Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dis die plan met Alexander Forbes – Johan van Zyl

Net soos African Rainbow Capital (ARC) Investments goedkoper data en goedkoper banke na Suid-Afrika wil bring, wil hy ook via Alexander Forbes ’n goedkoper aftrede moontlik maak.

Só verduidelik dr. Johan van Zyl, medehoof van die swart beleggingsbeheermaatskappy ARC Investments, die planne met die sukkelende finansiëledienstegroep Alexander Forbes.

Die miljardêr Patrice Motsepe se swartbemagtigingsgroep Ubuntu-Botho Investments is indirek die grootste aandeelhouer in ARC Investments.

Johan van Zyl; co-CEO of African Rainbow Capital;
Johan van Zyl, mede-hoof van African Rainbow Capital. Foto: Elizabeth Sejake

Van Zyl het ná die bekendmaking van ARC Investments se halfjaarresultate tot einde Desember in ’n telefoniese onderhoud met Netwerk24 gepraat.

Hy meen dat die probleme by Alexander Forbes kort termyn is. ARC het tans ’n belang van 17% in Alexander Forbes en mik daarna om uiteindelik 20% te hou – sy mikpunt vir al sy beleggings.

Volgens hom is Alexander Forbes ongelooflik goed vir die toekomstige veranderinge in die pensioenfondsbedryf geplaas.

Die hele beweging in die pensioenfondsmark, wat deur tesourie en die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) gedryf word, is om spaargeld in aftreefondse te behou. “Sodat mense nie hul geld vat wanneer hulle van werk verander nie en wanneer hulle die dag aftree, nie al hul geld vat nie.”

Groot versekeraars soos Sanlam, Momentum en Liberty het hul geld gemaak uit die geld wat met aftrede uit pensioenfondse onttrek is en waarmee mense dan duur produkte moes koop om te spaar.

Pensioenfondse se koste is baie laer.

Van Zyl sê wat met Alexander Forbes in die pensioenfondsbedryf beoog word, is soortgelyk aan wat ARC met sy belegging in die data-netwerkgroep Rain en in die digitale bank TymeBank beoog.

“Ons het goeie netwerke in die land, maar van die duurste data in die wêreld. Ons het die beste banke, maar van die duurste transaksiekostes. Ons bring hierdie kostes af.”

ARC besit ook ’n belang in die nuwe beurs A2X.

“Die JSE is van die beste ter wêreld maar van die duurste. A2X bring dié koste af.”

Hy sê dit is nodig om ’n paar dinge by Alexander Forbes te doen soos dat hy besef waar hy die mededingende voordeel het.

“Ons grootste verskil met Alexander Forbes se leierskap was dat hulle wil speel waar hul mededingers goed is. Dit is soos ’n wêreldklaskolwer wat weier om te kolf omdat hy wil leer boul. Dit was strategies nog altyd ons probleem met Alexander Forbes.”

Hy gee toe daar was bestuursprobleme by Alexander Forbes. “Maar jy moet onthou, wat is ’n goeie onderneming? Vyf ouens het ná mekaar daar drooggemaak en dit is steeds die grootste pensioenfondsadministrateur in die land. Al foeter hulle dinge op, bly hy sterk.”

Van Zyl sê daar is nou die eerste keer in 15 jaar ’n “pensioenfondsekspert” aan die stuur van sake.

Dawie de Villiers, voorheen die hoof van Sanlam se pensioenfondsafdeling, is verlede jaar aangestel nadat die vorige hoof, Andrew Darfoor, afgedank is.

Alexander Forbes moes onlangs ná negatiewe mediaberigte die ongewone stap doen om ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, uit te reik oor vertroulike inligting wat deur ’n gegriefde oudwerknemer uitgelap is.

Van Zyl sê sommer reguit dit is Darfoor wat die inligting uitgelap het.

TymeBank

ARC het verskeie verkrygings in die halfjaar tot einde Desember gedoen, waarvan die belangrikste die meerderheidsbelang in die nuwe digitale bank TymeBank is, wat vir R275 miljoen bekom is.

ARC gaan sy belang van 31,7% tot 36,7% verhoog deur nog R346 miljoen se kapitaal oor ’n tydperk van vier maande van Februarie af in die bank te ploeg.

Die bank is middel Februarie bekend gestel. Sy kitsbanke of kiosks was in daardie stadium in 720 Pick n Pay- en Boxer-winkels beskikbaar.

Van Zyl sê TymeBank het reeds dubbel die kliëntetal – 125 000 – as wat hulle teen dié tyd verwag het. Hulle is veral verras oor hoeveel mense by TymeBank spaar.

“Ons is nie bekommerd oor Discovery Bank nie, want ons ding glad nie met mekaar mee nie. Discovery se kliënte gaan na Woolies toe. Ons kliënte is meer in Shoprite, aan die onderpunt van die mark.”

Rain

ARC se grootste belegging in waarde is die belang in die data-netwerkgroep Rain.

Sy belegging in Rain beloop R2,3 miljard van die waarde van sy hele beleggingsportefeulje van R9,6 miljard.

Johan van der Merwe, medehoof van ARC Investments, sê die waarde van die belegging word op die toekomstige kontantvloei gegrond.

Rain het ’n ooreenkoms met Vodacom om sy toerusting op 5 000 Vodacom-selfoontorings te installeer. Rain betaal huur hiervoor aan Vodacom, en terselfdertyd betaal Vodacom weer vir Rain vir die gebruik van 25% van Rain se spektrum.

Die toerusting is reeds op 2 900 torings aangebring.

Rain is ook tans die enigste datagroep wat ’n lisensie het vir die spektrum vir die volgende generasie 5G-tegnologie in Suid-Afrika.

Politiek

Van Zyl sê hulle is nie optimisties oor die ekonomie of die politiek nie.

“Ons is optimisties oor ons portefeulje van produkte en waar ons koste kan verlaag en dinge goedkoper kan doen.”

Hy het Pep as ’n voorbeeld gebruik van hoe op die onderpunt van die mark gefokus is.

“Ons hoop om met die dinge wat ons goedkoper kan doen, meer mense te bedien.”

ARC se aandeelprys het Donderdag ná die bekendmaking van die resultate met 3% gestyg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.