Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dís hoekom Survé se Sagarmatha nie kon noteer
Dr. Iqbal Survé, voorsitter van die Independent-groep. Foto: Gallo Images

Sagarmatha Technologies, waarin dr. Iqbal Survé ’n belang het, het nie aan die Maatskappywet voldoen nie en is daarom nie toegelaat om in 2018 op die JSE te noteer nie.

André Visser, hoofbestuurder van uitreikerregulering by die JSE, het Maandag aan die kommissie van ondersoek na die gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) verduidelik hoekom dié omstrede notering nooit plaasgevind het nie.

Survé, wat op 2 April voor die kommissie getuig het, het die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) daarvan beskuldig dat hy ’n stokkie gesteek het voor die notering wat vir April 2018 beplan was.

Survé het ook vir Tiso Blackstar – sy groot mededinger wat onder meer Business Day besit – en eNCA blatant daarvan beskuldig dat hulle die CIPC “beïnvloed” het om op sy beurt druk op die JSE uit te oefen om die notering te keer.

Visser het Maandag erken dat dit wel die CIPC was wat die JSE ingelig het dat Sagarmatha en twee van sy filiale, Loot Online en die African News Agency, nie hul geouditeerde finansiële state ingedien het soos wat art. 33 van die Maatskappywet vereis nie.

“Ons het die CIPC direk gekontak nadat hy ons op 9 April 2018 van hierdie kwessie ingelig het. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die maatskappye nie aan die wet voldoen het nie,” sê hy.

Visser het herhaaldelik gesê een van die vereistes om op die JSE genoteer te word is dat ’n maatskappy aan die Maatskappywet se vereistes móét voldoen.

Hy sê ’n verdere vereiste was dat Sagarmatha teen 9 April voorlopig geouditeerde finansiële state aan die JSE moes verskaf. Dit is nie betyds gedoen nie. Sagarmatha het dit wel later ingedien.

Sagarmatha het ook erken dat hy in daardie stadium nog nie die vereiste kapitaal ingesamel het waarop vir die notering ooreengekom is nie.

“Ons het toe die maatskappy ingelig dat ons voorlopige goedkeuring van die notering ongeldig is. Ons het die maatskappy verder ingelig dat sou hy steeds wou noteer, hy van voor af met die proses moet begin,” het Visser getuig.

Hy sê die JSE het nooit ’n nuwe aansoek ontvang nie.

Survé het in April aangekondig hy gaan probeer om die maatskappy in New York te noteer.

Die maatskappy het volgens berigte reeds aansoek by die Reserwebank gedoen vir toestemming om oorsee te noteer.

André VisserFoto: Skermgreep

Ayo-notering

Oor die notering van Ayo het Visser getuig dat daar niks ongehoords daaraan is dat die maatskappy so vinnig óf so laat in die jaar genoteer het nie.

Ayo het op 21 Desember 2017 op die JSE genoteer.

Die OBK het R4,3 miljard in Ayo belê as deel van die notering.

Visser sê hy het navorsing gedoen en bevind dat daar die afgelope paar jaar 37 maatskappye was wat laat in Desember van ’n bepaalde jaar genoteer het.

“Om die waarheid te sê, daar was ook ’n ander maatskappy wat die dag vóór Ayo genoteer het.”

Op die vraag oor of die JSE nie die OBK se interne waardasie van net R7 per aandeel vir Ayo in ag geneem het tydens die notering nie, het Visser getuig die JSE oorweeg nie waardasies nie.

“Waardasies word deur onafhanklike partye gedoen en sluit dikwels vooruitsigte in.”

Volgens Visser word daar na verskeie ander vereistes gekyk. Dit sluit onder meer drie jaar se geouditeerde finansiële state in en ’n wins voor belasting van minstens R50 miljoen.

Die OBK het R43 per aandeel vir sy belang betaal.

Ayo se finansiële state

Visser het in sy getuienis net kortliks verwys na die JSE se versoek op 10 April vanjaar dat Ayo ’n ouditmening van sy 2018- en 2019- ongeouditeerde tussentydse resultate moet bekom.

Hy sê die JSE het reeds direk in verbinding getree met Malick Salie, beleggingshoof van Ayo, Khalid Abdulla, uitvoerende hoof van African Equity Empowerment Investments (AEEI), en Naahied Gamieldien, tans direkteur verantwoordelik vir saketransformasie by Ayo, oor die aangeleentheid.

Hy sê hulle verwag om binnekort die bevindinge van die ouditmening bekend te maak.

Visser sê een van die kwessies waaroor die JSE groter duidelikheid wil hê, is die bankwaarborg van R35,7 miljoen wat Ayo aan AEEI gegee het. Dit is glo nie in die voornoteringsverslag aangedui nie. ’n Bankwaarborg van dié aard moet wel in só ’n verslag aangedui word.

Transaksies met verwante partye word ook ondersoek.

Salie het op 14 Mei getuig dat volgens hom is daar beslis “aanpassings gemaak” wat betref die maatskappy se 2018-halfjaarresultate.

Ayo het hom ’n dag later van dié getuienis gedistansieer.

Meer oor:  Sagarmatha Technologies  |  Ayo  |  Iqbal Survé  |  Maatskappye  |  Notering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.