Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dit gaan rof by POF
Die Padongelukfonds (POF) het Vrydag bekendgemaak hy moes die uitbetaling van eise staak omdat die balju namens ’n paar prokureursfirmas op sy bankrekening beslag gelê het.

Dit is nie die eerste keer dat prokureursfirmas die afgelope maande op die Padongelukfonds (POF) se bankrekening beslag moet lê omdat ’n hofbevel vir die betaling van kliënte se eise nie nagekom is nie.

Yolande van Biljon, bedryfshoof van die POF, sê dit het al in die verlede gebeur, maar “gebeur meer gereeld die afgelope vyf tot ses maande”.

Die POF het Vrydag in ’n mediaverklaring bekendgemaak hy moes die uitbetaling van eise staak omdat die balju namens ’n paar prokureursfirmas op sy bankrekening beslag gelê het.

Dr. Eugene Watson, uitvoerende hoof, het gesê die POF het al amper drie jaar lank ernstige kontantvloeiprobleme wat veroorsaak dat die fonds nooit sy eise betyds kan betaal nie.

“Die beslaglegging, verwydering en verkoop van die POF se bates is ongelukkig nou ’n werklikheid.”

Terwyl dit nie ongewoon is dat prokureursfirmas op die POF se bates beslag lê nie, is daar nou ’n paar “taamlik aggressiewe prokureursfirmas” wat begin het om op sy bankrekening beslag te lê, sê hy.

Die kontantvloeiprobleme kom ondanks die skerp verhoging van 50c per liter in die brandstofheffing waarvoor motoriste in 2014 moes opdok.

Watson het gekla dat dié prokureurs nou sy betalingsplan ontwrig wat hy twee jaar gelede geïmplementeer het omdat hulle prioriteit bo ander wil kry.

Krediteure nie betaal

Van Biljon het bereken die betalings wat die POF in die afgelope week moes gedoen het, beloop R500 miljoen.

Daarvan is sowat 7% vir bedryfskrediteure en salarisse aan die versorgers van eisers.  Die res is eise wat betaal moes word.

Sy het gesê hulle kry tipies weer toegang tot hul bankrekeninge sodra die regsfirma betaal is en ’n betalingsbewys deur die balju ontvang is. Dit het reeds op 27 Januarie gebeur.

Sy het Vrydagmiddag (3 Februarie) gesê hulle hoop om vroeg in die nuwe week weer toegang tot hul bankrekeninge te kry.

Sy wou nie die name gee van die prokureursfirmas of die datums waarop die hofbevele uitgereik is nie en wou ook nie sê in watter howe die hofbevele uitgereik is nie.

Die verhoging in die brandstofheffing het die geld wat die POF maandeliks kry, tot R3 miljard verhoog.

Volgens Watson word dit elke maand opgebruik om amper 30 000 eise te betaal. Volgens hom skuld die POF daarna nog elke maand sowat R8,2 miljard wat aan sowat 5 200 krediteure betaal moet word.

Maandeliks word meer as 1 000 lasbriewe vir eksekusie van balju’s ontvang. Volgens hom is meer as 3 000 lasbriewe nog in die ry vir betaling.

Oorsake van die probleem

Prof. Hennie Klopper, ’n emeritusprofessor van die Universiteit van Pretoria, wat vir twee dekades daar oor die POF klas gegee het, sê die probleem het ’n tweërlei oorsaak.

Vir eers is daar die internasionaal onaanvaarbaar hoë ongeluksyfer waarvan die regering sonder sukses iets probeer doen en ten tweede is daar die ondoeltreffende administrasie van die POF.

Van Biljon sê egter dít is ’n persepsie oor die POF waarmee sy nie saamstem nie. Onder die huidige bestuur is daar nie wanbestuur nie en die POF kry al vir jare skoon oudits.

Klopper, wat ook die leier van die Association for the Protection of Road Accident Victims se oplossingstaakspan is, sê die POF se probleme hou nie met sy wetgewing verband soos wat Watson gereeld te kenne gee.

“In ’n neutedop is dit meer ’n kwessie van die administrasie wat te kort skiet en die gevolglike vermorsing van geld in die administrasie.”

In die verlede het daar ook tekorte in die fonds ontstaan, maar dit was aktuariële tekorte.

“Dit is die eerste keer dat die tekort op die lopende begroting van die POF daartoe lei dat hy nie sy eise kan betaal nie.”

Volgens hom het dit die afgelope twee tot drie jaar ontstaan.

“Dit is ondanks die meer as 50c verhoging in die padfondsheffing van 1 Mei 2014 wat hulle ’n inkomste van R10 miljard per jaar ekstra gegee het.

“Dit is die grootste toename in die brandstofheffing nóg.”

Voorheen was motoriste gewoond aan ’n verhoging in die brandstofheffing in die orde van 5c per liter.

Volgens hom is die POF se voordele in 2008 ingeperk juis omdat die fonds aangevoer het sy boeke klop nie.

“Ek kan nie verstaan hoe die fonds nou finansieel in die knyp kan wees as die regering die ongelukslagoffer se voordele inperk omdat die POF kwansuis dit nie kan bekostig nie. Dit was veronderstel om vir hulle geld te spaar.”

Hy meen intern word ook te veel geld bestee.

Volgens hom is ’n voorbeeld hiervan Watson se vergoeding.

Ondoeltreffende administrasie

Klopper sê wat tipies gebeur as die hofrol geroep word, is dat die eisers en hul kundige getuies gereed is om te begin, maar die POF is nie gereed om die saak te verdedig nie.

“Dan word dit uitgestel op die koste van die fonds wat die getuiefooie van die kundiges insluit.”

“Die wet bevat bepalings wat vinnige skikking en litigasie aanmoedig en dit gebeur nie. Die gemiddelde afhandelingstyd vir eise teen die POF is amper 5 jaar.

“As die POF nie eise vinnig afhandel nie, sneeubal dit en die fonds raak finansieel toenemend in die moeilikheid.”

Hy sê die fonds is onder ’n grondwetlike verpligting om eise pro-aktief vinnig en effektief af te handel.

Die POF-wet bevat daarby bepalings wat bedoel is om die fonds in staat te stel om vroegtydig ’n aanbod aan ’n eiser te maak.

’n Ontleding wat Klopper van die hofrol van die hooggeregshof in Pretoria gedoen het, toon dat bykans 90% van die sake op die hofrol eise teen die POF is en dat van die eise gaan sowat 1% uiteindelik op verhoor.

Die 99% word almal geskik en kon heel waarskynlik sonder litigasie vroeër geskik gewees het.

Gedwing tot litigasie

Hy sê hy glo wat in die hooggeregshof aangaan, is ’n spieëlbeeld van wat in die landdroshowe gebeur.

Die gevolg van die POF se benadering tot die hantering van eise en litigasie, wat verskeie kere al in die howe skerp veroordeel is, is dat die organisasie se regskoste-rekening soos in sy jaarverslae aangegee word, van R2,3 miljard in 2008 tot bykans R6 miljard tans gestyg het.

Die verkwiste koste ten opsigte van die lasbriewe en laat betalings beloop R20 tot R25 miljoen per jaar.

“Aansienlike bedrae kan gespaar word as die eise hanteer en litigasie vermy word soos die POF-wet dit bedoel.”

Eisers raadop

Hy sê dit is nie die bedoeling van die wetgewing nie dat ’n padongelukslagoffer deur die optrede van die POF konstruktief in litigasie gedwing word, bykans vyf jaar moet wag om sy of haar eis afgehandel te kry, ’n hofbevel te bekom vir dit wat hom of haar toekom en “dan nog etlike maande moet wag vir die vergoeding waarvan sommige van sulke slagoffers totaal afhanklik is”.

“Miskien moet die beslaglegging van die POF se bankrekening teen hierdie agtergrond beoordeel word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.