Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Distell bloei, maar beloof daar’s genoeg drank
Klipdrift is een van die drankreus Distell se gewildste produkte.

Die drankreus Distell se wins gaan ’n groot knou kry weens die verbod op drankverkope tydens die staat van inperking in die land, maar hy beloof hy het genoeg voorraad vir uitvoer en plaaslike drankwinkels wanneer die inperking verslap word.

Sy produkte sluit in Klipdrift, Richelieu, J.C. Le Roux, Pongracz, Two Oceans, Durbanville Hills, Three Ships Whisky, Scottish Leader, Amarula, 4th Street, Nederburg, Hunter’s Dry, Savanna, Drostdy Hof, Sedgwick’s Old Brown Sherry en Bernini.

“Die Covid-19-pandemie, en spesifiek die regering se beperking op die verhandeling van alkohol, het die afgelope ses weke sedert die inperking ’n wesenlike impak op die groep,” lui ’n handelsverklaring.

Sy wins toeskryfbaar aan gewone aandeelhouers gaan sedert einde Junie verlede jaar tot einde April weens die verbod op drankverkope met ’n kwart daal.

Dit sluit die amper ses weke in wat geen handel weens die regulasies van die staat van inperking kon plaasvind nie.

Baie onsekerheid

Vir die volle boekjaar tot einde Junie verwag die groep dat sy basiese verdienste per aandeel tussen 45% en 65% laer as in die ooreenstemmende boekjaar gaan wees.

Wesensverdienste per aandeel gaan tussen 60% en 80% laer wees.

Die groep noem egter talle faktore wat die uiteindelike impak gaan beïnvloed:

  • Die handelsbeperkinge onder vlak 3 van die staat van inperking en die tydsberekening daarvan.
  • Voorsiening vir kredietverliese omdat sy kliënte weens die verbod nie kan handel dryf nie. Dit sal afhang van watter kanale wanneer in die verskillende fases van die inperking oopmaak.
  • Die moontlikheid dat voorraad weens die beperkinge en tydsberekening daarvan afgeskryf sal moet word.
  • Die waardasie van sy belange in sekere Afrika-lande wat ook weens hul eie inperking en ekonomiese probleme wesenlik onder druk is.
  • Die spoed van die uitvoer van produkte na internasionale markte gegewe die geleidelike opening van hawens en grense na buurlande.
  • Die moontlikheid dat ’n tydelike korttermynsprong in vraag kan wees nadat die inperking verslap word.

Voorraad

Die groep het op sekere plekke met beperkte produksie begin vir die uitvoer wat onder die vlak 4 van inperking toegelaat word.

“Die huidige voorraadvlakke is genoeg om aan uitvoer te voldoen en aan die plaaslike kleinhandel wanneer die regulasies verslap word.”

Die groep het ook genoeg bestanddele om einde Junie ná sy jaareinde aan sy kliënte se vraag te voldoen.

Die groep neem saam met ander spelers in die bedryf deel aan gesprekke met die regering en om “pragmatiese oplossings vir verantwoordelike handel voor te stel wat nie bykomende risiko’s vir die openbare gesondheid sal inhou nie maar wat daarop gemik is om die ernstige ekonomiese nagevolge vir die bedryf uit die weg te ruim”.

Uitvoer toegelaat

Die verslapping van regulasies wat vir die eerste keer in weke uitvoer toegelaat het, beteken dat sowat R440 miljoen se bestellings vir aflewering verwerk kon word vir kliënte in lande waar die hawens oop en geen verbod op die verkoop van alkohol is nie.

Die produksie vir uitvoer het begin, maar teen ’n verminderde kapasiteit.

“Die groep sal die geleentheid gebruik om ’n inkomste te verdien ondanks die bottelnekke wat in die hawens voorkom en weens die huidige regulasies oor vervoer wat nog in Suid-Afrika geld.”

Distell beloof hy sal poog om die bestellings na te kom van sy kliënte in Namibië, wat ’n belangrike mark vir die maatskappy in sy buurland is en weer van 2 Junie af alkoholverkope gaan toelaat.

Kenia, wat die grootste bydraer tot die groep se inkomste buiten sy buurlande is, het ’n bemoedigende vertoning te midde van die land se inperking gelewer. Kenya Wine Agencies Bpk. (KWAL), waarin Distell ’n belang het, sal produkte mag begin ontvang nadat die verbod op uitvoer opgehef is.

Kontantbestuur

Die groep het bevestig dat hy finansiering van banke gekry het om sy leningsgeriewe met nog R2,8 miljard te verhoog om sy kontantvloei in die komende 12 maande te bestuur.

Die groep het ook uitstel van 90 dae vir die betaling van aksynsbelasting van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gekry. Dit is sowat R970 miljoen van die totale R1,9 miljard se aksyns wat in die boekjaar betaal moet word, wat uitgestel is.

Betalings aan die meeste krediteure, behalwe die boere met wie Distell langtermyn-kontrakte het en verskaffers van kritieke produkte en dienste, is met 21 dae vertraag.

Distell is die grootste aankoper van wyndruiwe. Die kontrakte met sy langtermynverskaffers in die wynbedryf is nagekom.

Klein en sukkelende kliënte is ook bygestaan deur die betalingsvoorwaardes in kontrakte te verleng.

“Ons het met die meeste van ons kliënte uitgebreide betalingsvoorwaardes beding afhangende van hul grootte en hul likiditeitbeperkinge, en bied afslag aan diegene wat kan betaal om hulle aan te spoor om dit te doen.”

Die groep het ook van sy kapitaalbestedingsprojekte uitgestel.

Distell is ook in die proses om moontlik nog twee van sy wynplase te verkoop en sal einde Augustus, wanneer sy resultate vir die boekjaar uitgereik word, meer inligting bekend maak.

Meer oor:  Distell  |  Drankverkope  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Vlak 4  |  Drankverbod  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.