Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Discovery Bank ly verlies van R1,1 mjd.
K

Discovery Bank, wat in sy eerste bedryfsjaar is, het in die boekjaar tot einde Junie ’n bedryfsverlies van R1,1 miljard gely.

Discovery Bank word deur die genoteerde Discovery-groep opgebou.

Discovery Bank is volkome digitaal met geen fisieke takke. Foto: Discovery Bank

Adrian Gore, uitvoerende hoof van die Discovery-groep, het Woensdag op ’n aanbieding aan beleggers gesê die kredietkaartrekeninge van die gesamentlike onderneming wat die groep voorheen met FNB gehad het, is nou alles na Discovery Bank oorgedra.

Deon Viljoen, finansiële direkteur, sê die 300%-toename in die bedryfsverlies is verwag omdat die bank nou ten volle in bedryf is.

Die amortisasie van sy stelsel dra by tot die bedryfsverlies en vir ’n groot deel van die jaar is vir die bykomende koste van die FNB-platform betaal tot tyd en wyl al die rekeninge oorgedra is.

“Dit (die verlies) stem ooreen met ons oorspronklike sakeplan en ons weet die bank gaan vir die volgende vier of vyf jaar verliese ly totdat hy skaal bereik en begin gelykbreek.”

Sedert sy ontstaan is al R4,5 miljard aan die bank bestee, insluitende finansiering vir die bedryfskoste.

LEES OOK: Discovery se bank kos al R3,7 mjd., knou sy wins

Die bank het einde Junie 370 000 rekeninge gehad en verlede week het dit amper ’n halfmiljoen beloop.

Viljoen sê die fokus was die oordrag van kliënte van FNB na sy eie lisensie en om dié kliënte met die volle aanbod van sy dienste te bedien.

Nuwe kliënte van die bank het einde Junie 45 916 beloop (2019: 197).

Gore sê sedert die pandemie begin het, het die bank drie strategieë in werking gestel. Dit sluit in om die rekeninge suksesvol oor te skuif en om sy deposito’s te laat groei.

Sy deposito’s van gewone spaarders (in teenstelling met instellings) het verlede week R3,7 miljard beloop.

Gore sê die bank is nou in staat om sy kredietboek ten volle met die deposito’s te finansier.

Teen 7 September het die groothandel- (van instellings) en kleinhandeldeposito’s R6 miljard beloop en kredietlimiete wat benut is, het R3,5 miljard beloop.

Die bank bly versigtig met kredietverlening en agterstallige skuldbetalings is laer as die markgemiddelde.

Die bank se kliënte kry ’n Vitality Money-status volgens hul finansiële gedrag. Goeie gedrag word beloon. Die bank baat ook hierby, sê Gore.

Die groep bepaal met behulp van tegnologie watter gedrag as gesond gereken word en gebruik dan die inligting om kliënte te beloon – die sogenaamde Shared-Value-model.

Discovery-groep se aandeelprys het Woensdag met 3,7% tot R129,93 gedaal.

Ook die Discovery-groep het besluit om nie ’n slotdividend te verklaar nie.

Standvastige sake

Gore sê die bedryfsvertoning van die groep se verskillende maatskappye was standvastig.

Die grootste bydraers tot die bedryfswins was Discovery Health en Discovery Life, wat onderskeidelik ’n styging van 5% en 25% in hul bedryfswins getoon het. In Discovery Life se geval is dit voor die voorsiening vir die toekomstige impak van die koronaviruspandemie.

Die hele groep se genormaliseerde bedryfswins het met 9% tot R8,4 miljard gestyg voor ’n voorsiening wat vir die verwagte toekomstige impak van die pandemie gemaak is.

Ná die voorsiening het die bedryfswins met 22% tot R6 miljard gedaal.

Toekomstige impak van die pandemie

Die groep het vir ’n reserwe van R3,4 miljard voorsiening gemaak.

Gore sê hulle glo dit is voldoende vir ’n potensiële tweede vlaag van die pandemie.

Viljoen sê lewensmaatskappye doen aktuariële aannames oor eise en die vervalling van polisse. ’n Pandemie het op kort termyn ’n wesenlike impak op die aannames oor eise omdat dit veroorsaak dat sterftes in die nabye toekoms toeneem.

“Ons het redelik gesofistikeerde modelle om te bepaal hoe dit gaan lyk, soos interne aktuariële modelle en internasionale beskikbare inligting en aannames ten opsigte van die staat van inperking.”

Hy sê die pandemie bring ’n verandering in lewenseise mee en het ’n ekonomiese impak wat oor ’n langer tydperk ervaar word. Dit word gewoonlik gesien in die vervalling van polisse omdat mense dit nie meer kan bekostig nie.

’n Voorsiening van R1,9 miljard is vir Discovery Life gemaak en die res van die voorsiening is vir sy Britse maatskappye, naamlik R569 miljoen vir Vitality Life en R713 miljoen vir Vitality Health.

Die Disocvery-groep se kernwins het met 94% van R5,1 miljard tot R296 miljoen gedaal weens die impak van die voorsiening asook die wesenlike rentekoersveranderinge wat ’n impak gehad het op ekonomiese aannames.

Dié rentekoersveranderinge beïnvloed die poliswaardes van die lewensversekeraars en het ’n R4,8 miljard-impak gehad op die wesensverdienste.

Gore het beklemtoon dat dié rentekoersbewegings nie ’n impak gehad het op die bedryfsvertoning nie – insluitende die kontantvloei en die kapitaal wat in Suid-Afrika gehou word. Volgens hom het dit min impak in Brittanje sedert ’n verskansingstrategie vir Vitality Life in werking gestel is.

Meer oor:  Discovery Bank  |  Discovery  |  Verkeer  |  Gesondheid  |  Koronavirus  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Inperking  |  Oefening  |  Covid-19  |  Bestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.