Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dié lugdiens is die veiligste ter wêreld
Qantas is aangewys as die wêreld se veiligste lugdiens. Dié lugdiens vier in 2021 sy 100ste bestaansjaar.Foto: Qantas

Die veiligste en stiptelikste lugdienste ter wêreld is byna almal in Asië, Australië en Nieu-Seeland, het die webwerf AirlineRatings.com bevind.

Turkish Airlines, wat laat Donderdagaand onderweg van Kaapstad na Istanbul ’n noodlanding in Johannesburg moes maak, verskyn nie op dié lys van veiligste lugdienste nie.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ook nie.

AirlineRatings.com neem verskeie faktore in ag om te bepaal watter lugdienste as die veiligste beskou kan word. Dit sluit in oudits van bedryfsliggame, ’n geskiedenis van ongelukke en insidente, hoe winsgewend die lugdiens is en hoe oud sy vloot is.

Daarvolgens het die webwerf pas bepaal dat Australië se Qantas-lugdiens steeds die veiligste ter wêreld is. Qantas het dié eer nog elke jaar sedert 2012 ontvang.

Die webwerf meld ook die “uitstekende prestasies” van Qantas, ook die wêreld se oudste lugdiens, in die 99 jaar wat dit al sake doen.

Qantas word beskou as die wêreld se “mees ervare” lugdiens en word ook geloof vir sy bydrae tot die ontwikkeling van tegnologie wat vandag algemeen in lugvaart gebruik word.

Dit was byvoorbeeld die eerste lugdiens wat vlugopnemers in al sy vliegtuie geïnstalleer het, sowel as die eerste wat satellietkommunikasie gebruik om foute te bespeur.

Die laaste keer dat ’n vlug van Qantas in ’n noodlottige ongeluk was, was in 1951 toe ’n klein vliegtuig van die lugdiens op ’n bergagtige terrein in Nieu-Guinee neergestort het. Die vlieënier en twee passasiers het gesterf.

Die lys van veiligste lugdienste is as volg:

1. Qantas

2. Air New Zealand

3. EVA Air

4. Etihad

5. Qatar Airways

6. Singapore Airlines

7. Emirates

8. Alaska Airlines

9. Cathay Pacific Airways

10. Virgin Australia

11. Hawaiian Airlines

12. Virgin Atlantic Airlines

13. TAP Portugal

14. SAS (Scandinavian Airlines)

15. Royal Jordanian

16. Swiss Air

17. Finnair

18. Lufthansa

19. Aer Lingus

20. KLM

Qantas is egter nie die wêreld se stiptelikste lugdiens nie. In ’n afsonderlike peiling deur die lugvaartmaatskappy Aviation Worldwide is bevind dat Indonesië se Garuda Airlines die stiptelikste is.

Panama se Copa Airlines was die tweede beste lugdiens wat stiptelikheid betref, gevolg deur Japan se Skymark Airlines, Hawaiian Airlines en Latam.

Die meeste van dié lugdienste se vlugte land of vertrek binne 15 minute van die geskeduleerde tyd.

Daar word verwag dat die aantal lugvaartpassasiers teen 2037 gaan verdubbel tot 8,2 miljard per jaar, hoofsaaklik vanweë ekonomiese groei en ’n groeiende middelklas.

Meer as die helfte van dié passasiers gaan van Asiatiese lande afkomstig wees, veral van China en Indië.

Daar word verwag dat 4,7 miljard mense in 2020 minstens een keer sal vlieg. Dit is 4% meer as in 2019.

Meer oor:  Qantas  |  Lugdiens  |  Veiligheid  |  Vliegtuig  |  Lugvaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.