Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Kliënte van Discovery Bank se saldo skielik R0
Discovery Bank se kaarte is vertikaal eerder as horisontaal.

Kliënte van Discovery se bank was Vrydagmiddag in sak en as toe kaartbetalings nie gedoen kon word nie, hoewel daar geld in hul bankrekeninge is.

Een kliënt met wie Netwerk24 gepraat het, sê hy was gestrand by ’n vulstasie toe sy kaart nie wou werk nie.

Toe hy probeer om geld by ’n kitsbank te onttrek, sien hy sy banksaldo is skielik R0.

Sy bank-app het dieselfde saldo gegee.

Ná sowat ’n halfuur se ronddrentel, was sy geld weer terug in sy rekening en kon hy betaal, maar die ervaring was allermins aangenaam, sê hy.

Nog kliënte het Vrydag op Twitter gekla dat hul bankrekening skielik leeggetap is en dat betalings nie gedoen kan word nie.

Discovery het egter nie op enige van hul twiets reageer nie.

Felicity Hudson, kommunikasiehoof van Discovery, het Maandag by navraag bevestig die bank het Vrydagmiddag “vir ongeveer ’n uur” tegniese probleme ervaar.

“Dit het ’n beperkte aantal kliënte geraak,” sê sy.

Kliënte kon nie betalings by vulstasies maak nie, en die bank se app het ’n verkeerde saldo getoon, bevestig sy.

Dit is nie duidelik waarom kliënte ook nie geld by ’n kitsbank kon onttrek nie of betalings by ander betaalpunte in dié tydperk kon maak nie.

“Hoewel alle banke sulke onderbrekings van tyd tot tyd ervaar, is dit ons mikpunt om beter te wees,” sê Hudson, wat onvoorwaardelik verskoning gevra het vir enige ongerief.

Dit was egter nie die eerste keer dat Discovery Bank ernstige tegniese probleme ervaar het nie.

Discovery het in Oktober bevestig hy het ’n fout met sy bankkaarte reggestel wat aanlyn aankope toegelaat het sonder dat die regte CVV-nommer ingevoeg hoef te word.

CVV staan vir “card verification value” en word gewoonlik agterop ’n kredietkaart aangedui.

Hierdie kode van drie of vier nommers word tydens inkopies aanlyn benodig.

Die Advertensiebeheerraad (ARB) het in Desember ook gelas Discovery mag nie meer in advertensies aandui dat diegene wat by sy bank aansluit ’n iPhone gaan ontvang nie.

Die beheerraad het bevind die bank bied op ’n misleidende manier ’n “gratis” iPhone aan enigiemand wat aansluit.

LEES OOK: Discovery se 'gratis' iPhones allermins verniet

Meer oor:  Discovery Bank  |  Discovery  |  Bankdienste  |  Bankbedryf  |  App
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.