nie.

“Ons het niks om te verkoop nie. Daar is geen meer koste om te besnoei nie.”

Hotelle soos Tsogo Sun is tans gedeeltelik oop bloot omdat hulle enige vorm van inkomste broodnodig het.

Hulle moet probeer.

Volgens Ronelle Pillay, streekshoof van inkomste by Tsogo Sun in KwaZulu-Natal, is slegs 22 van die hotelgroep se hotelle tans oop. “Ons sit met ’n besettingskoers van slegs 5%.”

Slegs sakelui mag tans reis in Suid-Afrika en slegs vir sakedoeleindes.

Volgens Naidoo maak dit nie sin nie.

“Dit maak nie sin om te diskrimineer tussen sakereise en reise vir vermaak nie!”

Aritha verduidelik dat sakelui nou klein konferensies met 50 ander mense, wat totale vreemdelinge is, mag bywoon. Dit stel hulle baie meer bloot aan Covid-19 as ’n gesin wat op hul eie reis vir vermaak en saambly.

“Dis dan net gesinne wat saam sou reis? Hulle woon reeds saam, nou gaan hulle net met mekaar in aanraking kom as hulle reis.

“Hoe versprei dit die virus meer as sakelui op ’n konferensie?”

Aritha sê Suid-Afrika se toerismebedryf is op die agtervoet vergeleke met internasionale neigings.

In China, waar die pandemie uitgebreek het, is hotelle klaar weer oop en ook in Brittanje en groot dele van Amerika.

Die bedryf kan en sou veiligheidsmaatreëls toepas wat verseker dat die virus nie buitensporig versprei nie, sê hy.

Hulle stem egter saam dat internasionale reise vir eers nie toegelaat moet word nie.

Maar hulle doen ’n beroep op die regering om interprovinsiale reise weer toe te laat en reis vir vermaak oop te maak.

“Plaaslike toerisme is ons brood en botter,” sê Aritha.

En Naidoo sê dit is ’n ramp wat wag op die land as dit nie toegelaat word nie.

“Daar is 750 000 mense wat vanjaar hul werk gaan verloor. Dis so eenvoudig soos dit.”

En hy reken die land kan nie bekostig om so ’n werkloosheidskrisis te hê nie.

“Die regering sien toerisme as ’n luuksheid, maar dis ’n stimulus vir die ekonomie.

“Hulle kom duidelik nie agter hoe belangrik die toerismebedryf vir die ekonomie is nie.”

Volgens die paneel is daar ook geen stimuluspakkette van die regering nie. Toerisme word bloot hoog en droog gelos.

Selfs die verligtingsfonds van die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Covid-19Ters-skema, is ná Junie klaar.

Werknemers in die toerismebedryf wat tot dusver darem ’n paar rand kon kry uit die skema, sal nou vir maande geen inkomste hê nie.

“Sonder Covid-19Ters kan ons mense nie oorleef nie,” sê Naidoo.

En 75% van die werknemers in die bedryf is vroue wat gesinne aan die lewe probeer hou.

Aritha reken ’n humanitêre krisis wag op Suid-Afrika.

“Die regering moet doodeenvoudig ingryp of ons oop maak.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Toerisme  |  Verblyf  |  Toerismebedryf  |  Bestemmings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.