Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dié uitspraak kan lei tot toename in likwidasies

Die uitspraak van die arbeidsappèlhof wat ’n sakereddingsplan as voorvereiste stel vir afleggings, kan lei tot ’n toename in likwidasies, sê sakereddingspraktisyns.

CARDIFF, UNITED KINGDOM - JULY 09: A man looks thr
Talle ondernemings kry reeds swaar en meer likwidasies kan nou volg. Foto: Getty Images

Dít sal werkers benadeel omdat alle dienskontrakte opgeskort word sodra ’n maatskappy in voorlopige likwidasie gaan.

Die National Union of Metalworkers (Numsa) en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kajuitpersoneel (Sacca) was verheug nadat die vroeëre uitspraak van die arbeidshof in hul guns op appèl bevestig is. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakeredders moet nou die herstruktureringskennisgewing terugtrek wat hulle op 9 Maart uitgereik het. Daarvolgens sou al 4 700 werkers geraak word met 2 440 poste wat in die nuwe struktuur oorbly. Ná die konsultasietydperk van 60 dae sou die personeel se diens in Mei beëindig word.

Die hof stem saam dit is onbillik om van vakbonde en SAL-werkers te verwag om sinvol te konsulteer alvorens die plan om die SAL te red bekend gemaak is. Dít is intussen gedoen en krediteure sal Maandag daarvoor of daarteen stem.

Vir die SAL se reddingsproses sal die gevolge waarskynlik min wees omdat die reddingsplan nou gepubliseer is en werknemers na verwagting ruim vrywillige skeidingspakkette gaan aanvaar, wat afleggings onnodig maak.

In die uitspraak sê die hof egter die kwessie is van openbare belang en opper nuwe regsvrae.

Volgens Cloete Murray, ’n likwidasie-en-sakereddingspraktisyn van Sechaba Trust, is die herstruktureringsproses ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge ten tyde van ’n sakereddingsproses nou onlosmaaklik verbind aan die sakereddingsplan.

Dít maak sakeredders se taak baie moeiliker, sê hy. “Die doel met sakeredding is om likwidasie en werkverliese te keer. Daarvoor moet ’n sakeredder soveel moontlik beweegruimte hê.”

Gedurende sakeredding is daar twee prosesse. Die direksie en bestuur gaan aan die een kant voort met sake, terwyl die sakeredders besig is met die reddingsaksie. Die herstrukturering is deel van wat enige maatskappy kan doen, maar die uitspraak maak dit nou deel van die reddingsproses, sê Murray.

Sakeredders kan dus nie onmiddellik doen wat nodig is om koste te besnoei nie.

Die Maatskappywet vereis die plan moet binne 25 dae gereed wees, maar dít is makliker gesê as gedaan. Daarom kry sakeredders meestal uitstel daarvoor. “Met ’n groterige maatskappy neem dit maklik ’n maand om jouself net te oriënteer en uit te vind hoe die maatskappy werk,” sê Murray. Dan moet die sakeredders nog alle belanghebbendes konsulteer. Dit sluit in die finansiers, belastinggaarder, krediteure en werkers.

Dit beteken die maatskappy moet oortollige mense maande lank finansieel dra, wat dit al hoe moeiliker maak om die maatskappy te red. “As ’n direksie nou moet besluit op ’n plan van aksie, kan likwidasie aantrekliker wees as sakeredding. Jy plaas die maatskappy in voorlopige likwidasie, wat alle dienskontrakte opskort, doen afleggings en plaas dit weer terug om sake te doen.”

Dawie van der Merwe, direkteur van BDO Business Restructuring, sê die uitreik van ’n herstruktureringskennisgewing beteken nie mense word dadelik uit diens gestel nie. Dit word voorafgegaan deur ’n konsultasieproses van 60 dae.

“Ek kan nog daarmee saamleef dat uiteindelike afleggings eers gedoen word wanneer die plan op die tafel is, maar waarom kan die prosesse nie gelyktydig plaasvind nie?”

Wat die SAL betref, groei die maatskappy se finansiële verpligting terwyl die proses sloer. As die plan aanvaar word en genoeg mense aanvaar die vrywillige skeidingspakkette, sal die praktiese uitwerking van die hofuitspraak klein wees. As minder mense dit doen, moet die sakeredders voor begin met die proses, wat onder meer ’n konsultasietydperk van 60 dae insluit.

“Elke maand wat die proses sloer, is nog ’n maand dat die lugdiens met die meulsteen van ’n oordrewe salarisrekening moet probeer oorleef.”

Meer oor:  Sakereddingspraktisyns  |  Arbeidshof  |  Sakeredding  |  Afleggings  |  Likwidasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.