Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dis ’n Whopper: Burger King verkoop 15,6 m. etes

Amerikaanse oliebolle en gegeurde roomys verkoop nie juis soos soetgoed in ’n resessie nie, maar al hoe meer mense ry by Burger King se Drive Thru aan.

Grand Parade Investments sê hy het nou ekonomie van skaal met Burger King bereik.

Grand Parade Investments (GPI), die lisensiehouer vir Burger King, Baskin-Robbins en Dunkin’ Donuts in Suid-Afrika, het geen dividend vir die boekjaar tot einde Junie verklaar nie.

Dit kom ná ’n wesensverlies wat met 139% tot R48 miljoen gestyg het vergeleke met die vorige boekjaar.

Die maatskappy het sy resultate ná die sluiting van die boekjaar uitgereik, soos maatskappye dikwels doen as die aandeelprys onder druk is. Die aandeel het in elk geval die dag 2,22% laer op R2,20 gesluit en is nou 17,6% laer oor die afgelope 12 maande.

GPI se spreekwoordelike vuil wasgoed word op die oomblik in die openbaar gewas. ’n Groep batebestuursfirmas wie se kliënte altesame 12% van GPI besit, insluitend Denker en Kagiso, het selfs ’n skakelmaatskappy aangestel om probleme by die firma in die nuus te kry nadat hulle 18 maande lank vrugteloos probeer het om haakplekke op die agtergrond uit te stryk.

GPI se direksie word daarvan beskuldig dat hy kapitaal roekeloos toewys en geen onafhanklike direkteure bevat nie. Boonop is daar niemand met die nodige ervaring van kitskosrestaurante, waarop GPI hom al hoe meer toespits, nie, voer die batebestuurders aan.

Lees ook: Burger King se SA eienaar in die spervuur

Bestuursveranderinge

Een van die probleme wat minderheidsaandeelhouers met GPI het, is dat die maatskappy klaarblyklik sukkel om talent te behou.

  • Die afgelope jaar het Tasneem Karriem as uitvoerende hoof bedank. Sy is op 8 Augustus deur Prabashinee Moodley vervang.
  • Shaun Barends het as finansiële hoof bedank en is deur Colin Priem vervang.
  • ’n Uitvoerende direkteur, Dylan Pienaar, en die maatskappysekretaris, Lazelle Parton, het ook bedank.

GPI het 21 jaar gelede ontstaan as ’n bemagtigde beleggingsbeheerfirma in die dobbelsektor, maar het hom die afgelope paar jaar al hoe meer op kitskos toegespits.

Dobbel – onder meer GPI se belang in die GrandWest-casino, Sun Slots en die Worcester-casino – maak egter steeds wins, met ’n wesensverdienste van R117 miljoen vir die jaar. Wesensverdienste is ’n maatstaf van wins wat eenmalige gebeure uitsluit.

Daarteenoor ly die groep se kosafdeling ’n wesensverlies van altesame R108 miljoen. Binne die kosafdeling het slegs GPI se belang in Spur die afgelope boekjaar ’n wesensverdienste opgelewer.

Ondanks kritiek van die aandeelhouers sê Hassen Adams, GPI se uitvoerende voorsitter, die besluit om die kosdienstesektor te betree, blyk “positief vir GPI” te wees.

Ondanks die ooglopende probleem met wins, skep GPI se belange steeds ’n stewige kontantstroom. Die groep se inkomste het met 19% tot R1,145 miljard gestyg en sy bedryfswins met 125% tot R79 miljoen.

Die groep doen dit ondanks groot ekonomiese teenwinde wat hy opnoem: die resessie, die daling in verbruikers se besteding, die suikerbelasting, die styging in belasting op toegevoegde waarde (BTW), waterheffings in die Wes-Kaap (waar GPI gesetel is), skerp stygings in die prys van beesvleis en die styging in brandstof.

Kosafdeling

GPI sê suikerbelasting op koeldrank en die verhoging van BTW van 14% tot 15%, wat albei in April van krag geword het, het hul koste skerp laat styg. Om markaandeel te behou, het die groep egter self die stygings geabsorbeer, wat bedryfswinsgrense laat daal het.

  • Burger King

GPI het in 2013 die meesterlisensie bekom om Burger King in Suid-Afrika en sy buurlande te open. Die groep het die teiken in sy lisensievoorwaardes gehaal om binne vyf jaar 80 Burger King-takke landwyd te open wat deur die maatskappy self besit word. 19 nuwe takke is in die boekjaar geopen; daar is nou 87 takke landwyd (7 is franchises).

Burger King begin nou voordeel trek uit die ekonomie van skaal, wat beteken die koste van verkope daal, selfs ondanks duurder beesvleis en ander uitdagings.

Die gemiddelde maandelikse inkomste per restaurant het met 5,3% tot R911 000 gestyg danksy ’n styging van 3,45% in verkope by restaurante wat ook die hele 2017 oop was. Die styging in verkope word toegeskryf aan meer deurry-restaurante.

Burger King se totale inkomste het met 22,19% tot R756,2 miljoen gestyg.

Die maatskappy het 15,6 miljoen mense bedien, vergeleke met 13,3 miljoen in die vorige jaar.

Weens hoër koste het die ebitda-winsgrens van 9% tot 6,6% gedaal. Ebitda is die verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings.

  • Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins

GPI het die meesterlisensie vir dié twee Amerikaanse handelsname in 2016 bekom.

Geure te kies en te keur vir elke dag van die maand, spog die roomyswinkel Baskin-Robbins.

Hoe soet hul produkte ook is, dié oliebol- en roomyswinkels versuur GPI se resultate. Net vyf nuwe Dunkin’s is in die jaar geopen, wat die totaal op 11 te staan bring; en net een nuwe Baskin-Robbins is geopen, vir altesame vyf takke landwyd.

Die maatskappy sê hy het in die boekjaar sy eie bakkery op die been gebring, wat die koste van oliebolle bykans gehalveer het. Tot onlangs toe is die oliebolle per lugvrag ingevlieg Suid-Afrika toe.

Die koste vir Baskin-Robbins is hoog omdat die maatskappy ’n groot aantal verskillende roomysgeure móét aanhou.

Dobbelafdeling

Die afdeling het na GPI se verwagting van lae tot matige groei gepresteer. SunWest se wesensverdienste het met 10% tot R77,7 miljoen gestyg, Sun Slots s’n met 22% tot R36,8 miljoen. Worcester-casino se wesensverdienste het met 23% gedaal, maar is steeds positief op R2,6 miljoen.

Vooruitsigte

GPI klink optimisties oor sy vooruitsigte. Adams verwag dat Burger King binnekort een van die grootste kitskosrestaurante in die land gaan word en nuwe takke word vinnig oopgemaak “in afwagting dat die ekonomie binnekort uit die resessionêre tydperk sal kom”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.