Dis klaarpraat met fisieke handtekeninge op papier by Capitec.

Kliënte van Capitec gaan nie meer dokumente fisiek op papier onderteken nie. Foto: Getty Images
Dié bank gaan voortaan net van digitale handtekeninge in ’n totaal papierlose omgewing gebruik maak, het hy Maandag aangekondig.
Capitec was die eerste Suid-Afrikaanse bank wat in 2007 biometriese identifiseerders soos vingerafdrukskandeerders by al sy takke in gebruik geneem het as ’n manier om kliënte se identiteit te bevestig. Sedert 2015 integreer die bank se stelsels met dié van die departement van binnelandse sake om te verseker ’n kliënt se vingerafdruk is korrek.
Die bank het nou begin om die teken van papierdokumente heeltemal uit te faseer. Dié stap is deels deur die Covid-19-pandemie genoodsaak.
“Biometriese skandeerders kan ná elke kliënt se gebruik ontsmet word. Papierdokumente kan nie maklik tussen die partye ontsmet word nie,” sê die bank.
Capitec se nuwe, volkome elektronies ondertekende dokumente, voldoen aan die vereistes soos uiteengesit in die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies. Dit sluit in dat die handtekening gebruik kan word om die ondertekende te identifiseer en dat dit ’n aanduiding is dat die ondertekende saamstem met wat in die dokument staan.
Volgens die bank bied ’n e-handeteking ook bykomende veiligheid. Dit bied ’n skakel tussen ’n kliënt se identiteit, sy foto en sy vingerafdruk en is daarom meer teen moontlike bedrog bestand.
Kliënte van Capitec sal gaandeweg na die nuwe stelsel van e-handtekeninge oorgedra word soos wat hulle in die komende weke ’n tak besoek.