Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dis-Chem: Dié winkels woel weer

Dis-Chem belowe jou medisyne gaan binnekort binne net 60 minute afgelewer word as jy dit op die apteekgroep se app bestel.

dischem
Dis-Chem vaar goed ten spyte van die staat van inperking en Covid-19-pandemie.

Dis-Chem DeliverD gaan vir eers die spoedaflewerings van 30 van sy winkels af doen. Mense wat naby dié winkels woon, sal hul medisyne en ander produkte in ’n japtrap kan kry.

Dis ook nie ál nuwe tegnologie van die apteekgroep nie. Die groep het onlangs sy eerste robot in sy verspreidingsentrums “in diens geneem”.

“Hy het nie nodig om van skof te verander of teetyd te neem nie. En tot dusver het hy nog oor niks gekla nie,” sê Christopher Williams, Dis-Chem se logistiekbestuurder, spottend.

Dis-Chem het Vrydag sy resultate vir die boekjaar tot einde Februarie uitgereik. Hoewel die groep as apteek kop bo water gehou het regdeur die pandemie, het hy nagenoeg R200 miljoen se verkope verloor omdat onder meer skoonheidsprodukte nie in April verlede jaar verkoop kon word nie.

In syfers

Só lyk Dis-Chem se syfers vir die boekjaar tot einde Februarie, vergeleke met die vorige boekjaar:

  • Inkomste styg met 9,6% tot R26,3 miljard. Hiervan het kleinhandelverkope met 7,6% tot R23,5 miljard gestyg. Vergelykbare verkope (dus in winkels wat ook die vorige jaar oop was) het met 2,7% gestyg.
  • Aanlyn verkope het met 261% gestyg.
  • Groothandelverkope het met 16,4% tot R19,3 miljard gestyg, waarvan R16,4 miljard interne verkope aan Dis-Chem-winkels was.
  • Verdienste per aandeel het met 11,8% tot 77,8c gestyg.
  • ’n Dividend van 31,1c per aandeel is uitgekeer.
  • Bedryfswins het met 1,4% tot R1,3 miljard gestyg.
  • In die jaar is 25 nuwe winkels geopen.


Verkoopspatrone

Die groep sê daar is nou tekens dat mense begin terugkeer na groot winkelsentrums nadat die voorkeur verlede jaar vir alleenstaande winkels of winkels in geriefsentrums naby mense se huis was.

Spar het vroeër die week dieselfde tendens opgemerk, maar Massmart sê die aantal voete in winkels is nog nie wat dit voor die pandemie was nie.

Die stygende infeksiesyfers – vir baie ’n teken dat die derde vlaag aan die opbou is, hoewel dit nog nie amptelik hier is nie – kan verkoopspatrone opnuut ontwrig.

Dis-Chem se inkomste vir die boekjaar het met 9,6% tot R26,3 miljard gestyg.

Baby City

Die verkryging van Baby City het R128 miljoen se inkomste vir die groep verseker. Dit was slegs in Januarie en Februarie deel van die groep se syfers nadat die verkryging afgehandel is.

Covid-19-koste

Die pandemie het Dis-Chem se hele boekjaar geraak. Die maatskappy het 59 personeellede aan die siekte afgestaan.

Covid-19-maatreëls het die maatskappy R56,6 miljoen gekos.

Daarvan was:

  • R25,5 miljoen vir geskenkbewyse aan personeel en skenkings;
  • R19,1 miljoen vir die koste van persoonlike beskermende toerusting;
  • R3 miljoen vir die toets van personeellede; en
  • R9 miljoen vir ander Covid-19-verwante uitgawes.

Met die uitsondering van die geskenkbewyse aan personeel gaan uitgawes vir Covid-19 voortduur.

Kleinhandelverkope

Dis-Chem het die afgelope boekjaar markaandeel verloor, wat hy grootliks aan veranderende verkoopspatrone toeskryf.

Mense was meer geneig om onafhanklike apteke naby hul huis te besoek as om winkelsentrums toe te gaan. Hulle het ook verkies om alles wat hulle kon, by die supermark te koop wanneer hulle kos gaan koop, eerder as om toiletware elders te koop.

Vir medisyne het sy markaandeel van 22,2% tot 21,8% gedaal. Die groep se markaandeel het in die eerste vyf weke van sy nuwe boekjaar, die tyd tot 4 April, tot 22,2% teruggebons.

Dis-Chem se markaandeel vir toiletware en skoonheidsprodukte het van 17,3% tot 16% gedaal, vir gesondheidsorg het dit van 47,1% tot 46,1% gedaal en vir babaprodukte was die daling van 10,2% tot 9,5%.

Lojaliteitsprogram

Hoewel lede van Dis-Chem se lojaliteitsprogram met byna 700 000 tot 6,2 miljoen mense gestyg het, is daar kommer dat net 85% van belonings benut word.

Lojaliteitskaarte is vir winkelgroepe uiters belangrik. By Dis-Chem is lede vir 70,3% van die verkope in die winkel (medisyne dus uitgesluit) verantwoordelik.

Transaksies

Dis-Chem het die afgelope ruk die een verkryging ná die ander aangekondig waardeur hy van ’n winkel tot ’n volskaalse verskaffer van dienste vir primêre gesondheid wil uitbrei.

Die verkryging van Baby City teen R422 miljoen is nou afgehandel en dit is nou ten volle op die groep se tegnologieplatform geïntegreer.

Die verkryging van ’n belang in Healthforce teen R48 miljoen is op 1 Maart afgehandel. Healthforce is ’n sagtewarestelsel wat in 440 klinieke landwyd gebruik word. Dit sluit foon- en videokonsultasies met klinieksusters en dokters in.

Die koop van die 50 Medicare-apteke vir R282 miljoen moet nog deur die Mededingingskommissie goedgekeur word, so ook die verkryging van ’n 25%-belang in Kaelo teen tot R195 miljoen. Kaelo doen welstandsprogramme vir maatskappye, bestuurde gesondheidsorg vir chroniese toestande, en gapingsdekking en dekking vir primêre gesondheidsorg en bedryf die virtuele sielkundediens AskNelson.

Meer oor:  Dis-Chem  |  Apteke  |  Winkelsentrums  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.