Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dís hoekom Steinhoff se deure nog oop is

Steinhoff se deure is nog oop omdat “ons glo dit is ’n geveg wat werd is om geveg te word”, het Heather Sonn, voorsitter van die maatskappy se direksie, vroeër die week gesê.

steinhoff
Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, en Heather Sonn, voorsitter van die direksie, die afgelope week in die parlement. Foto: Nellie Brand-Jonker

Sonn het só op ’n vraag in die parlement reageer op ’n sitting van vier parlementêre komitees Dinsdag.

Alf Lees, DA-LP en lid van die staande komitee op finansies, het Sonn gevra of hulle nie tans roekeloos handel dryf nie. Dít nadat sy aangedui het die maatskappy is steeds in ’n “haglike” toestand en “ver van buite gevaar”.

Steinhoff moes Woensdag weer sy krediteure vir uitstel vra vir die inwerkingstelling van sy ooreenkoms met hulle. Die ooreenkoms sou einde Maart in werking tree, maar word nou tot einde Mei uitgestel omdat ’n hofgeding met een krediteur – ’n Oostenrykse maatskappy van Andreas Seifert – dit tans ophou.

Lees wou weet, gegewe dat die direkteure weet die toekomstige verliese kan dalk nog erger wees as wat dit nou is, of dit nie op roekelose handel neerkom as die maatskappy nog sake doen nie.

In Suid-Afrika word dit as roekelose handeldrywing beskou as ’n maatskappy onder insolvente toestande handel dryf. Dit is wanneer ’n maatskappy in ’n finansiële verknorsing is en dit redelik onwaarskynlik is dat hy sy skuld sal kan betaal wanneer dit verskuldig word.

Lees ook: Steinhoff: Hier is 8 grootste verdagtes

Sonn het gesê: “Daar is ’n verbintenis dat dit nog ’n geveg is wat werd is om geveg te word.

Ons is nie hier om enige oortredinge toe te smeer nie. Ons is hier om die beste ding vir die maatskappy te doen en die beste ding is om hom teen litigasie te beskerm.
Heather Sonn

“As ons voel daar is niks om voor te veg nie, dan moet ons almal bedank en die oorhoofse koste spaar en seker maak dít moet vir skuld gaan en daai moet na die aandeelhouers toe gaan. Daar is dinge wat uitgesorteer moet word sodat ons ons verpligtinge teenoor ons krediteure kan nakom.”

Steinhoff het sowat R159 miljard se skuld uitstaande aan eksterne krediteure.

Sonn het gesê ingevolge Nederland se maatskappywet kry die krediteure voorkeur in ’n maatskappy wat in Steinhoff se situasie is waar die skuldlas elke dag aandag moet kry.

“Die krediteure is ’n baie belangrike belangegroep. As hulle nie ingestem het tot die drie jaar lange skuldstilstand nie, sou die maatskappy in groot moeilikheid gewees het. Ons moet op hulle fokus en bepaal hoe ons ons skuld gaan terugbetaal.

Lees ook: Steinhoff gedagvaar om toegang tot verslag te gee

“Die bestuurs- en toesighoudende direksie moet ook seker maak dat enige waarde wat beskerm kan word, vir aandeelhouers beskerm word.”

Sonn sê dit is so dat hulle nie die forensiese verslag van PwC wil uitreik nie, omdat hulle bang is vir regsgedinge teen die groep.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, toe hy verlede jaar uiteindelik sy opwagting by ’n ondervraging in die parlement gemaak het. Foto: Jaco Marais

“Ons het ’n plig teenoor die maatskappy om hom teen litigasie te beskerm. Ons is nie hier om enige oortredinge toe te smeer nie. Ons is hier om die beste ding vir die maatskappy te doen en die beste ding is om hom teen litigasie te beskerm.”

Sy sê egter Steinhoff sal kyk hoe enige geldige eise “wat bewys kan word en geldig is” geëer kan word. “Ons gaan nie weghardloop daarvan nie, ons sal ons eise eer,” sê sy. “Dit gaan op ’n oorwoë, samehorige en gestruktureerde wyse gedoen word sodat daar nie allerhande opportunistiese eise insluip nie.”

Dit is nie seker wat met opportunistiese eise bedoel word nie, maar die maatskappy het reeds in aanbiedings verwys na die talle eise teen hom. Dit sluit in drie groepsgedinge van aandeelhouers – in Nederland, Duitsland en Suid-Afrika – asook eise van partye wat hul ondernemings aan Steinhoff verkoop het, soos Christo Wiese se Pepkor en Braam van Huyssteen-hulle se Tekkie Town.

Eise sluit ook in mense soos die Stellenbosse bankier G.T. Ferreira en sy Tokara-werkers se bemagtigingstrust omdat hulle aandele in PSG vir Steinhoff verruil het. Daar is ook eise van ander PSG-aandeelhouers wat hul aandele vir Steinhoff-aandele verruil het.

Hoekom is sy steeds daar?

Lees wou ook weet hoekom Sonn, Steve Booysen en Angela Krüger-Steinhoff steeds nie-uitvoerende direkteure van Steinhoff is.

Hy sê dis duidelik dat “massiewe bedrog” oor ’n tienjaartydperk “onder hul toesig” plaasgevind het.

Sonn was vanaf 2013, Booysen vanaf 2009 en Krüger-Steinhoff vanaf 2015 nie-uitvoerende direkteure.

Sonn het geantwoord die feit dat hulle steeds daar is, toon hulle glo dit is iets wat deurgesien moet word.

“Ek vra elke dag daardie vraag vir myself: Moet ek nog hier wees?

Ek vra elke dag daardie vraag vir myself: Moet ek nog hier wees?
Heather Sonn

“Ek het dié posisie betree toe ek gevoel het daar is iets wat gedoen moet word en ek het gedink ek kan help daarmee. Ek het ’n mandaat van aandeelhouers gekry en daar is nog prioriteite wat ons glo ons moet afhandel.”

Sy sê dit sluit in om te verseker dat die finansiële state uitgereik word en die regsprosesse teen die skuldiges onderweg is.

“Ons kan nie nou momentum verloor nie.”

Booysen het by navraag aan Netwerk24 gesê die aandeelhouers het hulle verlede jaar op die jaarvergadering ingestem en ’n mandaat aan hulle gegee.

Meer oor:  Steinhoff  |  Pwc  |  Steve Booysen  |  Heather Sonn  |  Kleinhandel  |  Bedrog  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.