Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dít is die twiet waarvoor Myeni glo R8 m. wil eis

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, sê sy wil die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) vir R8 miljoen dagvaar, maar van ’n dagvaarding is daar nog geen teken nie.

Outa se een twiet oor Dudu Myeni wat op 3 Oktober 2019 geplaas is. Foto: Twitter

Luidens ’n foto van hofdokumente gedateer 2 Desember 2019 wat op Twitter die ronde doen, dagvaar Myeni die organisasie oor ’n twiet wat op 3 Oktober geplaas is.

Sy beweer dit was lasterlik.

Sy wil ook hê die twiet moet verwyder word. Sy dring verder aan dat waar soortgelyke uitlatings oor haar gemaak word, van ander platforms verwyder moet word.

Adv. Stephanie Fick, hoof regsbeampte by Outa, het Woensdag in ’n e-pos aan Netwerk24 bevestig dat dié organisasie nog geen dagvaarding van haar ontvang het nie.

“Ons is baie verras om te hoor dat Myeni ons glo vir laster dagvaar,” sê sy.

“Die besonderhede is vaag omdat ons nog geen hofdokumente ontvang het nie. Die rede hoekom sy dagvaar en wat sy wil hê, is ook nie bekend nie.

“Ek dink die media weet meer as ons,” sê sy.

Die voorblad van Dudu Myeni se hofaansoek wat die ronde op Twitter doen. Foto: Twitter

Fick het vroeg Woensdagoggend in ’n onderhoud op die SAUK se Morning Live-program gesê die groot vraag is oor hoe ’n twiet wat twee maande gelede geplaas is, nou skielik tot ’n dagvaarding kan lei.

Fick sê in haar antwoord aan Netwerk24 dat sy “eerlikwaar nie sê watter twiet na bewering aanstootlik is nie. Ek kan net spekuleer.”

Luidens ’n gevorderde soektog op Twitter het Outa op 3 Oktober nege keer getwiet. In net drie van die nege word daar na die SAL en in net twee na Myeni op die naam verwys.

Die een twiet lui: “ ’n Herinnering van die skade wat #DuduMyeni by die #SAA veroorsaak het. Sy het ook diens gedoen op verskeie ander direksies insluitende #MhlathuzeWaterBoard. Dink aan die skade wat daar aangerig is. #Outa is die enigste burgerlike-aksie-organisasie wat haar verantwoordelik hou.”

In die ander twiet waar sy by die naam genoem word, sê Outa: “Die hofsaak begin Maandag 7 Oktober. As #DuduMyeni nie opdaag nie, kan die regter steeds in haar afwesigheid ’n uitspraak lewer (dit kan in ’n siviele saak gedoen word). So die hofsaak SAL plaasvind, met of sonder Myeni. Sy weet hiervan vir sowat twee jaar.”

Fick sê dit maak nie saak wat Myeni beweer nie, Outa sal steeds die geveg teen haar voortsit.

Outa en Myeni was juis Maandag in die hooggeregshof in Pretoria waar regter Ronel Tolmay twee aansoeke deur Myeni van die hand gewys het.

Dudu Myeni. Foto: City Press

Sy is nie toegelaat om haar pleidooi te verander óf om alle lede van die SAL se direksie wat ooit saam met haar diens gedoen het, by die saak in te sluit nie.

Outa en die SAL-vlieëniersvereniging het aansoek gedoen om Myeni as ’n misdadige direkteur te laat verklaar.

In Myeni se aansoek om Outa te verbied om deel van die hofsaak te wees, sal Tolmay op 12 Desember uitspraak lewer.

Fick sê Outa bly “opgewonde” oor die aansoek om Myeni as misdadige direkteur te laat verklaar en is “positief dat regter Tolmay op die 12de in ons guns sal beslis”.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Dud Myeni  |  Maatskappye  |  Outa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.