Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dit is hoekom Netcare pasiënte verloor

Die hospitaalgroep Netcare se wins is onder druk weens hospitaalnetwerke wat snel toeneem. Dit beteken ’n al hoe groter deel van mediesefondslede word tot sekere hospitale beperk – en mededinging vir dié pasiënte is kwaai.

Pasiënte op mediesefondsopsies wat minder kos, groei vinnig. Dit beïnvloed marges omdat hospitaalverblyf teen ’n laer prys vir dié opsies verskaf word.

Hospitaalnetwerke is ’n manier waarop mediese fondse koste probeer in toom hou en behels dat lede beplande operasies net in sekere hospitale mag laat doen.

Volgens Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitale in Suid-Afrika, het die bekendstelling van netwerke versnel.

Hy het gesê sowat 38% van mediese fondse se lede moet nou van netwerke gebruik maak.

Hy meen drie jaar gelede was dit sowat 16%.

  • In die halfjaar tot einde Maart het Netcare se inkomste met 5,6% tot R10,5 miljard gestyg, maar dit is uitsluitlik danksy die bydrae wat die psigiatriese hospitale van Akeso Clinics gelewer het.
  • Totale pasiëntdae het met 8,5% gestyg, maar dit is ook danksy Akeso, wat einde Maart verlede jaar verkry is. Die pasiëntdae in gewone hospitale het met 1% gedaal.
  • Netcare se bedryfswins het met net 0,9% tot R1,7 miljard gestyg.

Du Plessis het gesê die wins is onder druk weens ’n afname in die pasiëntdae in die gewone hospitale.

Boonop sien hulle ’n vinniger groei in pasiënte op mediesefondsopsies wat minder kos. Dit beïnvloed marges omdat hospitaalverblyf teen ’n laer prys vir dié opsies verskaf word.

Hy het gesê die beste voorbeeld daarvan is die Government Employees Medical Scheme (Gems) se Emerald Value-option of Keycare van Discovery Health Medical Scheme.

Die inkomste per pasiëntdag om dié rede met net 4,2% gestyg.

Netwerke

Die hospitaalgroep verwag sy winsmarges gaan vir die volle boekjaar ook weens dieselfde redes onder druk wees.

Netcare baklei saam met ander hospitaalgroepe, soos Mediclinic en Life Healthcare, vir ’n koek wat nie groter word nie omdat mediesefondslede nie toeneem nie.

Hy het gesê die groot rede vir die afname in pasiëntdae in hul gewone hospitale is omdat hulle nie weer die hoofverskaffer of soos hy dit noem “ankerhuurder” vir Polmed is nie. Van hul sowat 75 hospitale word net 16 in Polmed se netwerk gebruik.

Hy het gesê mediese fondse gebruik die hospitale wat ’n groter afslag gee. “Ons gee ook afslag, maar partykeer is daar van ons mededingers wat hoër afslag gee.”

Netcare het weer ’n groot netwerkkontrak van Gems gewen as die “ankerhuurder” vir sy Emerald Value-opsie.

Strenger

Die daling in pasiëntdae in sy gewone hospitale is ook toegeskryf aan die strenger gevallebestuur wat mediese fondse toepas, veral met die opname van mense vir respiratoriese probleme, soos met longontsteking.

Netcare het ook gesê sy pasiëntdae is ook beïnvloed deur minder buitelandse staatspasiënte wat aanvaar is vir behandeling. Volgens Netcare is dit Botswana en Swaziland se staatspasiënte wat hulle nie meer behandel nie omdat dié lande nie meer betaal nie. Dit hou ook met die verswakking in die ekonomie verband.

Voorheen het hulle laat betaal, maar nou gebeur dit glad nie meer nie.

Geestesiektes

Akeso Clinics se totale pasiëntdae het met meer as 20% gegroei. Die groei is ondersteun deur twee van sy hospitale wat middel 2017 en vroeg in 2018 geopen is.

Keith Gibson, finansiele direkteur, het gesê na verwagting is Akeso se gewone groei 10%.

Dit is toegeskryf aan die voortgesette sterk vraag na die behandeling vir psigiatriese siektes.

Du Plessis het dit toegeskryf aan die stigma wat kleiner is om vir ’n geestesiekte behandel te word.

Herstrukturering

Ingesluit in Netcare se koste die afgelope halfjaar is R56 miljoen vir herstrukturering.

Hy het gesê die art. 189-proses wat Netcare in Januarie aangekondig het, is afgehandel. Altesaam 486 mense is gekonsulteer, maar dit het meestal gehandel daaroor om werksure meer buigsaam te maak. Hy het verduidelik soos iemand wat in ’n apteek werk en voorheen nie op Saterdae gewerk het nie.

Daar was uiteindelik 110 afleggings waarvan 107 vrywillig was.

Hy sê net boekhouers, klerke, aptekers en finansiële mense is geraak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.