Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dié maatskappye al in OBK-ondersoek genoem
Die Openbare Beleggingskorporasie se hoofkantoor in Menlyn, Pretoria.

Die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is al bykans drie maande lank aan die gang.

Hier is ’n lys van al die maatskappye wat al in getuienis genoem is.

3 Laws Capital: ’n Beleggingsbestuursmaatskappy wat in Kaapstad gesetel is. Dr. Iqbal Survé se Sekunjalo besit ’n belang in dié maatskappy.

Daar is na bewering ’n dag nadat die OBK R4,3 miljard in Ayo Technology Solutions belê het, R70 miljoen van dié geld na 3 Laws Capital oorgedra.

African Equity Empowerment Investments (AEEI): Dit is deel van Sekunjalo en besit ’n effektiewe belang van sowat 30% in Ayo.

AfricOil: Die maatskappy koop en verkoop diesel, petrol, paraffien en smeermiddels. Die OBK het R210 miljoen aan AfricOil geleen.

Anglo American: Die OBK het R3,8 miljard se aandele in Anglo verkoop om die belegging in Ayo te finansier.

Ayo Technology Solutions: Die OBK het R4,3 miljard in Ayo belê voordat hy in Desember 2017 op die JSE genoteer is.

Die OBK het na bewering nie die regte prosesse gevolg vir dié belegging nie.

Ayo het glo sy boeke bekook om sy markwaarde te verhoog en sodoende ’n groter belegging uit die OBK te lok.

Die JSE het sedertdien gevra dat Ayo se tussentydse resultate vir die afgelope twee boekjare hersien word.

British Telecom: Ayo sou na bewering ’n 30%-belang in dié tegnologiemaatskappy bekom met van die geld wat die OBK in hom belê het. Dié transaksie het egter nooit gerealiseer nie.

Business Connexion: Dié tegnologiemaatskappy is deur dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, aangestel om te kyk of die OBK se rekenaarstelsel gekraak kan word. Die OBK het glo R966 300 vir dié diens betaal.

Capitec Bank: Die OBK het ’n deel van sy belang in dié bank aan Lebashe Investment Group verkoop. Capitec het nooit regstreeks finansiële steun van die OBK ontvang nie.

Citigroup: Die OBK het die kollateraal wat hy gekry het vir ’n lening van R9 miljard aan Lancaster 101 om aandele in Steinhoff International te koop, aan dié bank verkoop.

Daybreak Farms: Die OBK het reeds in 2015 ’n 36%-belang bekom in dié maatskappy wat met pluimvee boer. Hy het in 2018 die oorblywende belang bekom namens die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF), die Vergoedingsfonds en die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF).

Harith Fund Managers en Harith General Partners: Harith Fund Managers is as volfiliaal van die OBK geskep om die Pan-Afrika-infrastruktuurontwikkelingsfonds te bestuur.

Die OBK het later 64% van sy belang in Harith Fund Managers verkoop en besit steeds die oorblywende belang van 46%. Harith General Partners is as aparte maatskappy gestig om ander beleggings te bestuur.

Jabu Moleketi, voormalige adjunkminister van finansies en voormalige voorsitter van die OBK, is een van die direkteure van dié maatskappye.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, beskuldig Moleketi en sy kollegas Tshepo Mahloele en Warren Wheatley daarvan dat hulle dié maatskappye gestig het om die OBK te “stroop”.

Hulle ontken alle beweringe.

Independent News & Media: Die OBK het R253,9 miljoen namens die GEPF aan Independent geleen.

Independent het nog nie dié lening terugbetaal nie.

Indiafrec Trade and Investment: Dié maatskappy het die OBK in 2014 genader om in S&S Refineries se palmolieraffinadery in Mosambiek te belê as deel van ’n transaksie vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, se seun Siyabonga was ’n direkteur van dié maatskappy.

Die transaksie met Indiafrec is nooit goedgekeur nie, hoewel die OBK wel later in S&S Refineries belê het.

JSE: Die JSE is versoek om voor die OBK te kom getuig oor hoekom hy nie die notering van Sagarmatha in 2018 wou goedkeur nie.

Die OBK het nie in Sagarmatha belê nie.

Die JSE het ook weens getuienis voor die kommissie versoek dat Ayo se halfjaarstate vir die afgelope twee boekjare hersien word.

Karan Beef: Die OBK word daarvan beskuldig dat daar ongerymdhede was ten opsigte van die R5,2 miljard-belegging in Karan Beef.

Dudu Hlatshwayo, direkteur van die OBK, het in haar getuienis na dié transaksie verwys.

Kefolile Health Investments: Holomisa sê in sy getuienis die kommissie behoort die OBK se belegging in dié maatskappy te ondersoek.

Kilimanjaro Capital: Dié maatskappy, met Lawrence Mulaudzi aan die hoof daarvan, het R1,7 miljard by die OBK geleen om ’n SEB-belang in Total Suid-Afrika te bekom.

Mulaudzi het getuig die lening word volgens die ooreenkoms terugbetaal. Mulaudzi het erken hy het nadat die transaksie goedgekeur is, in ’n romantiese verhouding met Sibusisiwe Zulu, ’n direkteur van die OBK, betrokke geraak.

Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC): Die kommissie het die OBK in Februarie beveel om al die geld wat hy in Ayo belê het, met rente, terug te kry.

Die hooggeregshof in Pretoria het sedertdien bevind dié opdrag van die CIPC was onwettig.

Lancaster 101: Die OBK het R9 miljard van die GEPF se geld aan dié bemagtigingsgroep geleen om aandele in Steinhoff International te koop.

Lanseria: Die OBK en die Pan-Afrika-infrastruktuurontwikkelingsfonds besit saam ’n belang van 50% in dié lughawe wes van Johannesburg. Holomisa bevraagteken hoe die OBK en die fonds hierin belê het.

Lebashe Investment Group: 'n Bemagtigingsmaatskappy wat beleggings bestuur. Hy het aandele in Capitec Bank by die OBK gekoop.

Maison Holdings: Dit is die maatskappy van Pretty Louw, wat na bewering ’n verhouding met Matjila gehad het. Maison het sake met Mobile Specialised Technology gedoen.

Mobile Specialised Technology: Dié maatskappy bied mobiele gesondheids- en onderrigdienste aan minderbevoorregte Suid-Afrikaners in veral die Wes-Kaap.

Hy gebruik busse wat spesiaal vir dié doel ontwerp is en het die OBK om ’n lening gevra om sewe nuwe busse te bou.

Die OBK het R21 miljoen aan hom geleen vir die busse en het ’n verdere R5 miljoen as korporatiewe maatskaplike belegging aan hom toegestaan.

Naledi Forensic Services: Die maatskappy is deur die OBK aangestel om uit te vind wie James Nogu is. Nogu is die skuilnaam van die fluitjieblaser wat Matjila van korrupsie beskuldig het.

Nogu het ook die bewering gemaak dat Matjila en Louw ’n romantiese verhouding het.

Naledi kon egter nie Nogu se identiteit vasstel nie. Die OBK het Naledi glo R256 000 vir dié diens betaal.

Pepkor (Steinhoff Africa Retail – Star): Toe Steinhoff se aandeelprys aan die begin van 2017 stelselmatig begin daal het, het die OBK begin planne beraam om aandele in Pepkor – wat toe nog as Star bekend gestaan het – te bekom.

Premier Fishing: Die OBK het R200 miljoen geleen aan dié maatskappy, wat ook deel vorm van die Sekunjalo-groep.

Sagarmatha: Nog een van Survé se maatskappye wat die OBK probeer oorreed het om in hom te belê toe hy in 2018 wou noteer. Die notering is egter nie deurgevoer nie.

Sakhumnotho: Matjila het Kilimanjaro Capital glo gedwing om saam met dié maatskappy te werk voordat hy bereid was om ’n lening van R1,7 miljard goed te keur. Die lening was om ’n SEB-belang in Total Suid-Afrika te bekom.

Sasol: Een van Ayo se grootste kontrakte sedert hy op die JSE genoteer het nadat die OBK in hom belê het, is met Sasol. Die kontrak geld vir sewe jaar.

Sekunjalo: Survé se beheermaatskappy. Maatskappye soos Ayo, Sagarmatha, 3 Laws Capital en AEEI behoort almal op ’n manier aan Sekunjalo.

S&S Refineries: Dit is ’n fabriek in Nampula, Mosambiek, wat palmolie verwerk. Die OBK het $63 miljoen namens die GEPF in die aanleg belê. Die randwaarde van die transaksie was nagenoeg R1 miljard.

Steinhoff: Die maatskappy, waarin die OBK R9 miljard belê het, se aandeelprys het in Desember 2017 in duie gestort nadat grootskaalse korrupsie aan die lig gekom het. Dit het egter reeds vroeër dié jaar begin daal.

Pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF): Die meeste van die geld wat die OBK belê, is dié van staatsamptenare wat in die GEPF gestort word.

Total SA: Die petrochemiese maatskappy waarin Kilimanjaro Capital ’n SEB-belang met behulp van ’n lening deur die OBK bekom het. Die lening het R1,7 miljard beloop.

VBS Mutual Bank: Die OBK het toe VBS in Maart 2018 onder kuratele geplaas is, ’n belang van 26% in dié onderlinge bank gehad. Grootskaalse bedrog is by die bank ontbloot.

Ernest Nesane, voormalige regshoof, en sy kollega Paul Magula, voormalige risikohoof van die OBK, het albei as direkteure van VBS gedien.

Zonkizizwe Investments: Die maatskappy het glo die AfricOil-transaksie aan die OBK voorgelê.

Meer oor:  Openbare Beleggingskorporasie  |  Obk  |  Ayo  |  Dan Matjila  |  Iqbal Survé  |  Obk-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.