Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dis-Chem daal ondanks groei in verkope, wins

Dis-Chem se verkope van R21,4 miljard vir die boekjaar tot einde Februarie – ’n styging van 10% in ’n moeilike ekonomie – het beleggers op die JSE nie beïndruk nie.

Dis-Chem se inkomste het met 10% toegeneem.

Die maatskappy se aandeelprys het die dag 0,91% laer op R27,29 gesluit nadat dit vroeër die dag byna 7% laer was.

Die syfers wys dat Dis-Chem en sy mededinger Clicks albei stadig maar seker besig is om markaandeel van groot supermarkte af te rokkel in die verkope van babaprodukte, toiletware en skoonheidsprodukte, blyk uit data wat albei maatskappye in hul jaarresultate aanhaal.

Albei maatskappye spog dat hulle markaandeel wen en haal Nielsen-data hiervoor aan.

Albei is ook besig om in die kategorie vir medisyne markaandeel te wen. In dié geval is dit kleiner en onafhanklike apteke wat die markaandeel inboet.

Die kwaai mededinging is tot voordeel van verbruikers, blyk uit Dis-Chem se resultate vir die boekjaar tot einde Februarie, wat Donderdag uitgereik is.

Die groep sê hy kon sy verkoopspryse gemiddeld met slegs 1,16% verhoog – ver onder die gemiddelde verbruikersprysinflasiekoers vir dié tydperk van 4,6%.

Dis-Chem se verkope uit sy winkels het wel met 9,7% tot R19,6 miljard opgeskiet, ’n teken dat verbruikers in volume meer koop.

Dis-Chem

Vergelykbare verkope – dus in winkels wat in albei boekjare oop was – het met net 3,4% gestyg, wat daarop dui dat tot twee-derdes van die verkoopsgroei aangedryf word deur nuwe winkels. Vergelykbare verkope word as die meer volhoubare maatstaf beskou omdat nuwe winkels dikwels voete lok wat nie noodwendig gereeld daar gaan kom nie.

Dis-Chem het in die boekjaar 20 nuwe winkels geopen, onder meer in Sandton, Eastgate en Gateway en sy eerste winkel in Botswana.

Die groep het einde Februarie 149 winkels gehad en het die nuwe boekjaar sommer vinnig afgeskop met die opening van nóg vyf winkels. Nog 17 word deur die loop van 2019 beoog.

Clicks het teen die einde van sy boekjaar 633 winkels gehad.

Staking

Die vyf maande lange staking van 2 300 werkers by Dis-Chem het die maatskappy uiteindelik R50,4 miljoen aan regstreekse inkomste en nóg tot R26 miljoen aan verlore verkope en die finansiering van voorraad gekos.

Vir die stakende werkers het dit weinig opgelewer – beslis nie die minimum salaris van R12 500 of die gewaarborgde verhoging van 12,5% vir drie jaar lank wat hulle geëis het nie.

Die staking is gekenmerk deur aanvalle op ander werknemers en skade aan hul besittings, sowel as skade aan die maatskappy se eiendom.

Die staking deur lede van die National Union of Public Service and Allied Workers (Nupsaw) het van 16 November 2018 tot 10 April 2019 voortgesleep.

Die groep het reeds in Februarie gewaarsku oor die koste. Hy moes kantore tydelik verskuif, tydelike personeel aanstel en regskoste aangaan.

Veral die groothandelafdeling, wat voorraad aan Dis-Chem en ander apteke verskaf, is deur die staking geraak.

Minder as 13% van Dis-Chem-werknemers behoort aan die vakbond.

Die staking is gekenmerk deur aanvalle op ander werknemers en skade aan hul besittings, sowel as skade aan die maatskappy se eiendom.

Nupsaw het ingestem dat hy slegs in kollektiewe bedinging betrek sal word as hy 50% plus een van Dis-Chem se werknemers verteenwoordig, iets wat reeds in Januarie 2018 ooreengekom is.

Dis-Chem het wel ingestem om pro rata-bonusse aan werknemers te betaal wat in Desember gestaak het en nie hul bonus ontvang het nie.

Die staking het onder meer meegebring dat verkope in Desember – gewoonlik die beste maand vir die groep – met net 6,2% gegroei het en met -2,5% by vergelykbare winkels.

In syfers

  • Inkomste styg met 10% tot R21,4 miljard.
  • Bedryfswins styg met 8,2% tot R1,2 miljard.
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 7,4% tot 85,4c.
  • Verkope in winkels het met 9,7% tot R19,6 miljard gestyg en groothandelverkope met 11,2% tot R14,5 miljard. Nagenoeg 80% van die groothandelverkope is aan Dis-Chem-apteke.
  • ’n Finale dividend van nagenoeg 13,5c per aandeel word uitgekeer.
Meer oor:  Dis-Chem  |  Apteke  |  Aandeelpryse  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.