Tot dusver kon skoolklere meestal net by Jet, Pep, Ackermans en Woolworths gekoop word, maar verbruikers sal nou ook by Mr Price dié klere kan koop.

Mr Price het ná al die jare ook nou skoolklere bekendgestel. Foto: Skermgreep
Die winkelgroep het nou skoolklere in sy Suid-Afrikaanse winkels begin verkoop om 'n gedeelte van die jaarlikse verkope van R4,5 miljard te kry.
Die groep het by navraag hoekom hy nou besluit het om ook skoolklere te verkoop, gesê gedetailleerde navorsing is verlede jaar gedoen om belangrike geleenthede vir groei in Suid-Afrika te identifiseer.
“Skooluniforms is as een van hierdie geleenthede geïdentifiseer, wat aan die groep ’n addisionele kategorie bied met hoë potensiaal vir groei.”
“Deur nie skoolklere te verkoop nie, het ons ons klante ’n rede gegee om by ons mededingers te gaan koop.”
Hy sê behalwe vir die wesenlike geleentheid om die produkte te verkoop word verwag dat dit ook verkope in ander kategorieë gaan lig.
“Dit gee die geleentheid vir ons bestaande klante om skoolklere by ons te koop maar ook vir nuwe klante wat skoolklere soek om ander produkte te koop.”
Volgens hom is Mr Price in die proses om die volle reeks skoolklere in sy winkels bekend te stel. Dit duur sowat twee tot drie weke om die voorraad in al die winkels te kry.
Die voorraad sal in die eerste week in Desember volledig in alle winkels wees.
Hy sê amper die hele skoolklerereeks word in Suid-Afrika vervaardig.
In die 2018-jaarverslag van Pepkor is gesê 55% van alle skooldrag in Suid-Afrika word deur Pep verkoop en 72% van alle skoolskoene.
Vir die begin van die 2019-skooljaar het die groep 5,2 miljoen hemde, 2,5 miljoen kortbroeke en langbroeke en 3,6 miljoen skoolskoene verkoop.
Die groep wat vandeesweek sy resultate vir die boekjaar tot einde September uitgereik het, sê Pep se terug-skool-toe-verkope is negatief geraak deur die nasionale inperking en tuisonderrig.
Shoe City, wat ook deur Pepkor besit word, is negatief geraak deur die laer vraag na formele en skoolskoene wat vanjaar bestaan omdat mense tuis werk en die skole vir lank toe was.
Sy klerefabriek in Kaapstad vervaardig die meeste van Pep se skoolklere. Die groep het verlede jaar gesê tien miljoen skooluniforms per jaar word daar vervaardig.