Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dís wat Covid-19 Bonitas gekos het

Net 5,5% van die mediese fonds Bonitas se bydraes tot premies is verlede jaar bestee aan eise wat met die koronavirus verband gehou het.

Deelnemers aan die 2019 Comrades-marathon by die wegspringplek. Bonitas was voorheen ’n groot borg van die Comrades. Foto: Verskaf

Bonitas – die land se tweede grootste oop mediese fonds – het aan einde van die boekjaar meer as 710 000 hooflede en afhanklikes gehad.

Sy eise wat met Covid-19 verband hou, het R974 miljoen beloop uit die R14,7 miljard wat algeheel aan gesondheidsorg bestee is. In die boekjaar tot einde Desember was daar egter ’n daling van 16% in eise vergeleke met die vorige boekjaar.

Sowat R3 miljard van sy inkomste uit bydraes is oorgehou omdat sy lede minder van gesondheidsdienste gebruik gemaak het.

Luke Woodhouse, finansiële hoof, sê hoewel Covid-19 ernstige druk op dele van die gesondheidstelsel geplaas het, het die “langtermyntendens van oorbenutting” verlangsaam.

Hospitale het verlede jaar beplande operasies vermy om hul vermoë om Covid-19 te hanteer te bestuur. Mediesefondslede het ook verkies om fisieke interaksie met verskaffers uit te stel om die gevaar van infeksie te vermy, sê hy.

Ongekende oorskot

In 2020 het bydraes (uitgesluit bydraes tot spaarrekeninge) R17,7 miljard beloop; 6,3% meer as die R16,7 miljard in die vorige jaar.

Bonitas het R14,7 miljard aan gesondheidsorg bestee (2019: R15,4 miljard).

Ná makelaars- en administrasiekoste is R1,4 miljard oorgehou. Tesame met die opbrengs op sy beleggingsportefeulje is ’n “ongekende oorskot van R1,7 miljard vir die jaar oorgehou”, sê Woodhouse.

Dit het verseker dat Bonitas die eerste pandemiejaar met meer as R6 miljard se opgehoopte ledegeld (reserwes) afgeëindig het (2019: R4,3 miljard).

Dit beloop amper 33% van sy jaarlikse bydraes – die sogenaamde solvensieverhouding.

Só het ander eise gedaal

Hospitaalopnames vir die volgende toestande het gedaal:

  • Septisemie: -46%
  • Longontsteking: -43%
  • Hartkateterisering: -31%
  • Knievervangings: -39%
  • Geestesgesondheid: -25%
  • Akute brongitis: -64%
  • Gastroënteritis: -40%
  • Boonste gastro-intestinale endoskopie: -43%
  • Katarakoperasies: -18%
  • Mangeloperasies: -59%

    Soveel het die virus opgedoen

    Net 34 000 of 4,7% van al sy lede en afhanklikes het die koronavirus opgedoen en 1 123 is aan Covid-19 dood.

    Bonitas het die impak van die pandemie op ander maniere gevoel omdat ledetalle weens toenemende druk op besteebare inkomste gedaal en baie lede na goedkoper opsies geskuif het.

    Bonitas sê luidens navorsing deur Deloitte is dit baie moeilik vir iemand wat hul werk verloor het om hul medies vir langer as ses maande daarna te behou.

    Lee Callakoppen, hoofbeampte van Bonitas, sê na verwagting gaan die lidmaatskap van mediese fondse eers ná 2022 tot die vlak van 2019 terugkeer.

    Navorsing wat in die laaste kwartaal van 2020 gedoen is, raam dat die algehele ledetal van mediese fondse met 8,6% gaan daal.

    Bonitas se verlies aan lede is tot 1,7% beperk.

    Mediesefondslede wat gesukkel het, kon van die geld in hul mediese spaarrekeninge gebruik om hul premies te betaal. Net 155 het van dié vergunning gebruik gemaak. Hulle het R1,1 miljoen daarvoor benut.

    Bonitas het ook aan werknemers van sukkelende ondernemings met minder as 200 werknemers die opsie gegee om die betaling van premies uit te stel. 183 werknemers van twee ondernemings het hiervan gebruik gemaak. Dit het meer as R600 000 beloop.

    Luke Woodhouse, finansiële hoof van Bonitas. Foto: Verskaf
    Begroting aangepas

    Bonitas het sy begroting vir 2021 ná die tweede vlaag van infeksies aangepas.

    Die hersiene begroting vir die jaar vir Covid-19 beloop nou R1,2 miljard, waarvan sowat R210 miljoen met entstof verband hou.

    Volgens Bonitas is 2019 se vlakke van eise in Maart en Junie oorgesteek.

    Na raming gaan die eise vir die volle jaar 7% hoër as in 2019 en 10,5% hoër as in 2020 wees.

    “Die verhouding van eise tot premies is beslis hoër as in 2020. Teen Junie het die verhouding ooreengestem met ons hersiene begroting, maar dit was effens laer as die oorspronklike begroting omdat beplande operasies weens die tweede en derde vlaag stadiger as verwag ingehaal word.”

    Daar is aanvanklik begroot vir ’n eise-tot-premie-verhouding van 93%. In die hersiene begroting is dit 90,4%.

    Krap kop oor premieverhogings

    Onsekerheid maak beplanning moeilik, ten spyte van die groot reserwe wat aan Bonitas ’n solvensieverhouding van hoër as die wetlik vereiste 25% gee.

    Woodhouse sê die kopseer is om “te midde die wesenlike onsekerheid, veral ten opsigte van die koste en verspreiding van entstowwe, betekenisvolle strategiese besluite te neem oor die reserwes wat in belang van lede is”.

    Bonitas se geweegde gemiddelde premieverhoging vir 2021 was 4,6% vergeleke met die gemiddelde van 4,8% van 27 van die grootste mediese fondse in die land.

    Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het aanbeveel dat premies onveranderd bly of met nie meer as 3,9% verhoog word nie.

    “Ons voorneme was om premieverhogings sover moontlik te beperk, maar te voorkom dat lede in die komende jare ly as gevolg van ’n lae verhoging nou. Ons doel is dat lede toegang tot volledige dekking het.”

    Van die faktore wat in ag geneem is, was die wisselvallige beleggingsinkomste weens die onstuimige markte; die onvoorspelbaarheid van eise weens die inperkings en dat verbruikersprysinflasie laer as in vorige jare was.

    “Sommige van die faktore gaan in die afsienbare toekoms onseker bly. Ons sal dus versigtig bly. Soos altyd moet korttermynbesluite geneem word met ’n langtermynsiening en die volhoubaarheid van die mediese fonds in gedagte.”

    Bonitas se doel op mediumtermyn is om die solvensieverhouding bo 30% te hou en “te bepaal hoe die sterker reserwes die beste gebruik kan word om sy lede te bevoordeel”, lui die jaarverslag.

    Bonitas het egter vandeesweek gesê sy jongste aktuariële vooruitskattings dui daarop dat die solvensieverhouding op mediumtermyn tot onder 30% kan daal.

    Mediese fondse besluit tans oor hul voordele en premieverhogings vir volgende jaar.

    Die RMS het aanbeveel dat premies nie met meer as 4,2% verhoog word nie.

    Bonitas maak sy premieverhoging 16 September bekend.

    Sy jaarvergadering vind op 18 Augustus plaas.

    Meer oor:  Mediese Fondse  |  Gesondheidsorg  |  Bonitas
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.