Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Discovery Bank: Als wat jy wil weet

Kliënte van Discovery Bank gaan selfs nóg meer voordeel uit Discovery Vitality kry wanneer die bank sy virtuele deure in Maart 2019 oopmaak.

Barry Hore, uitvoerende hoof van Discovery Bank.

Die nuwe Discovery Bank gaan nie net sy eie bank-app hê nie, maar ook ’n teenwoordigheid op die Vitality-app in die vorm van Vitality Money.

Discovery het baie staatgemaak op sy bestaande produkte, soos Discovery Health Medical Scheme en hoe dit met sy Vitality-app skakel, om sy bank te skep.

Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery, het Woensdag met die bekendstelling van dié bank by die maatskappy se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, gesê wat dié bank uniek maak, is dat kliënte se finansiële gedrag nie net hul beloning op Vitality Money gaan bepaal nie, maar ook spesifiek watter voordele hulle op hul rekeninge gaan kry.

“Ons sien uit ons bestaande produkte dat as jy mense kan oortuig om hul leefstyl te verander, kan jy hulle oortuig om hul geld beter te bestuur.

“As hulle hul geld beter bestuur, gaan hulle meer voordele ontvang,” sê Gore.

“Net soos wat ons mense met ons Vitality Active-app gesond wil hou, so wil ons hul geldsake met behulp van Vitality Money gesond hou,” sê hy.

Ons sien uit ons bestaande produkte dat as jy mense kan oortuig om hul leefstyl te verander, kan jy hulle oortuig om hul geld beter te bestuur.
Adrian Gore van Discovery

Geen takke, geen kitsbanke

Gore sê die bank gaan heeltemal digitaal wees.

“Ons gaan net een tak hê,” sê Barry Hore, uitvoerende hoof van Discovery Bank.

Discovery Bank gaan nie kitsbanke hê nie. “Ons kaarte gaan egter by enige van die ander banke se kitsbanke werk,” sê hy.

Gore sê die eerste groep kliënte wat die bank gaan kry, is kliënte wat reeds ’n Discovery-kredietkaart het. Dit is sowat 300 000 rekeninge. Dié rekeninge sal outomaties in ’n Discovery 1-rekening omskep word.

  • Die Discovery 1-rekening is die basiese rekening. Dit sal egter ’n krediet- en spaargerief hê.
  • Die Discovery 1 Plus-rekening sal meer funksionaliteit hê en moet apart oopgemaak word.

Ná sy bestaande kredietkaartkliënte gaan die bank hom op bestaande kliënte van sy ander produkte fokus. Daar is sowat 2 miljoen volwassenes in Suid-Afrika wat produkte by Discovery (onder meer versekering of beleggings) het.

Gore sê Discovery is vol vertroue dit sal vir mense baie maklik wees om hul bankrekening van enige bank na Discovery Bank te skuif.

“Ons glo egter mense sal selfs belangstel om ons produk as ’n sekondêre rekening oop te maak.

“Nodeloos om te sê, ons sal graag wil hê mense moet hul primêre rekening na ons toe skuif.”

Vitality Money

Die Vitality Money-app gaan by die bestaande Vitality-app geïnkorporeer word.

Kliënte sal punte wat hulle tans op die Vitality-speelbord verdien, direk in kontant kan omskakel, wat hulle dan in hul bankrekening kan oorplaas.

“Dit is jou geld – en jy kan daarmee doen wat jy wil –maar ons wil hê jy moet dit spaar,” sê Gore.

Hy sê Vitality het klaar onderhandel dat waar kliënte byvoorbeeld tans tot 35% afslag op onder meer vlugte verdien, hulle tot 75% afslag kan verdien as hulle genoeg punte op die app verdien.

Die brandstofvoordeel op sy Discovery Drive-app gaan ook van tot 50% tot 75% verhoog word.

Gesinsrekening

Van die funksionaliteit wat die bankrekening gaan hê, sluit in om gesinsrekeninge oop te maak, mense wat op jou kontaklys op jou foon is direk vanuit die app te betaal en onmiddellike betalings te doen.

“As jy ’n rekening vir jou kind wil oopmaak, kan jy dit maklik doen,” sê Hore.

“Jy sal self kan sê wat die kredietlimiet op die kaart is en watter tye en waarvoor die kind die kaart mag gebruik,” sê hy.

Gore sê na gelang van die rekening wat ’n kliënt het, sal ’n onmiddellike betaling net R5 kos of selfs gratis wees. Volgens hom vra ander banke tipies R40 vir so ’n transaksie.

Rentekoerse

Discovery Bank se rentekoerse gaan deur kliënte se finansiële gedrag bepaal word.

“Hoe beter jou Vitality Money-status is, hoe beter gaan jou rentekoerse wees.

“In die geval van lenings hoop ons om vir elke vlak wat jy verbeter, vir jou een persentasiepunt minder rente as die prima uitleenkoers te gee. As jy dus op die heel hoogste vlak is, kan jy ’n lening teen die prima minus ses persentasiepunte hê.

“Wat betref spaarrekeninge, hoop ons om 0,5 van ’n persentasiepunt te bied vir elke vlak wat jy opskuif. Op die boonste vlak kan jou belegging dus prima plus 3 persentasiepunte verdien,” sê hy.

Nuwe voordele

Gore sê Discovery praat reeds met Apple dat net soos wat mense ’n iWatch bykans gratis kan kry afhangende van hul Vitality Active-status, hulle in die toekoms ’n iPhone ook só kan verdien gegrond op hul finansiële status.

“Die bank bestaan op jou foon, so dit is belangrik dat mense toegang kry tot fone wat hulle in staat sal stel om hul banktransaksies te doen,” sê hy.

Nog ’n groot plan vir die toekoms is dat Discovery sy eie sitkamers by lughawens wil kry.

Die plan is om dit teen laat 2019 of in 2020 bekend te stel.

Swart bemagtiging

Gore sê die bank het reeds besluit dat hy ’n 10%-belang in die bank aan swart deposante gee.

Hy sê hulle het nog nie heeltemal bepaal hoe dit gedoen gaan word nie.

Op die vraag oor of hy nie dink dit teenkanting gaan kry van veral vakbonde soos Solidariteit wat reeds kapsie maak oor Sasol se bemagtigingskema nie, sê hy dit is iets wat hulle moet behartig.

“Ons glo dit is die regte ding om te doen,” sê Gore.

Hy sê daar moet in ag geneem word dat hulle nog die besonderhede van die skema moet afhandel.

Meer oor:  Discovery Bank  |  Discovery Vitality  |  Discovery  |  Barry Hore  |  Adrian Gore  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.