Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Die wiele rol om Trans Hex te denoteer
JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA  APRIL 22 (SOUTH AFRICA
Christo Wiese. Foto: Gallo Images/Getty Images

Trans Hex, ’n sukkelende diamantmaatskappy in die Noord-Kaap waarvan Christo Wiese een van die grootste aandeelhouers is, gaan voort met sy plan om te denoteer.

Die maatskappy het Maandag ’n omsigtigheidsverklaring hernu oor die plan om minderheidsaandeelhouers uit te koop en die maatskappy te denoteer.

Dit sal die einde bring aan die maatskappy se 38 jaar as genoteerde maatskappy. Die maatskappy self is al 54 jaar oud. Dis in 1965 begin en het in 1981 genoteer.

Die rede vir die stap is juis om die koste te bespaar. ’n Ongenoteerde maatskappy hoef aan minder regulasies te voldoen.

“Die direksie glo dat die notering min voordele aan die maatskappy bied in dié stadium van sy bedryfsiklus.”

Trans Hex bied sy minderheidsaandeelhouers R1 per aandeel aan. Dis ’n stewige premie van 108% méér as die 30-dae- geweegde gemiddelde aandeelprys voor 5 Julie, die eerste keer wat die plan bekend gemaak is. Toe was die aandeel 48c werd.

Onderhandelinge duur voort en ’n ferm aanbod is nog nie gemaak nie.

Langtermynaandeelhouers sal daarop kan wys dat die aandeel die afgelope 52 weke ’n hoogtepunt van R3 behaal het en so onlangs as Februarie 2017 selfs op R5,50 gesluit het.

Die konsortium wat bestaan uit Cream Magenta 140, Metcap 14 en RAC Investment Holdings word nie uitgekoop nie. Cream Magenta en Metcap is beleggingsvoertuie van Wiese. RAC is ’n gesamentlike vennootskap van die batebestuursfirma RECM en die private-ekwiteitsfirma Calibre.

Die konsortium besit saam byna 80% van Trans Hex.

Trans Hex besit myne in Suid-Afrika en Angola. Die Angolese myne vaar goed, maar in Suid-Afrika probeer hy ontslae raak van sy filiaal West Coast Resources, wat die myne verteenwoordig wat vantevore aan De Beers behoort het.

Trans Hex het in die boekjaar tot einde Maart ’n wins van R144,1 miljoen gemaak nadat hy in die vorige jaar ’n verlies gely het. Sy inkomste uit diamantverkope was R312,6 miljoen.

Meer oor:  De Beers  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.