Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Dís Saica se probleem met Anoj Singh, Transnet

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) wil by Anoj Singh weet hoe die koste vir 1 064 lokomotiewe vir Transnet van R38,6 miljard tot R54,5 miljard kon gestyg het.

Singh was in 2013 die finansiële hoof van Transnet toe besluite oor dié kontrak geneem is.

Die omstrede Afro4000-lokomotiewe. Foto: Felix Dlangamandla

Hy is in Augustus 2015 na Eskom gesekondeer waar hy óók finansiële direkteur was. Singh het in Januarie 2018 uit dié pos bedank nadat hy reeds in September 2017 by dié staatsonderneming geskors is.

Saica beskuldig Singh daarvan dat hy, as geoktrooieerde rekenmeester, nie net nalatig opgetree het nie, maar ook doelbewus die direksie van Transnet mislei het om die duurder kontrakte goed te keur.

Saica het Woensdag met Singh se tugverhoor by die prokureurs Webber Wentzel se kantore in Sandton, Johannesburg, begin.

Die verhoor sal tot 15 November duur en uitsluitlik op Singh se gedrag by Transnet fokus. Saica sal later ’n datum bepaal om sy klagtes oor Singh se gedrag by Eskom aan ’n tugkomitee voor te lê.

Adv. Hamilton Maenetje, SC, wat Saica verteenwoordig, het met die aanvang van die verhoor verduidelik dat Singh besluit het om nie die verhoor persoonlik by te woon nie. Hy gaan glad nie daaraan deelneem nie en het ook gekies om geen regsverteenwoordiger na die verhoor te stuur nie.

Hy het ook gekies om geen regsverteenwoordiger na die verhoor te stuur nie.

Adv. Mohammed Chohan, SC, voorsitter van die tugkomitee het beslis die tugverhoor sal voortgaan. Omdat Singh besluit het om nie aan die proses deel te neem nie, is amptelik aanvaar dat hy skuld ontken op al die klagte.

Anoj Singh toe hy nog finansiële hoof van Transnet was. Foto: Lisa Hnatowicz

Die klagte teen Singh

Maenetje het Saica se klagte as volg uiteengesit:

1. Toe die sakeplan vir die verkryging van die 1 064 lokomotiewe oorspronklik aan Transnet se direksie voorgelê is, is begroot vir moontlike prysstygings weens wisselkoerse. Toe Singh die plan later voorlê om die styging van R15,6 miljard te motiveer, is beweer dat daar nooit vir wisselkoerse begroot is nie, en dat dit een van die redes is hoekom kontrakwaarde gestyg het.

Saica beweer Singh het die direksie doelbewus met dié bewering mislei om die groter kontrakwaarde te regverdig.

2. Selfs al sou Singh reg gewees het, en daar nie vir wisselkoerse begroot is nie, was hy as finansiële hoof nalatig deurdat hy dit nie in die eerste plek gedoen het nie.

3. Die manier waarop Singh te werk gegaan het om die styging te regverdig was ’n opsetlike wanvoorstelling van die feite.

4. Die redes vir die styging was vals óf daar is nie behoorlike redes vir die volle gedrag gegee nie.

5. Selfs al was die redes nie vals soos in klagte vier nie, het Singh nie alle inligting aan die direksie beskikbaar gestel nie.

6. Singh het opsetlik koste verander sodat die direksie nie agterkom dat die projek teen ’n verlies bedryf gaan word nie.

7. Singh het beweer daar sal ’n kostebesparing van tussen R6 miljard en R10 miljard wees wanneer die kontrak geteken word. Dit was nie die geval nie.

8. Die plan was van die begin om net twee vervaardigers te kontrakteer – een vir diesel- en een vir elektriese lokomotiewe. Singh het kontrakte gesluit met vier vervaardigers wat duurder was as waarvoor daar begroot is.

9. Singh het kontrakte verander sonder om die goedgekeurde prosesse te volg. Een voorbeeld hiervan is om vier pleks van twee vervaardigers aan te stel sonder om vooraf goedkeuring by die direksie te kry.

10. Singh het kontrakte met verskaffers gesluit sonder om vooraf die nodige goedkeuring by die direksie te kry.

11. Daar is besluit om twee van die vervaardigers se bedrywighede na Durban pleks van Gauteng te skuif. Singh het gesê daar was koste betrokke omdat hulle klaar begin het om bedrywighede in Gauteng op te stel. Hulle het egter nog niks gedoen nie, so daar was geen koste nie.

Francis Callard, ’n voormalige ingenieur wat by Transnet gewerk het en betrokke was by die oorspronklike opstel van die sakeplan vir nuwe lokomotiewe, is Saica se eerste getuie.

Callard het in Mei ook voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping oor dié transaksie getuig.

Saica het Singh reeds in Julie as lid geskors hangende die tugverhoor.

Meer oor:  Transnet  |  Eskom  |  Francis Callard  |  Anoj Singh  |  Staatsondernemings  |  Saica  |  Rekenmeesters  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.