Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Distell sit met te veel wyn weens inperking

Die drankgroep Distell het in sy boekjaar tot einde Junie sowat ’n kwart minder drank in Suid-Afrika verkoop as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

k
Skink maar lekker - wyn word dalk goedkoper weens ’n ooraanbod op die mark. Foto: Pixabay

Die maatskappy het in ’n handelsoorsig gesê sedert die begin van die boekjaar tot 19 Junie vanjaar het sy inkomste met 18% en sy volume verkope met 25,6% plaaslik gedaal.

Richard Rushton, besturende direkteur van Distell, sê dit wys hoe ernstig die uitwerking van die verbod op verkope tydens ’n gedeelte van die staat van inperking op die plaaslike drankbedryf was.

Uitvoer daal ook

Bedrywighede in Botswana, Lesotho, Namibië en Eswatini is ook benadeel weens die verbod op verkope in sekere lande. Meer as 50% van die inkomste uit dié lande kom van Namibië waar daar ’n verlengde verbod op verkope was. In geheel het die inkomste en volumes in bostaande lande met 14,9% en 20% gedaal.

Sedert vlak 4 van die inperking aan die begin van Mei aangebreek het en die regulasies oor uitvoer verslap is, kon Distell begin om bestellings van R440 miljoen te verwerk. Net sowat die helfte van die bestellings kon egter gelewer word weens die Kaapse hawe wat nie teen volle kapasiteit bedrywig was nie en oorsese klante wat gekanselleer het weens die vertragings hier.

Die beperkte uitvoer van Amarula het ook die inkomste en volume van verkope oorsee met onderskeidelik 10% en 15% laat daal.

Gegewe die inperkingsregulasies oor internasionale reise, is die verkope op lughawens oorsee ook erg benadeel.

In geheel het die groep se inkomste met 15% gedaal en volumes met 23%.

Vyf pakhuise in Junie gesluit

Distell het tot dusver 58 werknemers wat Covid-19 opgedoen het.

Dit het ook tot gevolg gehad dat vyf van sy pakhuise in Junie gesluit moes word, maar almal het intussen heropen en is weer bedrywig.

Altesaam 176 500 liter alkoholgebaseerde reinigingsmiddel is aan die regering, nieregeringsorganisasies, sjebeens en klante geskenk.

Surplus wyn

Volgens Rushton het die vraag na drank aanvanklik skerp gespring nadat die verbod op die verkoop van drank begin Junie opgehef is.

Veral brandewyn het goed gevaar.

Die verkope was beter as wat konserwatief beraam is, maar was laer as verlede jaar dieselfde tyd.

Hy sê die vraag van oorsee is ook problematies weens die kopseer om produkte deur die hawe te kry. Omdat Suid-Afrikaanse produkte vir lank van die rakke af was oorsee, is dit moeilik om die plek terug te kry.

Op die aanbieding aan beleggers het Rushton aan beleggers gesê ’n surplus aan wyn word verwag. Dit gaan groot druk op pryse plaas.

Hy sê Distell het ’n “ambisieuse plan” met sy produkte. “Maar ons kan nie op ons eie die probleem met vraag en ’n surplus aan voorraad aanpak nie.”

Volgens hom word daar met die regering geskakel om die wyn vir ander doeleindes aan te wend en die alkohol te distilleer vir ander vorme van gebruik.

Distell het al sedert die staat van inperking R21 miljoen se inkomste verdien uit die verkoop van etanol en reinigingsmiddel wat met alkohol vervaardig word.

Sedert verkope begin Junie weer toegelaat is, is daar steeds onsekerheid, soos die voorsiening wat gemaak sal moet word vir moontlike kredietverliese wanneer klante nie kan betaal nie weens die ekonomiese toestande wat heers, en die moontlike afskrywing van voorraad.

Syfers

Die groep verwag steeds – soos in Mei in ’n handelsverklaring gesê is – dat sy wins per aandeel tussen 45% en 64% laer gaan wees. Sy kernwins per aandeel gaan tussen 60% en 80% laer wees.

Rushton sê digitalisering en doeltreffendheid wat daarmee verbeter word, sal in die komende boekjaar voordele ten opsigte van kostebesparing meebring.

Volgens hom word daar reeds met die vakbonde geskakel om meer buigsame werksure vir personeel in te stel. Hy het beloof hulle sal poog om sover moontlik poste te bewaar.

Meer oor:  Distell  |  Drankverkope  |  Brandewyn  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.