Die Discovery-groep het nóg R150 miljoen vir lewensversekeringseise wat betref Covid-19 in die halfjaar tot einde Desember opsygesit nadat die tweede vlaag van infeksies sy teikenmark baie erger as in die eerste een getref het.

Eise wat met Covid-19 verband hou, hou aan styg. Foto: iStock
Die finansiëledienstegroep het aan einde van sy boekjaar reeds R3,4 miljard se voorsiening vir eise vir dood in Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk gemaak.
Die voorsiening is aanvanklik betreklik min benut.
“Maar nadat die tweede vlaag ’n meer wesenlike effek op Discovery se teikenmark as in die eerste een gehad het, het Discovery Life om versigtigheidshalwe ’n bykomende R150 miljoen vir sterfte-eise opsygesit.”
In Januarie is R600 miljoen van Discovery Life se voorsiening benut toe meer eise ingedien is.
Die groep sê in ’n handelsoorsig sy genormaliseerde wins uit bedrywighede gaan met tussen 17% en 21% styg.
Die genormaliseerde wins uit bedrywighede van die mediesefondsadministrateur Discovery Health, wat in die vorige boekjaar die grootste bydraer tot sy wins uit bedrywighede was, gaan met tussen 4% en 8% styg.
Die groep verwag dat sy kernwins met tussen 8% en 12% gaan daal. Dit word onder meer aan die invloed van die sterker rand in die halfjaar toegeskryf.
Discovery se aandeelprys het maar flou reageer op die handelsverklaring en het Dinsdag met 0,4% op die JSE gestyg.
Sy resultate word Donderdag uitgereik.