Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Distell bedank taxi-eienaars ná R100 m. se skade

Distell het verlede week sowat R100 miljoen se skade gely nadat een van sy verspreidingsentrums in KwaZulu-Natal tydens die onluste gestroop en gevandaliseer is.

looting at Distell
Plundery by Distell se verspreidingsentrum in Durban.

Die drankgroep het Vrydag in ’n Sens-verklaring gesê hy is baie dankbaar sy werknemers is veilig.

Distell sê meer skade sou aangerig geword het as dit nie vir die nasionale taxivereniging Santaco was nie.

Ná die onrus verlede week is verskeie van Distell se aanlegte gesluit, maar dit word stelselmatig heropen.

Die groep sê verder daar is steeds genoeg voorraad beskikbaar om aan sy kliënte drank te voorsien sodra die verbod op drankverkope, wat nou al amper vier weke geld, opgehef word.

Drankverbod en sluikhandel

Distell sê die drankbedryf hou aan om die regering te waarsku dat die instelling van ’n drankverbod onwettige aktiwiteite aanmoedig en misdaadsindikate help om hulself net dieper in die bedryf in te grawe.

Dit raak volgens Distell net al hoe moeiliker om sluikhandel met drank om te keer. Die onlangse onrus het net meegebring dat die sindikate hulself in ’n omgewing bevind waarin hulle met hul bedrywighede kan voortgaan.

Die onwettige handel in drank het nou al 22% van die land se mark oorgeneem, is onlangs berig. Dit beteken sluikhandelaars maak reeds R20,5 miljard uit verkope per jaar.

“Die vierde drankverbod, wat op 28 Junie ingestel is, is sonder waarskuwing of konsultasie met die bedryf gedoen en boonop sonder enige klinkklare statistiese regverdiging,” voer Distell aan.

“Die drankbedryf sal aanhou om met die regering te gesels in pogings om die bedryf gesond te hou en meer as ’n miljoen mense se lewensmiddele te beskerm.”

Die groep gaan nou fokus om die taverne-gemeenskap te help. Hy sal saamspan met die taxibedryf om tavernes te help om te voldoen aan alle Covid-19-maatreëls en bewusmaking van verantwoordelike drankverbruik.

Distell het ook reeds begin om van sy eiendom in te rig as inentingsgeriewe en sal met inentings begin sodra die regering sy aansoek hiervoor goedkeur.

Impak van die onluste

Distell sê ’n geskatte 332 van sy direkte en indirekte kliënte is sleg getref deur die onluste.

“Ons is diep geraak deur die onlangse opstande, geweld en plundering in KwaZulu-Natal en dele van Gauteng.”

LEES OOK: Distell se pakhuis in KZN geplunder

Die verspreidingsentrum wat deur die geweld geraak is, is wel verseker en Distell sê hy is besig om die versekeringseis in te stel.

Finansiële vertoning

Distell verwag ’n sterk wins vir sy 2021-boekjaar, wat tot einde Junie strek.

Dit het in Mei bekend geword Heineken stel daarin belang om ’n meerderheidsbelang in Distell te bekom. Foto: Unsplash

Sy plaaslike bedrywighede het ten spyte van die impak van regulasies en Covid-19 ’n groei in wins getoon.

Sy Suid-Afrikaanse bedrywighede toon groei in wins en volume van onderskeidelik 29,4% en 28,7%, in vergelyking met die vorige ooreenstemmende tydperk.

Ten spyte van ’n verlies van 20% in die hoeveelheid handelsdae wat die groep gehad het, is die groei in wins amper 6% (5,8%) meer as die 2019-boekjaar, voor die Covid-19-pandemie.

Die volume verkope is egter 3,5% minder as in 2019.

Distell, wat onder meer Amarula en Three Ships Whisky besit, sê die afgelope vier weke het hom omtrent R30 miljoen se bedryfswins gekos.

Distell se skuldvlakke is in ’n beter posisie as wat dit voor die uitbreek van die pandemie was. Daar word verwag die skuld sal minder as R2,3 miljard wees, teenoor die R5,9 miljard wat dit was in die vorige ooreenstemmende tydperk.

Teen die einde van die 2019-boekaar was die skuld R3,9 miljard.

Vertoning in res van Afrika en internasionaal

Sy bedrywighede in Botswana, Lesotho, Eswatini en Namibië vertoon goed ten spyte van dié lande se eie uitdagings.

Die vier lande kon ’n gesamentlike verbetering in wins van 23,6% aanteken en 22,2% in volume. Dié volume is amper gelyk aan die volume van 2019 se boekjaar.

Die groep se sake in ander Afrikalande vaar ook goed, volgens die verklaring.

Distell sê sy internasionale bedrywighede is wel aan die begin van die pandemie verlede jaar geraak, veral weens die instelling van reisbeperkings wêreldwyd.

Die groep het uitdagings gehad met die uitvoer van Amarula en wyn, maar dit het weer spoed opgetel namate die jaar gevorder het en sekere regulasies verslap is.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye  |  Restaurante  |  Kzn-Herstel  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Sluikhandel  |  Drankverkope  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.