Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Meeste winkels van Pep, Ackermans is Vrydag oop
Die Pep-winkel in Woodstock in Kaapstad was Donderdagmiddag nog gesluit. Foto: Nellie Brand-Jonker

Klante van Pep en Ackermans sal dankbaar wees om te hoor dié winkels maak Vrydag hul deure oop.

Kragtens regulasies wat Woensdag afgekondig is, mag klerewinkels winterklere, kinderklere en beddegoed verkoop.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van die Pepkor-groep, sê daar is klante wat desperaat is om klere te koop.

Volgens hom gaan 80% van Pepkor se 5 500 winkels oop wees, maar hulle sal net dié items verkoop wat kragtens vlak 4 van die inperking toelaatbaar is.

Dit beteken die meubelwinkels Bradlows, Rochester, Russells en Sleepmasters bly gesluit.

Klere

Die meeste winkels van Pep, Ackermans, Ackermans Women, Dunns, John Craig, Shoe City, Tekkie Town en Refinery gaan oop wees om die toegelate produkte te verkoop.

Die winkels sal op die vakansiedag 1 Mei oop wees maar daarna sal dit nie op vakansiedae en Sondae oop wees nie. Vir Ackermans sal dit winkels wees wat gewoonlik op vakansiedae oop is.

Die winkels sal ook die toegelate finansiële dienste mag bied. “Dié produkte – kinder-, baba- en winterklere – is noodsaaklik vir die meeste klante, veral met die winter om die draai.”

Meer besonderhede van die verskillende winkels wat oop is en die ure wat hulle oop is, kan hier gekry word vir Ackermans en vir Pep.

Klante moet let op die nuwe winkelure wat verander het. Die winkels gaan van 9:00 tot 17:00 van Maandag tot Vrydag oop wees. Saterdae gaan die winkels van 9:00 tot 13:00 oop wees. 

Huisraad

PepHome sal oop wees sodat klante noodsaaklike produkte soos komberse en beddegoed vir die winter kan aanskaf.

Elektroniese produkte en selfone

Pepcell, Incredible Connection en Hi-Fi Corp sal in bedryf wees om werkendes, leerlinge en studente toegang te gee tot broodnodige toerusting om te verseker dat hulle by die huis kan werk. Die produkte wat verkoop gaan word, sluit in skootrekenaars, tafelrekenaars, drukkers en skandeerders, asook lugtyd.

Ysterware

Al die ysterwarewinkels in die Pepkor-stal sal oop wees en die nodige riglyne volg.

Die groothandel- en spesialiswinkels sal oop wees gegrond op vraag. Kragtens vlak 4-regulasies mag die konstruksiesektor met bedrywighede begin.

Die winkels sluit in Buco, Timbercity en Tiletoria.

Veiligheid

Die streng veiligheidsmaatreëls wat die regering stel om klante en personeel te beskerm, sal gevolg word, sê Lourens. “Ons belangrikste fokus is om ons personeel en klante veilig te hou.”

Die volgende stappe is reeds gedoen:

  • Werknemers het opleiding oor die maatreëls ontvang;
  • Persoonlike beskermende toerusting is aan waarnemers verskaf, onder meer maskers en skerms;
  • Maatreëls is getref om te verseker ’n gesonde afstand tussen mense word in winkels gehandhaaf;
  • Plekke waar klante in toue moet wag, is afgemerk;
  • Werknemers se temperatuur word getoets;
  • Werkoppervlakke sal gereeld ontsmet word en die winkels sal gereeld skoongemaak word; en
  • Handontsmettingsmiddels sal vir werknemers en klante beskikbaar wees.

Fabrieke, kantore

Lourens sê die meeste kantoorpersoneel kan van die huis af werk. Die meeste van die groep se permanente winkelpersoneel plus werknemers by fabrieke en verspreidingsentrums kan terugkeer werk toe.

Ekonomiese invloed 

Lourens sê die verslapping van die inperking word verwelkom en sal die ekonomie op kort termyn help.

“Pepkor sal voortgaan om die regering se besluite hieroor te ondersteun omdat die gesondheid en veiligheid van Suid-Afrikaners die eerste prioriteit is.”

Hy meen aanvanklik sal daar baie opgekropte vraag van verbruikers wees. “Maar dit gaan afneem weens die toenemende werkloosheid terwyl die invloed van Covid-19 uitbrei. Ons moedig klante aan om nie meer as wat nodig is te koop nie en versigtig te begroot in die komende maande.

“Pepkor se bestuurspan is oortuig ons sal die onderneming deur dié moeilike tyd kry en ’n belangrike deel van die kleinhandellandskap bly.”

Bydraes

“Hoewel Pepkor nie kwalifiseer vir die hulp wat aan die sakesektor gebied word nie, is ons dankbaar vir die daadwerklike stappe wat die regering doen om arm, honger en behoeftige mense in die land by te staan.”

Die groep dra ook by tot inisiatiewe wat arm mense ondersteun.

Pepkor het tot op hede meer as R8 miljoen bygedra aan verskeie inisiatiewe. Dit sluit in:

  • R2 miljoen wat aan die Solidariteitsfonds, Do More en Gift of the Givers geskenk is;
  • Die Pepco-fabriek in Parow, Kaapstad, is heringerig om persoonlike beskermende toerusting soos gesigmaskers te vervaardig;
  • Koopbewyse vir kos is in die informele sektor versprei deur die maatskappy se Flasch-tegnologie te gebruik;
  • Klante sal by die kasregisters in winkels skenkings kan maak; en
  • Die direksie en uitvoerende direkteure het van hul salarisse prysgegee.
Meer oor:  Pepkor  |  Pep  |  Ackermans  |  Vlak 4  |  Klerewinkels  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.