Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dié lugdiens vlieg gou van Lanseria na PE
Mango wil van 11 Julie twee keer per dag tussen Lanseria en Port Elizabeth vlieg.

Die staat se laekostelugdiens Mango vlieg van 11 Julie twee keer per dag tussen die Lanseria-lughawe aan die Wes-Rand en Port Elizabeth in die Oos-Kaap.

Mango het bekend gemaak hy gaan die vlugte met ’n Boeing 737-800 aanpak.

Marelize Labuschagne, waarnemende uitvoerende hoof van Mango, sê hulle is baie opgewonde oor die nuwe roete. Sy glo dis ’n wen-wen-situasie vir sowel Gauteng as die Oos-Kaap want dit sal help om die sakesektor en die toerismebedryf in albei streke te ontwikkel.

Die oggendvlug vanuit Lanseria sal om 08:40 vertrek en om 10:20 in Port Elizabeth land. Dit vertrek dan om 10:55 van Port Elizabeth terug na Lanseria om 12:35 daar te land.

Die middagvlug uit Lanseria vertrek om 15:45 en land 17:25 in Port Elizabeth. Dan is daar die aandvlug uit Port Elizabeth wat om 18:00 vertrek en om 19:40 op Lanseria land.

Die nuwe roete is die vrug op die werk van Nelson Mandela Bay Airlift, ’n inisiatief wat in Julie 2018 begin is deur die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), die Nelson Mandelabaai-metro, die Nelson Mandela Sakekamer en die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie. Die doel van die inisiatief is om handels- en toerismevloei tussen die streek en ander dele van die land te verbeter.

Dit is soortgelyk aan die Wes-Kaapse inisiatief Cape Town Air Access, ’n gesamentlike projek deur Acsa, die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap Wesgro, die Wes-Kaapse regering, die Kaapstad-metro, Kaapstad Toerisme, SA Toerisme en die private sektor.

Anele Qaba, uitvoerende direkteur van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou by die Nelson Mandelabaai-metro, sê die koste van vliegkaartjies na die streek is as ’n versperring vir toerisme- en ekonomiese groei geïdentifiseer. Beter en bekostigbaarder toegang tot die streek is belangrik om die volle toerismepotensiaal te ontwikkel, sê hy.

Die goedkoopste vliegkaartjies tussen Port Elizabeth en Johannesburg is met Flysafair teen so min as R499 per vlug op ’n Sondag of R599 op ’n Maandag, maar dit is na die O.R. Tambo-lughawe.

Flysafair en kulula.com vlieg ook van Lanseria af, maar net na Kaapstad. Kulula.com se beste prys vir vlugte tussen Johannesburg en Port Elizabeth in die volgende week is R710,11.

Volgens Mango se besprekingstelsel gaan hy so min as R795 vra vir ’n vlug tussen Port Elizabeth en Lanseria.

Lugdienste het tot dusver gesukkel om winsgewend vlugte na kleiner lughawens soos Port Elizabeth, George of Oos-Londen te bedryf weens die wisselvallige volumes.

Meer oor:  Mango  |  Vliegtuig  |  Vervoer  |  Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.